Search
Close this search box.

Skei só die koring van die kaf as dit kom by valse belastingpraktisyns – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 26 Augustus 2024

Geskryf deur Nikki Kennedy, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) waarsku Suid-Afrikaanse belastingpligtiges om op hul hoede te wees vir valse belastingpraktisyns. Hierdie “spookpraktisyns” vertel mooi stories en speel op individue se versugting om ʼn terugbetaling van die inkomstediens af te kry. Laasgenoemde strook egter glad nie met die niksvermoedende belastingbetalers se belastingverwagting en geskiedenis nie.

Soos vele dinge in die lewe is dit egter ʼn geval van as dit té goed klink om waar te wees, dit waarskynlik die geval is. Belastingpligtiges word gemaan om nie in dié strik te trap en vir hulself sodoende verdere langtermynprobleme op die hals te haal nie.

Gedurende die belastingindieningseisoen is daar ʼn wesenlike toename in bedrieglikhede in verskeie vorme. Dit sluit e-posse in wat skynbaar van die SAID afkomstig is en óf dringende aandag verlang alvorens ʼn uitbetaling kan geskied, die hersiening van besonderhede vereis óf selfs ʼn finale aanmaning bevat. Hierdie tipe e-posse het dan gewoonlik ʼn skakel waarop onmiddellik geklik moet word. Die SAID sal nie e-posse met skakels na belastingpligtiges stuur nie. Indien ʼn belastingpligtige onverwagse kommunikasie ontvang wat skynbaar vanaf die SAID afkomstig is, word diesulkes aangemoedig om kontak met hul belastingpraktisyn te maak of gebruik te maak van die vele kanale wat die SAID beskikbaar stel vir die bevestiging van inligting.

Hierbenewens is daar ook ʼn toename te bespeur in die oorneem van SARS -eFiling-profiele deur skurke wat persoonlike besonderhede wysig en verkeerde opgawes inhandig om sodoende ongeldige belastinguitbetalings te ontvang.

Só verloop die belastingseisoen

Die belastingindieningseisoen vir persoonlike inkomstebelastingopgawes vir die finansiële jaar 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024 het amptelik op 1 Julie vanjaar afgeskop. Die inkomstediens het dié aanvang benut deur vinnig outomatiese aanslae uit te reik.

Hierdie aanslae is gegenereer deur die gebruikmaking van inligting wat vanaf derde partye (soos finansiële instellings, mediese fondse en werkgewers) ontvang is en deur kunsmatige intelligensie (KI)-tegnologie in te span. Vanaf 15 Julie kon individuele belastingpligtiges ʼn gewysigde opgawe inhandig, indien die outomatiese aanslag nie korrek of volledig was nie, of ʼn opgawe inhandig indien geen outomatiese aanslag deur die SAID uitgereik is nie. Die sperdatum vir die indiening van persoonlike inkomstebelastingopgawes vir hierdie seisoen is 21 Oktober 2024 tensy die belastingpligtige ʼn bykomende inkomste verdien waarop geen werknemersbelasting afgetrek word nie. In só ʼn geval mag die persoon moontlik as ʼn voorlopige belastingpligtige beskou word.

Voorlopige belastingpligtiges geniet ʼn ietwat van ʼn verlengde sperdatum tot en met 20 Januarie 2025. Daar is egter spesifieke wetgewing in die Vierde Bylae van die Inkomstebelastingwet (nommer 58 van 1962) wat voorlopige belasting reguleer en wel op gelet moet word, alvorens aanvaar word dat die verlengde sperdatum van toepassing is.

Die komplekse aard van inkomstebelasting

Uit die voorafgaande word dit duidelik dat die wêreld van inkomstebelasting ʼn komplekse omgewing verteenwoordig. In 2012 is die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 in werking gestel. Hierdie wet bevat besonderhede van die pligte en verantwoordelikhede van ʼn reeks partye wat betrokke is binne die belastingomgewing.

Vanuit hierdie wetgewing, wat saamgelees word met die Inkomstebelastingwet en ander belastingwetgewing, word die belastingpligtige se verantwoordelikheid duidelik. As ʼn minimum is dit die verantwoordelikheid van die belastingpligtige om te verseker dat belastingopgawes ingedien word soos en wanneer nodig, asook dat die inligting wat vervat word in só ʼn opgawe akkuraat en volledig is. Enige belasting verskuldig aan die SAID moet dan ook betaal word soos en wanneer vereis, inaggenome dat dit wel moontlik is om ʼn afbetalingsooreenkoms met die SAID aan te gaan in gevalle waar uitstaande belastinggeld nie teen die voorgeskrewe sperdatum betaal kan word nie. ’n Afbetalingsooreenkoms gaan gepaard met rente en moontlike boetes, verseker steeds ʼn geordende manier van die hantering van ʼn belastingpligtige se verantwoordelikhede. Dit verhoed verder ʼn nienakoming status by die SAID, wat die geval sal wees onder normale omstandighede waar uitstaande belasting nie teen die sperdatum vereffen is nie.

Die pligte en verantwoordelikhede van belastingpraktisyns

Die Wet op Belastingadministrasie verduidelik die pligte en verantwoordelikhede van die belastingpraktisyn – in die uitvoering van take om belastingpligtiges by te staan om nakoming te verseker – deeglik. Om belastingpligtiges te probeer beskerm, is daar egter baie duidelike vereistes waaraan ʼn persoon moet voldoen om as ʼn belastingpraktisyn te mag werk. Hierdie vereistes sluit onder meer in:

  • Lidmaatskap aan ʼn erkende beheerliggaam. Diesulke beheerliggame moet by die SAID geregistreer wees.
  • ʼn Minimum akademiese kwalifikasie en relevante werksondervinding in die belastingveld.
  • Bewys van deurlopende voortgesette professionele onderrig en leer.
  • Nakoming van ʼn vasgestelde etiese gedragskode.
  • Onderwerping aan vasgestelde dissiplinêre kodes en prosedures.

Bogenoemde vereistes poog om te verseker dat geregistreerde belastingpraktisyns wel binne hulle pligte en verantwoordelikhede en met die nodige professionele sorg die belastingpligtiges bystaan. Dit is verder ook nodig vir belastingpraktisyns om self ook te voldoen aan belastingnakoming en sodoende ʼn skoon rekord by die SAID te behou.

Beskerm jouself só

Die belangrikheid van hierdie aspekte word beklemtoon deur die onlangse uitreiking van ʼn SAID-interpretasienota (nommer 132) op 29 Julie. In hierdie nota bied die inkomstediens sy interpretasie van die Wet op Belastingadministrasie se artikel 240 (3)(d) rakende persone wat nie kwalifiseer om as ʼn belastingpraktisyns te registreer nie. Die nota lig verder die proses van deregistrasie van geregistreerde belastingpraktisyns uit in gevalle van nienakoming.

Hiermee ʼn aantal praktiese riglyne om belastingpligtiges teen skurke en spookkonsultante te help beskerm:

  • Verkry die nodige bewyse wat die registrasie van ʼn belastingpraktisyn by ʼn erkende beheerliggaam bevestig alvorens daar van dié persoon se dienste gebruik gemaak word.

Hierdie inligting kan direk met die beheerliggaam bevestig word om sodoende te verseker dat die belastingpraktisyn wel ʼn goeie reputasie het. Die lys van erkende beheerliggame word op die SAID-webwerf aangedui.

  • Alle geregistreerde belastingpraktisyns moet ook by die SAID geregistreer wees en gevolglik met ʼn belastingpraktisynsnommer (wat met die letters PR begin) toegerus word. Die status van die belastingpraktisyn kan ook via die webwerf nagegaan word.
  • Indien ʼn belastingpligtige gebruik maak van ʼn belastingpraktisyn se dienste bly dit steeds belangrik om self ook toegang te hê tot sy/haar eie eFiling-profiel. Individuele belastingpligtiges kan toegang tot dié profiel met hulle belastingpraktisyn deel. Klik hier om op hoogte te bly van kennisgewings en verwante sake.
  • Die SAID stel verskeie kanale beskikbaar vir belastingpligtiges om hulle nakomingstatus te bevestig, om belastingopgawes na te gaan, om rekeningstate te versoek, om ʼn belastingverwysingsnommer te kry en vele meer. Hierdie kanale word via die SAID-webwerf gefasiliteer of mens kan gebruik maak van ʼn mobiele platform.
  • Belastingpligtiges word ook aangemoedig om aan te hou vrae vra aan hul belastingpraktisyn om vertroudheid en gemaklikheid met hul persoonlike belasting te verseker.

Indien jy belangstel om ʼn loopbaan in finansies te volg, aansoeke vir programme in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vir die 2025- akademiese jaar word reeds ingewag.

Nikki Kennedy is ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe aan Akademia. As belastingkenner maan sy belastingpligtiges om waaksaam te wees as dit kom by die keuse van ʼn belastingpraktisyn.