Gepubliseer op: 7 Oktober 2025
Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Daar is ʼn belangrike waarheid wat vasgelê moet word alvorens daar met Akademia se alumni-gemeenskap oor leierskap en meer nog, leierskap vir die toekoms, gepraat word. Dít is dat die instelling se afgestudeerde studente hulself reeds as leiers onderskei.
Volgens die 2022-sensusopname beskik slegs 12,2% (4,6 miljoen Suid-Afrikaners) oor ʼn naskoolse kwalifikasie. Op die keper beskou het slegs 7% van diesulkes (2,1 miljoen uit die totale bevolkingsaanwas van 62 miljoen) ʼn graad verwerf. Gedagtig hieraan, bevind oud-Fonties hulself as’t ware in die voorste linie wat opleiding en leierskapspotensiaal betref.
Hierdie onderskeid posisioneer die instelling se gewaardeerde alumni as verskilmakers en impakspelers en daar rus daarom ʼn groot verwagting op hul skouers wat hul onderskeie gemeenskappe betref.
Die komplekse aard van leierskap
Om ʼn leier van die toekoms te beskryf is ʼn haas onmoontlike taak. Die rede hiervoor is dat die akademiese literatuur ʼn wye reeks teorieë vervat wat elkeen verskillende dimensies van leierskap beklemtoon. Prominente voorbeelde sluit onder meer in:
dienende en outentieke leierskapsteorieë wat etiese begronding en waardegedrewe gedrag beklemtoon.
Elkeen van bogenoemde teoretiese raamwerke beskryf egter slegs enkele aspekte van leierskap wat dit moeilik maak om by ʼn enkele, universele model uit te kom wat toegepas kan word om die aard van toekomstige leierskap te voorspel.
Om akademiese vooruitskattings oor die leierskap van die toekoms te maak, is ook nie so eenvoudig nie. Die rede hiervoor is dat leierskap nie verstaan kan word buite ʼn spesifieke tyd, plek en sosiale konteks nie. Leierskap word gevorm deur die geskiedenis en die gepaardgaande omstandighede. Só sal die digitale era byvoorbeeld klem lê op die veerkragtigheid van leiers, samewerking en globale verbintenisse. Hierteenoor het leierskap gedurende die industriële tydperk op beheer en doelmatigheid in die vervaardigingsonderneming gefokus. Wie weet wat kunsmatige intelligensie (KI) vir leierskap gaan beteken, veral met die oog op outentieke leierskap?
Swart swaan-gebeurtenisse en leierskapslesse uit die verlede
Ek begin my terugblik na die verlede met ʼn verwysing na swart swaan-gebeurtenis. Diesulke gebeurtenis beskryf ʼn situasie wat as ʼn onverwagse verrassing gebeur en gevolglik ʼn grootse impak het. Hierdie impak word egter dikwels eers terugskouend ten volle begryp.
Die swart swaan-metafoor is geskoei op die aanname dat daar juis nié swart swane bestaan het nie. In die tweede eeu na Christus het die digter Decimus Juvenalis die uitdrukking bekendgemaak: “… rara avis in terris nigroque simillama cygno” wat vrylik vertaal beteken: “… iets is so onmoontlik soos ʼn swart swaan”. Hierdie uitdrukking het gedy totdat die eerste Nederlandse ontdekkingsreisigers in 1697 onder leiding van Willem de Vlamingh swart swane tot almal se verbasing in Wes- Australië gesien het.
Moderne swart swaan-gebeurtenisse sluit onder andere in die era van die internet, die koms van selfone en slimfone, die val van die Twin Towers in 2001 en natuurlik die koronaviruspandemie. Kan jy raai wat die mees onlangse swart swaan-gebeurtenis is? As jy Chat GPT en kunsmatige intelligensie (KI) geraai het, is jy in die kol.
As dit kom by leierskapslesse, toon swart swaan-gebeurtenisse duidelik dat ons lewens én leierskap gevorm word deur sosiale omstandighede en die kontekste waarna ek hierbo verwys.
Neem die bekende generasieteorie as voorbeeld hiervan:
Die sogenaamde Alpha-generasie, wat ná 2013 gebore is, staan alombekend as die KI-generasie. Die wêreld wag met opgehoue asems op dié generasie en hul impak as leiers.
Die foto’s en stories van jou menswees
Tyd én konteks is daarom belangrik vir die vorming van elke generasie en die leiers wat opgelewer word. Jy kan hierdie vorming eerstehands sien as jy deur die foto’s en stories van jou eie lewe gaan.
Hierdie spesiale oomblikke vertel van mense en gebeure wat jou as mens en leier omvorm het. Dit vertel iets van die keuses wat jy al gemaak het en van die verhoudings wat jy koester. Jy word nie nét deur die groot, algemene swart swaan-gebeurtenisse en jou era gevorm nie, maar deur elke ding wat met jou in jou lewe gebeur.
Vier jou uniekheid en gepaardgaande leierskapsimpak
In ʼn veranderende wêreld met swart swaan-gebeure en nuwe ontwikkelinge en uitdagings, moet ons vashou aan die lesse van die verlede asook die foto’s en stories van ons menswees.
Kyk terug en sien die mense, verhoudings, netwerke, waardes en gemeenskappe raak waarin jy funksioneer en floreer. En weet: Die Here het jou hier geplant vir ʼn tyd soos hierdie.
Jou rol, as alumnus en leier, is gevorm deur jou eie konteks, die gebeurtenisse op jou lewenspad en die besluite wat jy tot nou toe geneem het. Die hier en nou is waar God jou spesiale talente gaan gebruik om ʼn verskil te maak. Doen alles met oorgawe sonder om skaam te wees en sonder om te kyk hoe iemand anders dit doen.
Die Here het nie vir Petrus met sy manmoedigheid, impulsiwiteit en passievolle oorgawe gemaak om soos Paulus te wees nie. Petrus was ʼn visserman wat Jode na Jesus gelei het en vissers van mense gemaak het. Paulus was ʼn geleerde met intense dryfkrag wat ʼn verloregaande heidense samelewing na Jesus moes lei. Unieke leiers van die nuwe testament met ʼn ewige impak op die Christendom.
Elkeen van ons is uniek. Ons foto’s en stories verskil.
Hoe lyk die leiers van die toekoms dan? ʼn Eenvoudige antwoord: Die leiers van die toekoms lyk soos JY!
*Hierdie meningstuk vloei voort uit ʼn praatjie wat Maritz tydens ʼn alumni-ontbytgeleentheid in Pretoria gelewer het.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.