Search
Close this search box.

Voornemende Fonties uit en tuis by Akademia-kampusopedag

Gepubliseer op: 15 Januarie 2025

ʼn Tuiste is soveel méér as net ʼn adres. Dit is ʼn plek waar jy veilig voel, waar jy jouself kan wees, jou met eensgesinde individue kan omring én jou drome passievol kan najaag. Dit is ʼn plek wat heimwee ontketen, maar óók ʼn plek van ontdekking – persoonlik én professioneel. In kort: ʼn tuiste bied persoonlike betekenis, verbondenheid én ʼn gevoel van gemeenskap.

Akademia, as ʼn studietuiste, spreek tot die denke sowel as die hart van sy studente. Om dié rede en op ʼn baie lewenskragtige wyse versinnebeeld die instelling ʼn tuiskoms waarbinne lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe kan gedy. Die jaarlikse kampusopedag bied aan voornemende Fonties* die geleentheid om hierdie tuiskoms eerstehands te ervaar. Op dié manier vergewis hulle hulself nie net met die instelling se studiemoontlikhede nie, maar óók van die bruisende studentelewe – in Afrikaans.

Vanjaar se kampusopedag in Centurion trek ʼn spiksplinternuwe baadjie aan. Die tweedagkampusopedag vind oor die langnaweek van 21 en 22 Maart plaas en bied aan voornemende studente en hul ouers ʼn gulde geleentheid om alle aspekte van Fontie-wees te ondersoek en mee te maak. Laasgenoemde omvat aspekte soos studiegeleenthede, finansiële en administratiewe ondersteuning, koshuisverblyf én die instelling se unieke studentweeservaring.

“Akademia se vyf dinamiese fakulteite ontsluit ʼn verskeidenheid spesialisrigtings, en tydens die kampusopedag staan dosente én huidige studente gereed om oor Fonties se ervaringe binne en buite die lesinglokaal te gesels,” verduidelik Lizán Maree, bestuurder: Bemarking. Sy voeg by dat studentwees oor méér as net studie gaan, en dat die kampusopedagervaring dit ten doel het om die veelheid van hierdie tuiskoms ten toon te stel. Laasgenoemde word gedoen aan die hand van ʼn propvol kampusopedagprogram en sluit onder meer ʼn gespreksessie met Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, én Johannes van Jaarsveld, die studenteraadsvoorsitter 2024/2025 in. ʼn Groot verskeidenheid inligtingstalletjies sal besoekers ʼn smakie van die instelling se koshuislewe, georganiseerde studentelewe en ondersteuningsdienste bied.

“As voornemende student wil ek jou aanmoedig om jouself uit te daag en erns met jou studiedrome te maak, binne ʼn omgewing waar jou potensiaal doelgerig en toekomsgedrewe gevorm sal word. Net só wil ek die ouers en voogde van voornemende studente uitnooi om gemoedsrus te ervaar oor hul kind se toekomstige inskakeling by die Akademia-familie,” sê Maree.

Klik hier om een van die sessies op 21 en 22 Maart by te woon:

  • Sessie een | Vrydag 21 Maart om 09:00
  • Sessie twee | Vrydag 21 Maart om 13:00
  • Sessie drie | Saterdag 22 Maart om 09:00

Indien jy nie die geleentheid kan bywoon nie, kom gerus in aanraking met die instelling se bemarkingsadviseursspan. Klik hier om ʼn afspraak vir ʼn konsultasiesessie te versoek. Akademia, tuis in Afrikaans!

*Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem. Dié eienaam is afgelei van die instelling se leuse, Ad futurum, per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Meer as 1 200 besoekers (ouers, vriende en voornemende studente) het verlede jaar agter die spreekwoordelike kampusgordyn kom inloer om meer uit te vind oor Akademia se studiemoontlikhede en studentweeservaring. Vanjaar se kampusopedag vind oor twee dae plaas, op 21 en 22 Maart. Bespreek vandag nog jou plek.
Huidige Fonties staan gereed om tydens die kampusopedag hul ervaringe binne én buite die klaskamer met voornemende studente en hul ouers te deel.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.