By Akademia is Fonties trots, toekomsfiks én tuis in Afrikaans

Gepubliseer op: 3 Maart 2025

Geskryf deur dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake by Akademia.

Afrikaans as amptelike taal vier in 2025 sy eeufees. Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, skaar homself opgewonde by verskeie ander Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om dié merkwaardige hoogtepunt te vier. Een van die maniere waarop die instelling hierdie feesviering gestand doen, is by wyse van sy toegewyde jaartema: Afrikaans en tuis. Hierdie tematiese milieu sluit óók die viering van Akademia se bruisende studentelewe in.

Maar wat beteken dit vir Fonties* om werklik tuis te wees in Afrikaans?

Die woord “tuis” leen homself tot bekende uitdrukkings en idiome soos: “Oos, Wes, tuis bes”, “uit en tuis, by die huis” en “Met Jan Tuisbly se karretjie ry.” Op ʼn verbeeldingsvlug gaan kuier die woord “tuis” voorts saam om ʼn gesellige kombuistafel met die reuk van varsgebakte brood en tuisgemaakte botter en konfyt, knus kampvuurkuiers en stories saam met vriende en familie, die reuk van kaneelpannekoek en souskluitjies op reënerige dae.

Om tuis te wees, omvat soveel meer as ʼn enkele woord of uitdrukking. Dit is ook meer as ʼn plek of gebou. Om tuis te wees, is om in te pas en te wéét hier behoort ek tot iets méér en groter as ek self. Dit is deel van ʼn ontdekkingsreis op soek na betekenis en ʼn simboliese ruimte waar leef, leer, groei en ontwikkeling gekoester word.

Die opvoedkundige en ontwikkelingsielkundige prof. Kelly-Ann Allen bevestig in haar boek The psychology of belonging dat ʼn gevoel van inpas en behoort ʼn basiese behoefte van elke individu is en dat dit ʼn belangrike basisblok vir gesonde groei en ontwikkeling is. By Akademia word daarna gestreef om vir elke Fontie ʼn ruimte van tuiswees en behoort in Afrikaans te skep. Om tuis te wees as Fontie beteken:

  • om gehalte opleiding in Afrikaans te ontvang, om aan te hou vrae vra en om aktief deel van die oop gesprekke van die lewe te wees
  • om die geleentheid te kry om nie net akademiese opleiding in die klaskamer te verwerf nie, maar om ook as volronde jongmens, met denke en hart, geïntegreerd gevorm te word
  • om deel te wees van ʼn bruisende studentelewe waar pret en plesier, lewenslange vriendskappe en herinneringe gekoester en gevorm word
  • om deel te wees van ʼn groter gemeenskap wat gerig word deur die soeke na die ware, die goeie en die skone, die soeke na betekenis en ʼn roeping waarvolgens ʼn verskil in gemeenskappe gemaak word
  • dat ons vashou aan Psalm 23:6 wat lees: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae”

* Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake by Akademia, verduidelik dat die Afrikaanse studentelewe vir Fonties ʼn gevoel van tuiskoms en behoort skep. Terselfdertyd fasiliteer Afrikaans die kritiese en oop gesprekke wat studente voer met die oog op ʼn vrye toekoms.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.