Funksiebesonderhede
- Datum: Vrydag 28 November 2025
- Plek: Mooiplaats-terrein, Pretoria-Oos (klik hier vir die plekspeld)
- Tyd: 12:00-15:00
Kies een van die volgende sessies:
- Sessie een | vanaf 12:00
- Sessie twee | vanaf 13:00
- Sessie drie | vanaf 14:00
- Kleredrag: Gemaklike drag , gepas vir die bouperseel (hoed, sonskerm en gemaklike skoene word aanbeveel)
Daar sal kosstalletjies met kaartfasiliteite beskikbaar wees.
U word hartlik uitgenooi na die geskiedkundige sooispitopedag van die Akademia-kampusprojek in Pretoria.
Op 28 November 2025 vier ons die begin van ʼn splinternuwe en opwindende hoofstuk vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Die konstruksie van die onafhanklike hoëronderwysinstelling, Akademia, se wêreldklas studietuiste in die ooste van Pretoria skop in Januarie 2026 af. Hierdie kampus behels soveel méér as net indrukwekkende argitektuur en moderne leer- en leefruimtes. Dit is ʼn vormingstuiste vir duisende Fonties (Akademia-studente) waarbinne kennis, kultuur en verbondenheid hoogty sal vier.
As eiendomsbeleggingsmaatskappy neem Kanton trots die voortou in hierdie ontwikkeling en vestig só ʼn dinamiese toekomsgerigte vennootskap tussen kultuur en kapitaal. In kort: ʼn fisiese vergestalting van Kanton se bestaansrede om leefruimtes vir Afrikaans te skep waar selfstandigheid, vryheid en ʼn doelgerigte toekomsvisie beklemtoon word. Hierdie vennootskap tussen kultuur en kapitaal maak dit moontlik om die eerste fase van ʼn ontwikkeling van R1,8 miljard te begin – ʼn mylpaal wat die grondslag lê vir die toekomstige bou van verdere kampusse, skole en ander kulturele ruimtes.
Soos ʼn klipstapel wat trots deur die hande van vele toekomsbouers opgerig word, verteenwoordig hierdie projek ʼn grootse gemeenskapspoging. Elke steen, elke bydrae – groot en klein, asook elke daad van ondersteuning dra by om sáám iets groot te laat verrys. In kort: ʼn erfenis wat vir toekomsgeslagte hoop sal bied en die Afrikaanse universiteitswese sal laat gedy.

