Search
Close this search box.

BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie – topdrie- Fontiepreneurs aangekondig

Gepubliseer op: 27 September 2024

Die opgewondenheid loop behóórlik hoog onder vanjaar se deelnemers aan Akademia se gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie nadat die topdriedeelnemers bekend gemaak is. Hierdie Fontiepreneurs sal mekaar nou op 4 Oktober 2024 die stryd aansê in die finale en beslissende ronde. Tydens hierdie geleentheid sal die topdriefinaliste hul onderskeie sakeplanne aan ʼn paneel kundiges voorlê waarna die wenner op luisterryke wyse aangekondig sal word.

Vanjaar se finaliste besig hulself onder meer met die ontwikkeling van pasgemaakte besigheidsplanne vir beginner-entrepreneurs, klereontwerp en -vervaardiging asook spesialis-spysenieringsdienste.

Die topdriefinaliste vir 2024 is:

Volgens Monique Visser, programkoördineerder vir BCom (Ondernemingsbestuur) en die sameroeper van die kompetisie, verteenwoordig ʼn sakeplan ʼn belangrike eerste stap in enige entrepreneur se besigheidsreis. Om dié rede speel die jaarlikse kompetisie ʼn waardevolle rol in die vaslegging van hierdie vaardigheid. Die kompetisie bied voorts aan deelnemende studente die geleentheid om binne ʼn veilige omgewing en met behulp van ervare mentors en kundige akademici, besigheidslui en beleggers hul sakedrome te verwesenlik. In vanjaar se kompetisie kon studente in twee kategorieë deelneem, naamlik ʼn sakeplan vir nuwe en/of bestaande besighede óf ʼn sakeplan spesifiek vir ʼn aanlyn winkel.

Visser noem dat die kompetisie van ander soortgelyke entrepreneurskapkompetisies onderskei kan word vanweë die unieke mengsel van hulpbronne, mentorskap en netwerkgeleenthede sowel as omvattende ondersteuning aan die wenners ná afloop van die kompetisie. Sy beklemtoon voorts dat die kompetisie elke jaar geleidelik sterkter word weens ʼn groter poel van talentvolle entrepreneurs en ʼn groeiende belangstelling in entrepreneurskap en innovasie. 

Indien jy ook jou entrepreneursvernuf wil verbeter en as ʼn entrepreneur ʼn positiewe impak in jou gemeenskap wil maak, doen vandag nog aansoek vir studie in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program vir die 2025- akademiese jaar.

Catherine-May Trollip se besigheidskonsep, PlanScapes, fokus op die ontwikkeling van sakeplanne vir beginner-entrepreneurs.
Danielle van Deventer se besigheidskonsep, Soothe Seam, se slagspreuk lui soos volg: “Klere wat saam met jou asemhaal.”
Die Avo Guy-besigheidskonsep is die breinkind van Willem en Louis Albertyn. Hierdie spesialis-spysenieringsdiens se trekpleister is die veeldoelige avokadopeer.