Gepubliseer op: 24 Januarie 2025
Geskryf deur Susan O’Reilly en dr. Maretha Steyn, beide verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.
Die versnelde ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI) en ander digitale stelsels posisioneer onderwys aan die voorpunt van een van die mees fundamentele vraagstukke en uitdagings van die hedendaagse era. Hoe beskerm én bevorder hierdie stelsels die menslike agentskap en verantwoordelike besluitneming? Onderwys dien immers as katalisator vir die bevordering van kritiese denke, kreatiwiteit en etiese bewustheid by leerders – alles faktore wat noodsaaklik is vir betekenisvolle besluitneming in ʼn KI-gedrewe samelewing.
Op Internasionale Onderwysdag, wat jaarliks op 24 Januarie gevier word, belig die Verenigde Nasies (VN) die sentrale rol wat onderwysers in die toerus van individue én gemeenskappe . Hierdie taak verwys onder meer na die kweek van nie net die begrip wat nuwe tegnologie betref nie, maar ook die effektiewe en verantwoordelike gebruik daarvan. Die integrasie van KI in die samelewing skep egter ʼn dinamiese konteks wat sowel geleenthede asook uitdagings vir onderwysers meebring.
Baie is reeds geskryf oor die voordele wat KI vir die onderwyser inhou. Onder andere kan inligting moeiteloos bekom word, gróót hoeveelhede data kan ontleed word, terugvoer kan verpersoonlik word en toegang tot kitsoplossings kan bewerkstellig word. Die teenkant is natuurlik ook waar en uitdagings soos plagiaat, die gebrek aan die ontwikkeling van sagte vaardighede en emosionele intelligensie is ʼn werklikheid. KI sluit wel nie die kweek van ʼn kritiese ingesteldheid, kreatiwiteit en ʼn etiese bewustheid uit nie.
Onderwysers kan die grens tussen tegnologiese hulpmiddels en menslike beheer duidelik maak. In die wesenlike sin van die woord is dit die taak van die onderwyser om leerders toe te rus om krities, kreatief en op ʼn etiese wyse met inligting en data, wat hul met die druk van ʼn knoppie kan bekom, om te gaan.
Volgens die teorie van selfbepaling funksioneer individue optimaal wanneer hul fundamentele behoeftes aan outonomie, ʼn gevoel van bekwaamheid en die skep van verhoudings bevredig word. Onderwysers speel ʼn kritieke rol in die ontwerp van diesulke leerervarings wat leerders nie net in staat stel om tegnologie en KI te benut nie, maar ook om hierdie hulpmiddels deur ʼn kritiese lens te benader. Ondersoekgebaseerde leer kan deur onderwysers aangemoedig word wanneer leerders komplekse vraagstukke moet ontleed.
Hierdie benadering vereis dat leerders inligting moet opspoor, die inligting moet ontleed, integreer én sintetiseer. Terselfdertyd bied dit ʼn platform vir leerders om in gesprek te tree met ander en vir die interpretasie van uiteenlopende perspektiewe. Verder word leerders aangemoedig om kunsmatige intelligensie as ʼn ondersteunende hulpmiddel in te span, terwyl hul besef dat hul eie insigte en kreatiwiteit nie hierdeur vervang kan word nie.
Die toekoms van onderwys berus op ʼn gebalanseerde benadering waarin KI as ʼn ondersteunende hulpmiddel geïntegreer word. Hierdie benadering het ten doel om leerders optimaal toe te rus vir die eise van die voortdurend veranderende wêreld, terwyl die intrinsieke menslike agentskap, wat fundamenteel is tot opvoeding, behoue bly. Deur ʼn waardegedrewe en kritiese benadering tot die gebruik daarvan te neem, kan onderwys méér doen as om die wese van die tegnologiese landskap te beïnvloed. Hulle kan aktief bydra tot die vorming van ʼn generasie wat met wysheid, empatie en verantwoordelikheid in ʼn geoutomatiseerde wêreld kan funksioneer.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.