Gepubliseer op: 3 Februarie 2025
Akademia kondig met trots die aanstelling van Daniel (Danie) Jansen van Vuuren, ʼn bewese geoktrooieerde rekenmeester met jare se ervaring binne die korporatiewe finansiële omgewing, as die instelling se hoof: Finansies en Infrastruktuur aan. Jansen van Vuuren se aanstelling is effektief vanaf 1 Februarie 2025.
Volgens Jansen van Vuuren, wat tot en met sy aanstelling as ʼn hoof- finansiële beampte in die Inligtings- en Kommunikasietegnologie (IKT)-bedryf was, verteenwoordig sy aansluiting by die instelling ʼn opwindende nuwe hoofstuk in sy loopbaanreis. “Ek sien baie daarna uit om Akademia my beroepstuiste te maak, en vereenselwig myself ten volle met die instelling se waardes en roepingsbesef. Om die waarheid te sê, kan ek nie wag om myself te besig in dié lewensveranderende omgewing nie,” sê Jansen van Vuuren. Hy voeg by dat min beroepslui werklik die geleentheid het om aktief daartoe by te dra om vorm aan die toekoms te gee.
Dit is gevolglik sy droom om voort te bou op die reeds bestaande kultuur van uitnemendheid en samewerking, en om die passie van elkeen van sy spanlede steeds verder te ontwikkel en te ontketen om só ʼn betekenisvolle impak te bewerk. Hiermee saam spreek hy die hoop uit dat die span selfs nóg méér voortgeset voortreflike ondersteuning sal bied in die verwesenliking van Akademia se droom om homself as ʼn wêreldklas kampus te vestig.
“Ons elkeen maak ʼn deel uit van ʼn veel groter prentjie, en deur die potensiaal van elke individu te ontsluit kan ons ʼn momentum verseker wat ons in staat sal stel om steeds hoër hoogtes te bereik,” verduidelik Jansen van Vuuren. Hierdie momentum sal, volgens Jansen van Vuuren, gekenmerk word aan gehalte, uitnemendheid en doeltreffendheid.
Ervaring is die beste leerskool
As dit kom by Jansen van Vuuren se loopbaanreis tot op hede getuig die omvang van sy werkservaring dat beroepsblootstelling, harde werk en deursettingsvermoë inderdaad die sleutels tot sukses is. Hy ag homself in dié verband baie gelukkig dat hy reeds vroeg in sy lewe die waarde van harde werk besef het – ʼn lewensles waarvoor hy sy ouers ewig dankbaar is.
Nóg voor sy agtiende verjaarsdag het ʼn jong Jansen van Vuuren onder meer as ʼn kassier by ʼn slaghuis gewerk, diens gedoen as ʼn kelner by ʼn pizza-restaurant en selfs promosiewerk in winkelsentrums aangepak. Hy vertel laggend dat laasgenoemde hom vinnig tot die besef laat kom het dat hy nie uitgeknip is vir ʼn beroep in bemarking nie. Sy eerste voltydse werk was in dele te danke aan sy pa – ʼn bedrewe entrepreneur met sy eie kleinsakeonderneming, én sy laatlamboetie wat net ná sy matriekjaar gebore is. “Ek het besluit om nie dadelik ná skool voltyds te gaan studeer nie, maar eerder ʼn jaar te neem om my ouers by te staan. In dié tyd sou ek 04:00 opstaan om met my boetie te help, 08:00 tot 17:00 by my pa se besigheid (wat kombuiskaste geïnstalleer het) betrokke wees en vanaf 18:00 agter die boeke inskuif as ʼn nauurse student,” sê Jansen van Vuuren. Alhoewel hierdie ʼn baie uitdagende tyd was, meen hy dat die ervaring waardevolle besigheidsvaardighede, waaronder tydsbestuur, professionele netwerkvorming, kliëntediens én probleemoplossingsvaardighede ontsluit het.
Hy verwerf sy BCom (Rekeningkunde)-kwalifikasie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in 2011, en twee jaar later sy Sertifikaat in die Teorie van Rekeningkunde (STR) óók vanaf sy alma mater. Ná sewe jaar in die oudit- en rekeningkundepraktyk wink ʼn opwindende ervaring in die IKT-bedryf en trek hy vir die eerste keer die baadjie as finansiële bestuurder aan by Ovations Technologies (Pty) Ltd in Johannesburg. In 2016 registreer hy homself as ʼn geoktrooieerde rekenmeester en voltooi só ʼn belangrike akademiese én professionele hoofstuk in sy lewe. Die res is soos hulle sê, geskiedenis.
Op 31-jarige ouderdom neem hy die leisels as hoof- finansiële beampte by Ovations oor én word ʼn lid van die direksie van die maatskappy. Jansen van Vuuren beskryf hierdie hoofstuk van sy professionele loopbaan as “ontsettend leersaam” en noem dat hy in dié beroepsfase baie oor korporatiewe finansies, strategie, onderhandeling, samesmeltings, oornames, leierskap en menseverhoudinge geleer het. Volgens Jansen van Vuuren het hierdie vaardighede nie net sy vermoë verbeter om komplekse finansiële landskappe te navigeer nie, maar het dit hom ook in staat gestel om strategiese besluitneming aan te dryf en sterk, en ook samewerkende, verhoudings binne en buite die organisasie te bevorder.
Só lyk sukses
Jansen van Vuuren beskryf sukses as die harmonie tussen persoonlike vervulling en professionele prestasie. Op die keper beskou beteken dit dat sukses vir hom nie alleen aan prestasie toegeskryf moet word nie, maar ook die waarde wat jy tot ʼn ander se lewe voeg.
“Ek glo dat dit belangrik is om ten alle tye teenwoordig te wees, mense te respekteer, ander te help om hul groeipotensiaal te bereik deur elkeen se talente te ontsluit en ʼn positiewe impak te maak,” sê Jansen van Vuuren. Op ʼn ligter trant voeg hy by dat dit ook belangrik is om te geniet wat jy doen en tyd te neem om elke ervaring te geniet. “Ons het elkeen ʼn unieke rol om te vervul, en daar lê vir my ʼn mooiheid opgesluit in die besef dat jy genoeg is, waardig is én presies is waar jy moet wees,” sê Jansen van Vuuren af.
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, vertel dat hy met groot verwagting uitsien na Jansen van Vuuren se aansluiting by die instelling. “Ons wens Danie alle voorspoed toe en sien daarna uit om te ervaar hoe departement: Finansies en Infrastruktuur van krag tot krag groei om Akademia veerkragtig én kompeterend te posisioneer,” sluit Visser af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.