Gepubliseer op: 24 September 2025
Geskryf deur Henk Schalekamp, voorsitter: Akademia-direksie
Die vroeë strewe na hoër onderwys
Die strewe om ʼn hoër onderwysaanbod te vestig en uit te bou het reeds in die 19de eeu uit die Afrikaanse kultuurgemeenskap gestalte begin kry. Vanuit dié gemeenskap was daar ʼn duidelike roeping om ʼn taalgemeenskap te vestig wat sy eie kennis kon ontwikkel, oordra en bewaar. Dit het bygedra tot die vestiging van die Universiteit van Stellenbosch (US), die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en later die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Hierdie strewe was nie bloot akademies van aard nie – dit was ʼn grootse gemeenskaplike bouprojek vir die toekoms. Universiteite het ontstaan omdat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe verstaan het dat ʼn volk wat homself (in taal en kultuur) in die hoër onderwys vestig, die vermoë sal kan ontwikkel om sy eie leiers, wetenskaplikes, onderwysers, regsgeleerdes en entrepreneurs op te lei.
Die wortels van ʼn eie taal
Die wortels van moedertaalonderrig kom selfs ʼn langer pad. Ten tyde van die besluit om ʼn teologiese skool vir die Gereformeerde Kerke in 1869 in Burgersdorp te stig, was die strewe reeds daar om ʼn Christelike universiteit te ontwikkel, kompleet met die daarstelling van ʼn literariese departement ter ondersteuning van ander beroepe, soos byvoorbeeld die onderwys. Die letterkundige vereniging was dan ook die eerste studentevereniging, en nadat JD du Toit (Totius) in 1899 die medalje vir die beste gedig ontvang het, is die ideaal van ʼn eie taal en letterkunde bevestig. ʼn Eie taal, ʼn eie digter, en gevolglik ʼn eie stem.
ʼn Tradisie van volhoubare gemeenskapsontwikkeling
Die hoëronderwystradisie is gebore uit die besef dat volhoubare gemeenskapsontwikkeling nie van buite af opgelê kan word nie, maar van binne af moet posvat en ontwikkel. ʼn Universiteit in jou eie taal is ʼn spilpunt waar kennis, waardes en identiteit saamvloei – ʼn plek waar nuwe geslagte voorberei word om die uitdagings van hul tyd moedig aan te pak, sonder om hulself in die proses prys te gee.
Akademia se rol in vandag se tyd
Akademia sit vandag trots hierdie tradisie voort, en leef dit tegelykertyd op ʼn manier uit wat sin maak vir die hedendaagse tyd. Ons werk in ʼn wêreld waar meertaligheid, tegnologie en globalisering die speelveld drasties verander. Gevolglik lê die voortbestaan en sukses van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe daarin om akademiese uitnemendheid met moedertaalonderrig te kombineer, sodat studente in Afrikaans toegang tot wêreldklas opleiding, kennis en vaardighede kan hê.
Om ʼn toekoms in Afrikaans te bou
Akademia se bestaansrede en strewe lê daarin opgesluit om sterk en selfstandig in Afrikaans te kan deelneem aan die groter gesprekke van die wêreld. As ʼn hoëronderwysinstelling wil ons ʼn taalgemeenskap onderskraag wat lewenskragtig en volhoubaar is – nie nét vir die hier en nou nie, maar ook vir die geslagte wat kom. Daarom is Akademia nie net nog ʼn hoëronderwysinstelling nie, maar eerder ʼn toekomsgedrewe gemeenskapsinstelling. Ons is verbind daartoe om programme te ontwikkel wat direk spreek tot die behoeftes van ons gemeenskap – van onderwys en regte tot sake en tegnologie – sodat studente met selfvertroue kan terugploeg in die samelewing.
Erfenisdag 2025
Op Erfenisdag vier Afrikaanssprekendes die pad wat ons tot hier gebring het – en bevestig ons opnuut ons roeping om, saam met die groter Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, ʼn toekoms te bou waarin Afrikaans se hoëronderwystradisie lewend, relevant en kragtig bly.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.