Gepubliseer op: 16 Oktober 2024
Om sáám te groei en die toekoms hoopvol tegemoet te stap is nie net Akademia se roepingstaak nie, maar ook die goue draad wat deur die lewe van die Kriel-gesin van Pretoria loop. Laasgenoemde word beaam deur die feit dat ma Mariana, dogter Nikkie (nou Nel) én kleinboet A.J. al drie dié instelling as studietuiste gekies het. Mariana (48), Nikkie (26) en A.J (23) is al drie trotse alumni, terwyl A.J.tans verder aan sy alma mater studeer.
Mariana, wat vandag as die Gautengse streeksbestuurder van Helpende Hand werksaam is, is ʼn Akademia-pionier van ouds. Sy was deel van die instelling se geskiedkundige eerste groep van 40 studente wat in 2012 met hul studies begin het. Sy het in daardie jaar saam met twee ander studente die Hoër Sertifikaat in Gemeenskapsontwikkeling gevolg en voltooi. Akademia se hoofkantoor was in hierdie tyd in die Suid-gebou op die Solidariteit-terrein in Centurion geleë en klasse is hiervandaan na die destydse ses sentrums uitgesaai. Mariana het vanaf die Moot-sentrum ingeskakel. Laasgenoemde was by die kerksaal van die NG Kerk Pierneefrand gesetel.
“Ek het besluit om aan Akademia te studeer omdat ek destyds reeds in ʼn loopbaan gestaan het wat met gemeenskapswerk gemoeid was,” onthou Mariana en voeg by dat dit vir haar ʼn logiese keuse was om haarself verder in dié veld te bekwaam. Die feit dat die program nauurs oor afstand aangebied is, het vir haar wat voltyds gewerk het, die knoop deurgehaak. Sy onthou dat sy egter haar tyd baie mooi moes bestuur omdat sy as gemeenskapswerker en vrywilliger baie nauurse verpligtinge gehad het, maar sy is vandag baie bly én trots dat sy deurgedruk het. “Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg,” meen Mariana. Vir haar het die waarde van haar kwalifikasie daarin gelê dat dit waardevolle kennis ontsluit het, wat sy prakties in die werksplek kon toepas.
Vir Nikkie, ʼn oud-leerling van Hoërskool Pretoria-Noord, is Akademia méér as net ʼn studietuiste – dit is ook die plek waar sy haar loopbaan as projekkoördineerder binne die institusionele projekte en ondernemings-afdeling slyp. Sy het in 2018 die Hoër Sertifikaat in Projekadministrasie voltooi en daarna ook die BCom (Ondernemingsbestuur)-program via die instelling se nauurse afstandsmodel. Haar eerste studiejaar het sy by die Von Willich-sentrum in Centurion voltooi, en sy het later ingeskakel by die sentrum wat by die Leriba-kampus, ook in Centurion, geleë is.
As Fontie het Nikkie gedurende 2020/2021 as sekretaris van die studenteraad (SR) gedien. Sy onthou dat dit vir haar as ʼn werkende student aanvanklik ʼn uitdaging was om ʼn balans te vind tussen haar werksverpligtinge, haar studies en die eise wat haar sosiale lewe aan haar gestel het. “Dit het egter ál hoe makliker geword en as ek dit vandag wéér moet doen, sal ek dit op presies dieselfde wyse benader,” meen Nikkie. Sy voeg by dat sy as student waarlik só gevorm is dat haar lewensuitkyk en gedrewenheid ʼn ware roepingsdimensie aangeneem het. “As ek vandag vir ander werkende studente kan advies gee, sal dit wees om nie moed op te gee nie en tyd te vat om die ervaring van studentwees ten volle te geniet. Aan die einde van die dag is elke opoffering die moeite werd en sal jy as ʼn goed gevormde individu jou plek vol kan staan,” sê Nikkie. Sy voeg by dat as ʼn persoon wat reeds voltyds in die werksplek gevestig was, haar studiereis haar toegerus het met goeie tydsbestuursvaardighede, asook die vermoë om doelgerig nuwe netwerke te vorm. Die kersie op die koek is vir haar die voordeel dat sy teoretiese kennis prakties in haar dagtaak kan toepas.
Kleinboet A.J. voltooi die Kriels se Akademia-driekuns. Hy is ook, soos sy suster, ʼn oud-leerling van die Hoërskool Pretoria-Noord en werk as Helpende Hand se jeugkoördineerder in Pretoria. Hy het in 2020 by die instelling aangesluit en die Hoër Sertifikaat in Projekadministrasie voltooi. A.J. is tans ook besig om die BCom (Ondernemingsbestuur)-program via die nauurse afstandsmodel aan te pak en is by die Moot-sentrum ingeskakel.
“As ek terugkyk oor my studiereis tot op hede, dan verteenwoordig my drie jaar van studies tesame met my drie jaar se praktiese werkservaring vir my ʼn voorsprong van, wel, drie jaar bo my eweknieë!” sê A.J. Soos die geval was met sy ma en sy suster meen A.J. dat nauurse afstandstudie ʼn uitdaging kan wees, veral in terme van werksverpligtinge. Hy getuig egter heelhartig dat dit méér as doenbaar is, en dat dit nie net jou eie potensiaal ontsluit nie, maar ook waardevolle geleenthede vir groei inhou.
Op die vraag of die gesin Akademia as ʼn studietuiste vir ander sal aanbeveel, is die antwoord ʼn besliste ja! Mariana meen dat enigeen, ongeag ouderdom, by die instelling sal aanklank vind en dat dié gevoel van tuiskoms die grondslag vir generasionele opleiding en vorming bied. “As werkende ma was dit vir my só lekker om vir my kinders, wat toe op skool was, ʼn voorbeeld te kon stel van goeie werksetiek en prioritisering. Ek glo dat hulle deur hierdie blootstelling nie net geïnspireer is nie, maar ook met verwagting na die toekoms kon uitsien – iets wat tot vandag toe die geval is,” sê Mariana.
Op haar beurt meen Nikkie dat die ondersteuningsnetwerk en -dienste waartoe studente toegang het ongeëwenaar is, terwyl dit vir A.J. lekker is om in Afrikaans te studeer en dít boonop aan ʼn instelling waar die waardes met dié van sy eie en sy gesin ooreenstem. Al drie Kriels is voorts opgewonde oor die groei wat Akademia beleef, en spreek die hoop uit dat dié studietuiste nog vir generasies van Kriels ʼn lewensanker sal wees.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.