Netiket: Let op jou maniere wanneer jy aanlyn kuier en kommunikeer

Gepubliseer op: 26 September 2025

Daar is ʼn ou bekende Afrikaanse gesegde wat lui: Met die hoed in die hand kom mens deur die hele land. Dit beteken eenvoudig dat hoflikheid en goeie maniere oraloor waardeer word. Hierdie gesegde is ook van toepassing vir die aanlyn wêreld waar, ondanks populêre ingesteldheid, goeie maniere óók hoog in aanvraag is.

Maar wat behels goeie maniere binne die aanlyn milieu? Volgens Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, ontsluit die Afrikaanse nuutskepping “netiket” die verwagte beleefde en professionele norme vir aanlyn kommunikasie – hetsy formeel of informeel. Dié term is afgelei van die Engelse woord “netiquette” en verwys in kort na goeie maniere, soos aangepas vir e-pos, sosiale media, kletsgroepe en forumgesprekke (om maar enkele voorbeelde van aanlyn interaksies te noem).

Die waarde van goeie aanlyn etiket

Volgens Coetzer kan ʼn persoon, deur gebruik te maak van weldeurdagte en bewese kommunikasienorme, verseker dat sy/haar aanlyn interaksies deur respek en deursigtigheid geken word. Die toepassing van hierdie riglyne help die verbruiker voorts om meer duidelik en verantwoordbaar te kommunikeer.

“Die manier waarop jy jouself binne die aanlyn omgewing handhaaf spreek boekdele oor jou karakter, en dien ook as ʼn spieël wat jou persoonlike handelsmerk betref. Dit maak daarom nie saak of jy ʼn student of ʼn jong werkende is nie, jou aanlyn kommunikasievaardighede – een meer nog jou ingesteldheid – kan help om jou te onderskei,” verduidelik Coetzer.

Praktiese wenke om in gedagte te hou

  • Wees ten alle tye beleefd

Dit is belangrik om te onthou dat die manier waarop jy kommunikeer ʼn invloed op ander het, óf dit nou jou uitsluitlike bedoeling is al dan nie. Coetzee se goue reël is: Hoe jy iets sê praat nét so hard as wat jy dit spreek. As jy iets nie in persoon vir iemand sal sê nie, moenie dit aanlyn skryf nie. Gedagtig hieraan is dit belangrik om nooit boodskappe te stuur wanneer jy kwaad is nie. Bly uit hierdie strik deur:

  • nie oormatig sensitief te wees nie;
  • nie op uitlokkende boodskappe te reageer nie; en
  • altyd rasioneel en professioneel op te tree as jy wel op ʼn plasing reageer.

  • Hou dit kort en kragtig

Wanneer jy ʼn plasing maak of ʼn aanlyn boodskap formuleer, hou dit so bondig en tot die punt as moontlik. Jy kan dit doen deur jou boodskap goed te deurdink, jou argumente logies te formuleer en dit chronologies voor te hou. Waak daarteen om ʼn vloedgolf woorde te gebruik om jou punt te staaf.

  • Gaan versigtig om met humor en sarkasme

Nie almal deel dieselfde sin vir humor nie. Maak seker dat jou gebruik van humor of sarkasme nie verwarring veroorsaak nie, en dalk verkeerd geïnterpreteer kan word nie. Sarkasme kan ook maklik as arrogansie gesien word, en jou as onbeskof laat voorkom. Hou jou kommunikasie altyd formeel en professioneel.

  • Let op jou taalgebruik

Hoe sien jou taaltuin daarna uit? Is dit ʼn lushof of oortrek van die onkruid? Goeie taalgebruik is ononderhandelbaar en daarom is dit belangrik om ten alle tye van goeie Afrikaans gebruik te maak. Ander taalgoggas waarvoor jy moet oppas, sluit in:

  • Om deurgaans van hoofletters gebruik te maak. In die aanlyn omgewing word dit gesien as skree.
  • Gaan omsigtig te werk met uitroeptekens. Dié oorbeklemtoning kan jou boodskap afwater en daarom as minder eg laat voorkom.
  • Moenie jou eie afkortings gebruik nie, en pasop vir sleng. Laasgenoemde het nie altyd ʼn ooreengekome gedeelde betekenis nie, én word meerdikwels in ʼn negatiewe lig beskou.
  • Indien jy twyfel oor die korrekte spelling van ʼn woord, raadpleeg ʼn aanlyn woordeboek of verwysingsgids.

  • Maak slim stylkeuses

Verseker dat jou kommunikasie formeel en professioneel bly, deur slim stylkeuses te maak wat die verpakking van jou boodskap betref. Coetzer verduidelik dat diesulke stylkeuses onder meer die keuse en konsekwente gebruik van lettertipe en -kleur insluit. Indien jy woorde wil beklemtoon, gebruik die kursieffunksie. En onthou: minder is inderdaad meer as dit kom by styl.

  • Gemorspos is gemors!

Vermy gemorspos. Gebruik ander, meer gepaste, forums om advertensies en nie-amptelike kommunikasie met ander te deel. Kettingbriewe word hierby ingesluit. Laasgenoemde is nie nét ʼn groot irritasie nie, maar is ook uiters onvanpas in ʼn professionele omgewing.

  • Handhaaf jouself só tydens aanlyn vergaderings
  • Toets die tegnologie vooraf deur seker te maak dat jy byvoorbeeld toegang het. Maak seker jy het ʼn plan B as daar tegniese uitdagings is.
  • Sluit betyds aan vir die vergadering of gesprek.
  • Wees altyd voorbereid, nie net wat die inhoud van die gesprek betref nie, maar óók wat jou persoonlike voorkoms betref.
  • Maak seker dat, indien jy van die kamerafunksie gebruik maak, die omgewing waarin jy jou bevind gepas en netjies is. Faktore wat in ag geneem moet word sluit in jou agtergrond, genoegsame lig en ʼn stil omgewing.
  • Fokus op die gesprek en waak daarteen om jouself met ander take te besig terwyl die vergadering plaasvind.
  • As jy iets wil sê maak gebruik van die handopsteekfunksie of die gesprekspaneel. Moenie ander sprekers of deelnemers in die rede val nie.

“Netiket is doodeenvoudig ʼn versinnebeelding van bedagsaamheid, hoflikheid, professionaliteit en goeie maniere. Sit jou beste (digitale) voetjie voor en onderskei jouself só as ʼn effektiewe aanlyn kommunikeerder,” moedig Coetzer aan.

Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, meen netiket is ʼn versinnebeelding van bedagsaamheid, hoflikheid, professionaliteit en goeie maniere.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.