Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Ontwikkel só jou sakevaardighede

Gepubliseer op: 3 Julie 2025

In ʼn voortdurend veranderende besigheidsomgewing is dit belangrik om jouself na behore toe te rus met kennis en vaardighede om nie nét veerkragtig op verandering te kan reageer nie, maar óók om jouself – en jou besigheid, toekomsfiks van ander te onderskei. In die lig hiervan bied Akademia eersdaags weer die gewilde Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleenthede aan. Dié geleentheid het in 2024 die lig gesien en help besigheidslui om ʼn behoorlike greep op nuwe tendense, tegnologie en beste praktyke in die besigheidsomgewing te kry en só aanpasbaar en mededingend te funksioneer.

Indien jy jouself in die Wes-Kaap óf die sentrale binneland bevind, teken gerus die volgende datums aan:

  • Vrydag 11 Julie, Bellville | 09:00 tot 15:00 | Conference on 12th Avenue (h.v. Durbanweg en Twaalfdelaan)
  • Dinsdag 15 Julie, Bloemfontein | 08:0 tot 15:00 | Akademia se Bloemfontein-sentrum (Koppieweg 1, The Towers-winkelsentrum, Langenhovenpark)

Ten tye van dié geleentheid sal Akademia-dosente, Salomien Boshoff en Johann Smith, onderskeidelik fokus op die inskerp van bemarkingsbeginsels en die opskerp van innovasievaardighede. Die koste beloop R350 per persoon, en geregistreerde lede van die AfriForum Sakenetwerk kan die sessies gratis bywoon.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, het hierdie werkswinkels en netwerksessie dit ten doel om nie net belangstellendes met nuwe en bykomende vaardighede toe te rus nie, maar ook om opnuut energie en dinamika te ontsluit en só sakevernuf na nuwe hoogtes te voer. “Doen jouself, jou besigheid én jou span ʼn guns en kom leer by die kenners terwyl jy terselfdertyd die geleentheid het om met ander besigheidslui skouers te skuur, jou professionele netwerk uit te brei én as ʼn impakmaker in jou gemeenskap die voortou te neem,” sê Swanepoel. Sy voeg by dat hierdie unieke platform nie nét waarde tot gevestigde besigheidslui sal voeg nie, maar ook ideaal is vir entrepreneurs wat ʼn onderneming wil begin óf diegene wat belangstel in bemarking en kreatiewe vernuwing.

Volgens Swanepoel is daar verskeie redes waarom besigheidspersone en entrepreneurs voortdurend hul sakevaardighede moet verskerp. Hierdie redes sluit onder meer in:

  • Aanpassing by verandering

Die sakewêreld verander voortdurend – nuwe tegnologieë, markneigings en wetgewing ontstaan gereeld. Deur jou vaardighede op te skerp, bly jy relevant asook voorbereid op hierdie veranderinge.

  • Verbeterde besluitneming

Sterker vaardighede in areas soos finansies, bemarking sowel as strategie help jou om ingeligte en doeltreffende besluite te neem wat jou besigheid kan laat groei of jou loopbaan kan bevorder.

  • Mededingendheid

Om te oorleef en uit te blink in ʼn mededingende mark, moet jy jouself onderskei. Deurlopende vaardigheidsontwikkeling help jou om ʼn voorsprong te behou bo ander.

  • Persoonlike en professionele groei

Wanneer jy jou sakevaardighede verbeter, stel dit jou in staat om nuwe geleenthede te identifiseer, beter te innoveer en jou span meer effektief te lei – wat alles tot groei kan lei.

  • Meer doeltreffende leierskap en spanbestuur

Goeie sakevaardighede verbeter jou vermoë om ʼn span te motiveer, konflik te bestuur, en produktiwiteit te verhoog.

  • Doelgerigte aanpassing by tegnologiese vooruitgang

Digitale vaardighede soos data-analise, aanlyn bemarking en outomatisering raak al hoe belangriker. Deur voortdurend te leer, bly jy op hoogte van hierdie vooruitgang.

Indien daar enige verdere vrae is, stuur gerus ʼn e-pos na nikkien@akademia.ac.za. Koop jou kaartjie hier en verskerp jou sakevernuf terwyl jy nuwe professionele netwerke smee.

Salomien Boshoff en Johann Smith, beide dosente in Bestuurswetenskappe by Akademia, sal tydens die gewilde Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleenthede deelnemers touwys maak in bemarking en innovasie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.