Derde Teologie en Filosofie-konferensie toegewy aan die Konsilie en Geloofsbelydenis van Nicea

Gepubliseer op: 24 Julie 2025

Akademia se NP van Wyk Louw-sentrum het op Maandag 21 Julie 2025 sy jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie op die instelling se Leriba-kampus in Pretoria aangebied. Dié konferensie, wat vanjaar vir die derde keer gehuldig is, is toegewy aan die Konsilie en Geloofsbelydenis van Nicea* wat vanjaar sy 1700ste bestaansjaar vier. Die konferensie is bygewoon deur verskeie predikante, pastore, akademici, studente en lede van die publiek.

Volgens dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, is die doel van dié jaarlikse konferensie om die noue samehang en spel tussen die teologie en die filosofie te herwin. Hy verduidelik dat in die lang en ryke geskiedenis van die Christelike geloof, teologie en filosofie as twee dissiplines gekoester word wat ondersteunend tot mekaar is. Hierdie wisselwerking kwyn egter in die moderne samelewing en daarom, by wyse van inisiatiewe soos die konferensie, word dié samehang opnuut belig deur kritieke bepeinsing en oop gesprekke.

“Vanjaar se konferensie verteenwoordig ʼn kritieke besinning oor nie nét dieperliggende teologiese kultuur nie, maar óók die krisis waarin die kerk homself bevind. Laasgenoemde identiteitskrisis is die gevolg van ʼn verlore historiese bewussyn in ʼn tyd waarin kerke al meer arm in tradisie is, en na populisme streef,” sê Maritz. Hy meen voorts dat die antwoord op dié tydskrisis ʼn terugkeer na die historiese bronne en ʼn klassieke Godsbeskouing is.

In die lig hiervan spreek Maritz die hoop uit dat die 2025-konferensie aan alle deelnemers die geleentheid gebied het om die waarhede van die verlede krities te bedink, opnuut bewus te word van die dieperliggende waarhede en hul waarde, én daar met ʼn gees van feesviering en toekomsgerigtheid aan dié verbondenheid gestalte gegee sal word.

Wat sprekers en aanbiedinge betref, het die konferensieprogram as volg daaruit gesien:

  • Nicea: ʼn Apokaliptiese bron vir ons apokaliptiese era? | Prof. Johann Rossouw
  • Nicea 325 – Die belangrikste mylpaal in die geskiedenis van die kerk van Christus: ʼn Onbekende baken, ʼn bekende geloof | Dr. Victor d’Assonville
  • Sola Fide of Solum Imperium? ʼn Kritiese herwaardering van die Niceaanse Geloofsbelydenis as teologiese kontranarratief | Dr. Martin Slabbert
  • Nicea en kontinuïteit: Oor vernuwing van die Triniteitsleër vanuit die Woord en Tradisie | Prof. Alwyn Swanepoel
  • Nicea: ʼn Christelike Belydenis of ʼn heidense afdwaling? | Ds. Danie Malan
  • Contra Mundum: Die relevansie van Athanasius se Apologie teen die Ariane in Verdediging van die Niceaanse Ortodoksie | Karnu van Heerden

“Die konferensie is elke jaar ʼn hoogtepunt op die sentrum se kalender, en die geleentheid spreek tot die instelling se karakter as ʼn hoëronderwystuiste wat dit ten doel het om denke én die hart aan te raak en te vorm,” sluit Maritz af.

*Die Niceense Geloofsbelydenis is die oudste, algemeenerkende belydenis van die Christendom. Méér nóg, dit verwoord nie slegs die besluite van die eerste ekumeniese konsilie wat in die jaar 325 in Nicea gehou is nie, maar vervat óók die byvoegings en herbewoordings wat tydens die tweede ekumeniese konsilie in 318 n.C. in Konstantinopel (vandag Istanbul) gemaak is.

Die sprekers tydens vanjaar se Teologie en Filosofie-konferensie, soos aangebied deur Akademia se NP van Wyk Louw-sentrum, was van links: prof. Alwyn Swanepoel, dr. Martin Slabbert, dr. Victor d’Assonville, prof. Johann Rossouw, Karnu van Heerden, ds. Danie Malan en dr. Daniël Maritz.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.