Search
Close this search box.

Groot broer en klein boetie: Ons drink alweer aan die agterste speen

Gepubliseer op: 21 April 2022

Akademia vier saam met die wêreld op 26 April Wêrelddag vir Intellektuele Goedere en daarom is dit goed om na die vrae oor hierdie saak te kyk. Wanneer kan daar op ʼn ander se intellektuele kapitaal inbreuk gemaak word, en wanneer moet intellektuele goedereregte gerespekteer word?

Wetenskaplikes het al vir dekades gewaarsku dat die mutasie of weerstandigheid van bakterieë en virusse weens klimaats- en aardverwarming, ander omgewingsfaktore en moontlike genetiese modifikasies ʼn groot risiko inhou. Die bakterieë wat in hospitale gevind word wat teen antibiotika weerstandig geword het, en die Covid-19-pandemie van die afgelope twee jaar is maar net die begin. Dit waardeur ons die afgelope twee jaar moes worstel dien as waarskuwingstekens.

Die Wêreldhandelsorganisasie (die WTO) se Trade-Related Aspects of Intellectual Property Rights Agreement (bekend as TRIPs) reguleer intellektuele goedereregte internasionaal. Ontwikkelde, groter en meer welaf lande staan die tydelike opskorting van hierdie internasionale handelsreëls teen, wat ander lande sou toelaat om op farmaseutiese maatskappye se intellektuele goedereregte, wat met die vervaardiging van vaksines en toegang tot mediese tegnologie wat met die Covid-19-virus verband hou (soos diagnostiese en terapeutiese toerusting), inbreuk te maak. Die behoud van die regshouers se monopolieë verhoed dat ontwikkelende lande nie self die vaksines kan vervaardig vir nasionale of regionale gebruik nie. Alhoewel die beskerming van ʼn persoon se intellektuele goedereregte universeel erkenning geniet onder verskeie grondwetlike en ander statutêre maatreëls, moet inbreukmaking daarop wat die openbare belang dien, daarteen afgeweeg word.

Ongeag die wêreldwye COVAX-projek wat ten doel het om vaksines wêreldwyd te voorsien, hou ryker lande surplus voorraad van die vaksines terug, en staan verder die verslapping van die beskerming van patentregte daarop teen. Die verskeie mutasies van die Covid-19-virus, (wat die hoërisiko-Delta-variant, en die Omicronvariant wat baie vinniger versprei, insluit) illustreer dat die virus die vermoë het om vinnig te muteer en in verskeie vorme voort te bestaan. Die huidige ramptoestand wat nou in 2022 in beide China en Singapoer afgekondig is, dien hiervan as voorbeeld. Om vinnig daarop te kan reageer behoort alle lande bemagtig te word om die inligting te hê om self vaksines te vervaardig om aan nasionale en streeksbehoeftes te voorsien.

Reeds in 2020 het Indië en Suid-Afrika ʼn verslapping van die bepalings van die TRIPs-ooreenkoms aangevra. Dit sou maatskappye wêreldwyd toegang gee tot Covid-19-produkte en -tegnologie sonder die risiko van aanspreeklikheid omdat daar op ʼn ander se intellektuelegoederegte inbreuk gemaak word. Die tydelike verslapping vir ʼn tydperk van drie jaar word deur 63 lande ondersteun, en deur meer as 100 ledestate van die WTO. Die VSA het aangedui dat hulle die tydelike afstanddoening van die intellektuele goedereregte sou ondersteun, maar nie dat hulle daarvoor sal bydra nie.

Die verslapping word ongelukkig ten sterkste teengestaan deur die Verenigde Koninkryk, die EU en spesifiek deur Duitsland en Switserland. Op die statistieke is vaksinering in Afrikalande en die globale suide 10% of minder, teenoor 70% of meer in ontwikkelde lande. Ander lande deel ook nie graag nie. Australië het byvoorbeeld buitensporige bestellings geplaas vir meer as tien inentingsdosisse per landsburger en die voorraad daarmee ten dele uitgeput.

Die selfsug wat hier sy kop uitsteek bloot vir die behoud van die finansiële voordele wat die reusemonopolieë van farmaseutiese maatskappe in Europa daaruit kry, slaan mens se asem weg. Artikel 30 van die TRIPS-ooreenkoms laat wel die beperking deur ʼn lidstaat van intellektuele goedereregte van patentreghouers in daardie land toe, maar dit mag slegs geskied mits dit nie op die patentreghouer se belange en op die redelike normale eksploitasie daarvan inbreuk maak nie. Die bal is dus volkome in die hande van die patentreghouer en die lidland se optrede hierin om die groter belange van die mensdom se universele reg op gesondheid en veiligheid, eerder as eie winsgerigtheid, in ag te neem.

Dr. Birgit Kuschke is ʼn dosent aan die Departement Regsgeleerdheid by Akademia en ʼn kenner op die gebied van Intellektuelegoederereg en Regsvergelyking.