Search
Close this search box.

Akademia se eerste Fontie-spele ʼn dawerende sukses

Gepubliseer op: 26 Augustus 2024

Akademia se heel eerste Fontie-spele is in die sak en ná afloop daarvan is almal wat betrokke was dit eens: dié sportfees was ʼn dawerende sukses! Nie net het die geleentheid gesorg vir sportgenot uit die boonste rakke nie, maar daar is ook ʼn lansie gebreek vir studentesport en die instelling se deelname aan en betrokkenheid tot die groter Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor.

Die naweek van 23 en 24 Augustus 2024 het spanne van verskillende onafhanklike hoëronderwysinstellings in Centurion sien deelneem aan 10’e-rugby, netbal en 5-persoonhokkie. Hierdie instellings het ingesluit:

  • Akademia
  • Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros)
  • Sol-Tech
  • Bo-Karoo Opleiding (BKO)
  • Eta College
  • NewBridge Graduate Institute (NGI)
  • Varsity College: Pretoria
  • Varsity College: Sandton

Volgens Kobie Krause, Akademia se sportbeampte, was die eerste Fontie-spele voorwaar ʼn hoogtepunt op die studentelewekalender en was dit lekker om die goeie sportmansgees tussen die onderskeie instellings eerstehands te kon ervaar. “Ons het só baie komplimente ontvang van ouers, organiseerders en toeskouers wat gesê het dat die kameraadskap en die vriendskap tussen die deelnemers was merkbaar,” vertel Krause.

Die volgende spanne het as die wenners uit die stryd getree:

  • Rugby: Akademia
  • Netbal (gemeng): Huis Dahlia en Huis Hennops (beide Akademia-inwoonkoshuise)
  • Netbal: Aros
  • Hokkie (dames): Eta College
  • Hokkie (mans): NewBridge Graduate Institute

Volgens Krause is die langtermynbeplanning dat die Fontie-spele in ʼn volwaardige sportfees sal ontluik, en dat studentesporttalent op hierdie wyse op ʼn jaarlikse manier gevier sal kan word. Hy voeg by dat dié spele ook die instelling se klassieke en Christelike begronding sal spieël en dat dit só die baan sal weg vir die ontwikkeling van ʼn sterk gevestigde sporttradisie. Hy droom voorts daarvan dat dié geleentheid wat kompeterende sportsoorte betref van krag tot krag sal gaan.

Akademia bedank graag die volgende borge wat tot die sukses van die geleentheid bygedra het: SPLSSH*, AfriForum Sport, Sorgenfrei, Vleisland Deli, Living Ball en Spoiled Concepts. ʼn Hartlike woord van dank word ook aan Hoërskool Centurion gerig vir die gebruik van hul sportfasiliteite.

Die span van Aros het in die netbalkategorie as die wenners uit die stryd getree toe hulle die span van NewBridge Graduate Institute in die finaal geklop het.
Eta College se hokkiespan is met die louere in die dameskategorie beloon ná hulle die span van NewBridge Graduate Institute geklop het.
beloon.
Die manshokkiespan van NewBridge Graduate Institute het hul afdeling gewen teen hul ETA College-eweknieë.
Akademia se rugbyspan is as die wenners in die rugbystryd aangewys en het die span van NewBridge Graduate Institute in die finaal laat les opsê.

*SPLSSH is Akademia, BKO en Sol-Tech se kreatiewe vennoot vir pasgemaakte geskenke en klere. Kry toegang tot innoverende produkte vir jou volgende geleentheid deur Splssh se webtuiste te besoek.