Search
Close this search box.

Deelnemers aan die Jongerenprojek besoek Akademia en versterk só taalbande

Gepubliseer op: 20 September 2024

Internasionale deelnemers aan die Jongerenprojek (JP) het in Julie voet aan wal gesit in Suid-Afrika en ook onder meer tyd by Akademia se kampusse in Centurion, Gauteng, spandeer. Dié gesogte uitruilprogram poog jaarliks om deelnemers by wyse van ʼn uitruilprogram ʼn beter begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande (Nederland en België) en Suider-Afrika, Namibië ingesluit, bestaan.

Vanjaar se besoek, wat vanaf middel-Julie tot middel-Augustus gestrek het, het ʼn groep van veertien deelnemers op ʼn akademiese en gepaardgaande kulturele toer van verskeie streke waaronder Gauteng, Noordwes, die Kaap en spesifiek die Boland geneem. Besoek is ook in Windhoek en Swakopmund in Namibië afgelê. Volgens DJ Cloete, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde en die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Jongerenprojeknetwerk (JPN), steun die projek sterk op die taalbande tussen Afrikaans en Nederlands wat die uitruilprogram wedersyds verstaanbaar maak.

“As gevolg van hierdie sterk taalbande was dit ook gepas om Akademia-studente die geleentheid te bied om eerstehands kennis te maak met hul Jongerenprojek-eweknieë,” verduidelik Cloete. Hierdie kennismaking het die vorm aangeneem van ʼn interaktiewe gaslesing wat aangebied is deur een van die begeleiers vanuit die noorde, Francine Maessen. Die gaslesing het ʼn inleiding tot die vergelykende benadering tot letterkunde gebied, met ʼn fokus op die Afrikaanse en Nederlandse poësie. Volgens Cloete het die lesinginhoud studente op ʼn kreatiewe wyse meer van die verskillende tale en kulture leer, asook die vele ooreenkomste. “Die bywoning van die lesing deur beide groepe het op ʼn praktiese manier vergestalting gebied van die inhoud van die poësie wat bespreek is,” meen Cloete en hy voeg by dat verskeie kulturele verskille sowel as veelsydige perspektiewe aan die lig gekom het. Beide die studentegroeperings het voorts ʼn geleentheid gekry om in gemengde groepsverband saam te werk om die gedigte te bespreek en só mekaar beter te leer. Hierdie samewerking het ook ʼn lansie gebreek vir ʼn taalviering van die ooreenkomste tussen Afrikaans en Nederlands.

Ná afloop van die lesing het die Akademia-studente op ʼn spontane wyse die deelnemers bekendgestel aan die sokkiedans wat nie net ʼn trots-Afrikaanse sosiale tydsverdryf is nie, maar ook kenmerkend is van studentepret.

Deelnemers aan die Jongerenprojek-2024 en hul Akademia-eweknieë het saam ʼn interaktiewe gaslesing oor Afrikaanse en Nederlandse poësie bygewoon. Dié geleentheid het die studente die geleentheid gebied om met hul nuutgevonde vriende van die Lae Lande te skakel.

Verbondenheid die sleutel tot ʼn suksesvolle uitruilprogram

Cloete verduidelik dat Akademia, as ʼn trotse gemeenskapsinstelling, diesulke besoeke, wedersydse samewerking en die uitbouing van goeie verhoudinge op ʼn nasionale én internasionale vlak aanmoedig en bevorder.

Hy sê voorts dat die terme “gemeenskap” en “globalisering” nie by Akademia in spanning teenoor met mekaar staan nie. Inteendeel, die spesifieke gemeenskap en die globale wêreld word by dié hoëronderwysinstelling eerder in onderlinge samehang raakgesien. Op hierdie wyse word daar ook verbondheid vooropgestel en die samekoms van studente en deelnemers tydens byvoorbeeld dié onlangse gaslesing verteenwoordig ʼn tasbare uitvloeisel van dié verbondenheidswaarde.

Soos die geval met Akademia, deel die Jongerenprojeknetwerk ook hierdie uitkyk in hul eie visie, naamlik om deelnemers ʼn begrip te gee van die onderliggende verhoudinge wat daar tussen die Lae Lande en Suider-Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande tussen Nederlands en Afrikaans. By wyse van dié internasionale projek vlam die hoop opnuut op om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture te ontwikkel, en gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Namibië, Nederland en België te bevorder. Die jaarlikse Jongerenprojekreis bevorder hierdie gemeenskaplikheid deur middel van:

  • ʼn Sterk akademiese ervaringskomponent; en
  • skakeling met uiteenlopende organisasies en instellings om ʼn veelheid van perspektiewe aan deelnemers te bied.

“Dit is vir die Jongerenprojeknetwerk belangrik om met ʼn groot verskeidenheid organisasies en instellings te skakel waaronder Akademia een is,” meen Cloete en hy voeg by dat die sukses van die uitruilprogram spreek tot die groot mate van gemeensaamheid wat daar tussen die onderskeie rolspelers en betrokke gemeenskappe bestaan. Cloete sê dat benewens die deelnemende instellings daar ook baie moeite deur vrywilligers, gasouers en borge gedoen is.

“Volgende jaar sal deelnemers vanuit Suider-Afrika die geleentheid hê om die Lae Lande te besoek, en ons is reeds opgewonde oor dié vooruitsig,” sluit Cloete af.

Derdejaarstudente wat verbonde is aan hoëronderwysinstellings regoor die land, asook Akademia, kan aansoek doen om deel te neem aan dié uitruilprogram en aansoeke sal binnekort oopmaak. Vir meer inligting besoek die Jonngerenprojek-webblad of stuur ʼn e-pos na navrae@jpnsa.co.za ,

Deelnemers van die Lae Lande wat onlangs as deel van die Jongerenprojek besoek aan Akademia afgelê het.