BAHons (Filosofie)
Die doel van hierdie program is om honneursstudente toe te rus in filosofie met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede om goedgevormde, aanpasbare, pligsgetroue en vaardige filosofiesingeligte praktisyns te word wat ʼn kernfunksie in ʼn demografiese samelewing vervul binne veranderende plaaslike, globale, politieke, tegnologiese en sosiale kontekste. Die program rus studente verder toe met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese vaardighede om goedgevormde, aanpasbare, en vaardige filosofiesingeligte praktisyns te word wat ʼn kernfunksie in ʼn demokratiese samelewing binne ʼn veranderende plaaslike en globale wêreld vervul.
WAT KAN EK MET DIE BAHONS (FILOSOFIE)-PROGRAM DOEN?
Die beoogde vaardighede wat studente in hierdie nagraadse program sal verwerf, sal hulle in staat stel om ʼn verskeidenheid werk-, loopbaan- en leierskapsposisies in die uiteenlopende en veranderende politieke en sosio-ekonomiese landskappe te vul. Moontlike poste sluit die volgende in: staatsinstellings (as staatsamptenare); internasionale en multilaterale organisasies (as leiers, bestuurders, navorsers en/of ontleders); die korporatiewe sektor (as navorsers, ontleders en/of besluitnemers in byvoorbeeld multinasionale korporasies); die mediasektor (as joernaliste wat oor die samelewing verslag doen en interpreteer); en die burgerlike samelewingsektor (wat posisies as leiers, bestuurders, navorsers en/of ontleders in vakbonde, burgerregte-organisasies, tradisionele leierskapstrukture en gemeenskapsinstellings insluit). Wat poste in die akademie betref, kan studente verdere studie op ʼn meesters- en later ʼn doktorale vlak voortsit om akademici op die gebied van filosofie of enige verwante dissipline te word.
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
KWALIFISEER EK OM BAHONS (FILOSOFIE) TE STUDEER?
MODULES
In hierdie module word daar op ʼn sentrale probleem in die geskiedenis van filosofie gefokus, terwyl die maniere waarop hierdie probleem in moderne en kontemporêre filosofiese denke geïnterpreteer en betwis is, ondersoek. Meer spesifiek word daar in hierdie module die aard en betekenis van die metafisiese bestudeer binne die geskiedenis van filosofie; die kritiese uitdagings wat gerig is op metafisiese denke in moderne en postmoderne filosofie; en die uiteenlopende reaksies wat deur nuwe metafisiese denkers op hierdie kritiek gebied word. Besondere aandag word gegee aan die belangrikste verteenwoordigers van metafisiese denke in die Westerse tradisie (soos Plato, Aristoteles, Plotinus en Aquinas); die kritiese beoordeling van metafisiese denke in moderne filosofie (bv. Kant, Nietzsche, Heidegger en Levinas); en die herontdekking van metafisiese denke in kontemporêre filosofie (bv. DC Schindler, William Desmond). Die module word deurgaans geraam deur ʼn sentrale kwessie in kontemporêre filosofie: die probleem van nihilisme – dit wil sê die siening dat die werklikheid sonder metafisiese fondamente is – en die vraag of metafisiese denke vandag ʼn betekenisvolle reaksie op die filosofiese nihilisme van ons eie tyd kan artikuleer.
In hierdie module word fundamentele tekste in filosofie en die ontwikkeling van blywende filosofiese idees binne die Westerse tradisie ondersoek. Die primêre doel van hierdie module is om studente vertroud te maak met baanbrekende tekste van die Westerse filosofiese tradisie, en om dit te behandel as deel van ʼn intergenerasiedialoog. Deur interaksie met primêre tekste kry studente insig in filosofie as ʼn dissipline waarin kernkonsepte geleidelik ontvou, soos opeenvolgende denkers doelbewus bydra tot die verfyning van essensiële idees. ʼn Sekondêre doel van hierdie module is om die relevansie van hierdie primêre bronne vir kontemporêre filosofiese debatte te oorweeg. Deur die fundamentele outeurs binne die bestek van meer onlangse navorsing te kontekstualiseer, sal studente die blywende betekenis van die Westerse filosofiese tradisie en die toepaslikheid daarvan op hedendaagse filosofiese kwessies onderskei. In praktyk sal studente gelei word deur ʼn leser van primêre bronne en ʼn keuse van kontemporêre tekste. Daar sal van studente verwag word om noukeurige leeswerk te beoefen en hierdie tekste in ʼn groter denkraamwerk te integreer, waardeur hul begrip van die oorsprong, ontwikkeling en voortgesette relevansie van essensiële idees gedemonstreer kan word.
In hierdie module word daar op kontemporêre debatte in filosofie gefokus. Meer spesifiek word relativisme en historisme as hedendaagse kultureelpolitieke verskynsels ondersoek en die implikasies hiervan vir die filosofies-hermeneutiese vraag na die waarheid van die werklikheid word oorweeg. Wat beteken die waarheid van die werklikheid te midde van die kontemporêre en moderne ontbinding of vloeibaarmaking van die werklikheid (d.w.s. Zygmunt Bauman se idee van vloeibare moderniteit) – dit wil sê, te midde van die oortuiging dat die werklikheid self hiperveranderlik is? Besondere aandag word gegee aan filosofiese hermeneutiek en aan die manier waarop dit die vraag na die verhouding tussen waarheid, stabiliteit en verandering as ʼn sentrale tema binne filosofiese denke onder die loep neem. In hierdie module word daar gefokus op die voorlopers van filosofiese hermeneutiek (bv. Husserl, Heidegger en fenomenologie); filosofiese hermeneutiek self (bv. Gadamer en Ricoeur); radikale hermeneutiek (bv. Derrida en Caputo); en die opkomende skool van nuwe realistiese hermeneutiek (bv. Desmond). Deur hierdie module word studente uitgedaag om ʼn hermeneuties verantwoordelike weergawe van hulself te gee in verhouding tot strominge in kontemporêre denke wat óf die historisiteit van die werklikheid ontken (soos in fundamentalistiese hermeneutiek), óf die historisiteit van die werklikheid tot die status van hoogste norm verhef (soos in historistiese en relativistiese hermeneutiek).
In hierdie module, wat verband hou met die ander modules in die Filosofie-program, word daar op sleutelfilosofiese temas en figure wat in die Suid-Afrikaanse konteks na vore gekom het, gefokus. Die temas kan fenomenologie, reformatoriese filosofie, analitiese filosofie, liberalisme, Marxisme, kommunitarisme, kolonialisme en postkolonialisme, en pluralisme insluit, alles binne hul Suid-Afrikaanse kontekste. Die module het ten doel om studente toe te rus om filosofies te dink in die Suid-Afrikaanse konteks en met die vermoë om tussen besondere en universele kwessies te bemiddel. ʼn Verdere doel is om studente in staat te stel om hulself in die Suid-Afrikaanse filosofiese geskiedenis en konteks te plaas.
Hierdie module stel studente bekend aan verskeie aspekte van hoe om navorsing in filosofie te doen. Dit begin met verskeie perspektiewe op die verhouding tussen die geesteswetenskappe en die wetenskappe deur onderwerpe soos empirisme, positivisme, historisme en rasionalisme te oorweeg, sowel as niereduksionistiese benaderings. Studente word vertroud gemaak met die betekenis en omvang van wetenskap, en die wetenskaplike metode, en verskeie sienings of opvattings van wetenskap in die filosofie van wetenskap wat navorsing beïnvloed. Kritiese denke oor die aard, praktyk en nut van wetenskap, die akademiese gemeenskap en navorsing in die algemeen word in hierdie module gestimuleer. Die module sluit af met ʼn besinning oor die skryfproses van navorsingsopstelle in filosofie, wat teorie en praktyk bymekaarbring.
Die doel van hierdie module is om studente te lei in die skryf van ʼn kort navorsingsopstel oor ʼn filosofiese onderwerp van hul keuse. In hierdie module sal studente hul vermoë ontwikkel en verfyn om navorsingsvrae te identifiseer en te artikuleer, met primêre tekste en relevante akademiese literatuur om te gaan, en samehangende, goed ondersteunde argumente te konstrueer. Die projek het ook ten doel om vaardighede te kweek in die beplanning, strukturering en aanbieding van komplekse idees op ʼn sistematiese en akademies streng wyse.
ANDER INLIGTING
Die minimum tydsduur vir die program is een jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is drie jaar.
- ʼn Toepaslike baccalaureusgraad met Filosofie of ʼn direk verwante studierigting as hoofvak/spesialiseringsrigting sal as toelatingsvereiste dien.
- ʼn Gemiddeld van 65% in filosofie of ʼn verwante dissipline op derdejaarsvlak (NKR-vlak 7) word vereis.
Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.
Handboeklyste word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
DOEN NOU AANSOEK OM ‘N BAHONS (FILOSOFIE)-GRAAD TE STUDEER

