ʼn Ekonomie in ʼn diepe winterslaap: Só kan ʼn fokus op die aanbodkant groei stimuleer

Gepubliseer op: 28 Mei 2025

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, senior dosent in Ekonomie en Internasionale Handel aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie verkeer in ʼn diep winterslaap, ondanks gróót potensiaal en mildelike hulpbronne. Ten spyte van sy huidige staat van hibernasie het die ekonomie die vermoë om met méér as vyf persent te groei, maar sukkel hy in onlangse jare om sy kop met ʼn skamele twee persent te lig. 

Wêreldwyd is daar ʼn beweging om méér aandag aan die aanbodkant van ekonomieë te skenk. Hierdie tendens het egter nóg nie plaaslik posgevat nie, en word dié aspek reeds vir etlike jare geïgnoreer – met noodlottige ekonomiese gevolge. Die realiteit is dat die land beswaarlik só kan voortgaan in die lig van die ingrypende maatreëls wat internasionale handelsvennote daarstel om juis die aanbodkant van die ekonomie te stimuleer. Uit die uitdagings van die dag is dit duidelik dat die vraagkant van die ekonomie nie voldoende is om groei aan te wakker nie en dat daadwerklike ingryping nodig is. Ongelukkig neem dit veel langer en vereis dit meer doelgerigte beleidsoptrede om die aanbodkant te stimuleer. Die resultate van diesulke optrede kan etlike jare neem om ʼn gewenste reaksie te toon en om dié rede word dit as ʼn ongewilde benadering beskou.

Desondanks hierdie siening is ʼn fokus op die aanbodkant juis gepas omdat dit hoër ekonomiese groei tot gevolg het, wat gepaardgaan met laer inflasie. Laasgenoemde is ʼn nommerpas oplossing in ʼn ekonomiese omgewing, soos dié van Suid-Afrika, waar potensiële stagflasie* ʼn werklikheid is.

Die wittebroodsfase van die regering van nasionale eenheid (RNE) is verby en nou moet daar hard gewerk word. Hierdie vestigingstyd was ideaal om ekonomiese beleid te hersien, iets wat egter nie gebeur het nie. Die gevolg hiervan is dat die regering voortgegaan het om steeds verdere skade aan die ekonomie te berokken.

Die volgende ontwikkelingsmaatreëls is van kardinale belang vir die uitbouing van die mikro-ekonomie in terme van beide produksie sowel as besteding (en moes reeds intensief aangespreek gewees het):

  • Die aanwakker van investering
  • Vermindering van logistieke probleme en vraghantering wat lughawens, hawens, spoor- en padvervoer betref
  • Die aanspreek van verkrummelende infrastruktuur
  • Verbeterde elektrisiteitsvoorsiening
  • Alternatiewe vir die huidige hoë koste van internettoegang
  • Die drastiese hersiening van handel- en nywerheidsbeleid ten einde nuwe uitvoermarkte te ontwikkel. Terselfdertyd moet daar verbeterde ondersteuning aan besighede gebied word wat uitvoere bevorder terwyl daar kreatief nagedink moet word oor uitvoersones, geskikte uitvoermarkte en ʼn meer effektiewe uitvoerbedryf
  • Doeltreffende onderwys en opleiding ten einde onder meer geletterdheid te bevorder
  • Hersiene arbeid en rassewetgewing om effektiwiteit in die plaaslike werksmark te bevorder met ingedagte dat ontwikkelde lande soos Suid-Afrika meer buigsame arbeidsregulering vereis
  • ʼn Entrepreneurskap- én privaatsektorfokus
  • Vernuwe uitkyk op ontwikkelingsfinansiering (ingesluit oorbruggingsfinansiering) veral met betrekking tot seisoenale boerderybedrywighede
  • Verbeterde voedselsekerheid deur onder meer die bestaande waterkrisis die hoof te bied
  • Die ontwikkeling van die platteland
  • Veiligheid en private eiendomsreg moet gewaarborg word en misdaadsindikate moet aan die kaak gestel word
  • Die aanspreek van Gryslys-aspekte (20 van die 22 is reeds aangespreek)

Die begrotingsdebakel en die RNE

Intussen is wetgewing links en regs verander en aangepas en die impak hiervan is eers werklik tydens die begrotingsrede – toe dit duidelik word dat die voorgestelde begroting ʼn ieder en ʼn elk se sak gaan raak – besef. Hiermee saam moet verdere armoede ten alle koste vermy word. Die gepaardgaande chaos en onsekerheid rondom die begroting is ʼn direkte uitvloeisel van die RNE se gebrekkige optrede tot op hede.

Ná die eerste begroting en die voorgestelde 200 basispunte verhoging in BTW, is die tafel gedek vir selfs nóg meer onstuimigheid met betrekking tot die opvolgbegroting wat op 12 Maart gelewer is. Tydens dié begrotingsrede is ʼn 50 basispunt verhoging in BTW óók dienooreenkomstig verwerp en het die staatspresident op 24 April aangekondig dat BTW onveranderd op vyftien persent sal bly. ʼn Derde begroting is op 21 Mei ingedien en het  marginale verbeteringe vervat.  Om die verhoging van BTW met ʼn verhoogde brandstofheffing te vervang is kosmeties en die broodnodige verlaging in staatsbesteding is nie aangespreek nie.

Dit is van kardinale belang dat die RNE ʼn ekonomiese beleid sal saamstel wat groei sal bevorder ten einde probleme, soos ervaar tydens die begrotingsdebakel, aan te spreek. In die lig hiervan moet ekonomiese hervorming aandag geniet om produktiwiteit te verbeter, privaatbeleggings te stimuleer én langtermyn groei te bevorder. Dit word voorsien dat daar tydens die voorlegging van die mediumtermynbegroting in Oktober ʼn beleidsbeplanningsraamwerk uiteengesit sal word om bogenoemde die hoof te bied. Hierna sal die fiskale beplanningskommissie daaraan gestalte kan gee.

In wese is ʼn begroting bloot die verskil tussen owerheidsuitgawes (wat so laag as moontlik behoort te wees) en inkomste (wat hoofsaaklik uit belasting verkry word). Dié berekening los die regering met ʼn tekort wat hoofsaaklik deur lenings gefinansier word. Groeiende staatskuld stuur die ekonomie egter na ʼn afgrond en verteenwoordig ʼn finansieringsnagmerrie wat met astronomiese hoë rentekoerse gepaardgaan. Op die keper beskou beteken dit dat die regering se besteding moet verklein en dan inkomste dienooreenkomstig vergroot moet word.

Die huidige verwagting is dat ekonomiese groei tussen een en een en ʼn half persent sal wees. Indien die ekonomie betekenisvol groei sal inkomste verhoog en sal werkskepping plaasvind wat die grondslag sal lê vir die potensiaal om weer teen vyf persent te kan groei. Om hierdie potensiaal te kan verwesenlik sal die staat moet kleiner word en die samewerking met die privaatsektor sal vergroot moet word. Terselfdertyd sal ʼn sterk strategiese nywerheidsbeleid nodig wees om investering asook uitvoere te stimuleer.

Alhoewel daar melding gemaak word van investering, en inisiatiewe om die bestaande strukturele probleme op te los, kan dit nie sonder die privaatsektor gedoen word nie. Hierbenewens neem besteding in die vorm van sosiale en maatskaplike besteding, rentekoste en salarisse aan staatsamptenare steeds die grootste gedeelte van die begroting in beslag.

Aanbodkantfokus om groei te stimuleer

Dit is noodsaaklik dat die RNE ʼn gesamentlike beleidsdokument opstel wat die ekonomie sal stimuleer. Om gestalte hieraan te gee behoort die Minister van Finansies tydens die volgende mediumtermynbegrotingsrede ʼn verbeterde fiskale raamwerk vir die volgende drie jaar saam te stel. Ten einde hierdie raamwerk in plek te kan stel sal beleid betyds aangepas moet word om gestalte te gee aan ʼn effektiewe beplanningsdokument vir die RNE se inkomste en uitgawes. Die oplossing is in wese eenvoudig: Verminder uitgawes en vermeerder inkomste.

Bogenoemde oplossing sal die druk van die land se groeiende staatskuld verminder. Vanweë die feit dat die staat nie alleen die vermoë het om aan die land se behoeftes te voldoen nie, is dit belangrik om die privaatsektor aan boord te kry én oneffektiewe staatsondernemings beter te bestuur. Navorsing wêreldwyd toon dat nuwe investering nodig is vir groei en nie net bloot die herbou van byvoorbeeld verkrummelende infrastruktuur nie. Hierdie gekombineerde benadering sal die impak van die vermenigvuldigingseffek soveel groter maak.

Die volgende aanbodkantbeleidsmaatreëls is tans (2025) in plek vir verskeie van Suid-Afrika se internasionale handelsvennote:

  • Argentinië

President Javier Milei het aanbodkant maatreëls ingestel om dié land se ekonomie te stabiliseer, te groei en inflasie onder beheer te kry. Ekonomiese groei het met meer as vyf persent toegeneem en inflasie verlaag vanaf bykans 300 persent in 2024 na ʼn geskatte drie tot vyf persent in 2025.

  • Engeland

Die Engelse premier, Keir Starmer, en die kansellier, Rachel Reeves, het aanbodkanthervorming toegepas ten einde produktiwiteit te verbeter, privatebeleggings te stimuleer en langtermyngroei te bevorder. Hierdie maatreëls vorm deel van ʼn breër strategie wat ekonomiese veiligheid verseker en veerkragtigheid beklemtoon. Sektore soos infrastruktuur, energie, nywerheidsbeleid, onderwys en opleiding asook internasionale handelsbeleid vorm deel van hierdie ommeswaai.

  • Die Verenigde State van Amerika

President Donald Trump implementeer verskeie aanbodkantmaatreëls om sodoende binnelandse produksie te stimuleer, regulasies te hervorm, energie afhanklikheid en internasionale handelsmoontlikhede te hersien. Sy sogenaamde MAGA (Make America Great Again)-veldtog is daarop gemik om ekonomiese groei by wyse van investering en uitvoere moontlik te maak.

  • Europese Unie (EU)

Oor die algemeen poog die EU om by wyse van aanbodkantmaatreëls sy mededingendheid te verbeter, energiesekerheid te beklemtoon en sy nywerheidsektor te versterk. Hierdie inisiatiewe spreek uitdagings soos internasionale handelsooreenkomste, energiekoste en die afhanklikheid van kritieke grondstowwe aan.

  • Pole

Die Poolse entrepreneur, Rafal Brzoka, is aangestel om dié land se sakebedrywighede te vereenvoudig en op hierdie manier investering te stimuleer. Die deregulering en verkleining van hierdie regeringstruktuur is voorts daarop gemik om ekonomiese groei te stimuleer.

Ons het ʼn fantastiese land en die potensiaal, soos reeds genoem, is daar om weer met selfs meer as vyf persent te groei mits daar meer gefokus word op die aanbodkant – en nie net bloot die vraagkant by wyse van die jaar-op-jaar-verhoging van owerheidsbesteding (sonder voldoende inkomste) nie. Deur óók na die aanbodkant te let kan daar óók vir toekomstige geslagte voorsiening gemaak word, maar dit sal van die RNE vereis om so spoedig moontlik uit die wegspringblokke te kom.

* Die term stagflasie verwys na ʼn kombinasie van die woord inflasie en stagnasie in die bruto binnelandse produk (BBP) en verwys na ʼn ekonomie wat beduidende inflasie, hoë werkloosheid en stadige óf geen ekonomiese groei ondervind nie.

Dr. Sandra Adendorff, senior dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia, is optimisties oor die land se potensiaal om ekonomies te groei. Hierdie groei is egter afhanklik van ʼn hernude fokus op die aanbodkant van die ekonomie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.