Search
Close this search box.

Akademia se nauurse afstandsmodel plaas studiedrome binne elkeen se bereik

Gepubliseer op: 8 Augustus 2024

Dié jaar is met ʼn knal uit die wegspringblokke en te midde van al die rep en roer is die halfpadmerk op die kalender reeds verbygesteek. Met hierdie werklikheid in gedagte is daar nie ʼn beter tyd as juis nou om jou studiedroom vir 2025 te begin waarmaak nie. Voeg daad by woord en bespreek jou plek vir Akademia se aanlyn inligtingsessie oor nauurse afstandstudiemoontlikhede wat op Saterdag 31 Augustus vanaf 09:00 tot 10:30 plaasvind.

Akademia, wat reeds sedert 2012 ʼn studietuiste vir duisende Fonties is, bied verskeie oplossings vir voornemende studente wat in ʼn vriendelike omgewing onderrig in hul moedertaal wil ontvang. Die instelling se dinamiese en baie gewilde nauurse afstandsmodel is ideaal vir studente van alle ouderdomme wat reeds in die werksplek gevestig is, of ander belangstellings wil nastreef terwyl hulle studeer. Studente wat van hierdie onderrigleermodel gebruik maak het gevolglik ook ʼn keuse van deelname by wyse van ʼn netwerk van sentrums dwarsoor Suid-Afrika óf ʼn e-leeropsie. Kontaksessies vind op weeksaande en Saterdae plaas en tegnologie word gebruik om dosente en studente in virtuele leerruimtes byeen te bring.

Behalwe vir die gerieflike rooster bied dié model ook aan Afrikaanssprekendes buite die Suid-Afrikaanse landsgrense die geleentheid om te studeer. Akademia se internasionale voetspoor sluit lande soos onder meer Australië, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Rusland, Swede, Thailand, die Verenigde Emirate en die Verenigde State van Amerika in.

Tydens die inligtingsessie, wat jy vanuit die gerief van jou eie leefvertrek kan bywoon, sal die volgende aspekte bespreek word:

  • ʼn Oorsig oor Akademia
  • Studieopsies
  • Klasbywoning
  • Die aansoekproses
  • ʼn Interaktiewe vraag-en-antwoordsessie

Hier is wat huidige nauurse studente te sê het oor dié onderrigleermodel:

“As ʼn voltydse professionele atleet pas die nauurse afstandsmodel my soos ʼn handskoen. Dié onderrigmodel laat my toe om voltyds my atletiekpassie uit te leef terwyl ek myself akademies kan bekwaam.” Yvonne Robson (24).

“Ek pak my studies via die nauurse afstandsmodel aan en maak gebruik van die e-leeropsie. Danksy die vryheid wat met dié onderrigleermodel gepaard gaan kan ek my potensiaal voluit laat gedy as ma, beroepsvrou én student!” Nalanie Green (41).

“Ek is tans in my tweede jaar van studie aan Akademia via die nauurse afstandsmodel. Dié model het my as tuisskoolleerder goed te pas gekom en ek het die geleentheid om waardevolle ervaring in die werksplek op te doen terwyl ek studeer.” Bianca Pretorius (20).

“Ek werk as ʼn boekhouer in die eiendomsontwikkelingsveld, maar droom van ʼn beroep in die regte. Danksy die nauurse afstandsmodel kan ek hierdie studiedroom najaag terwyl ek werk.” Victor Becker (51).

Jeanmarie van Niekerk, leier: Bemarkingsadviseurs, nooi alle belangstellendes uit om tydens dié sessie enige vrae wat hulle mag hê of aspekte waaroor hulle onseker mag wees te opper en só gemoedsrus oor hul toekomstige studies te verkry. “Ons is opgewonde om jou studiereis saam met jou aan te pak, en om jou as ʼn toekomstige Fontie by die Akademia-familie te verwelkom,” sê Van Niekerk.

Waarvoor wag jy? Maak seker dat jy hierdie belangrike inligtingsessie bywoon en jou nauurse studieopsies deeglik verken. Bespreek jou aanlyn sitplek hier. Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop. Akademia, jou loopbaanreis begin hier!

Sluit op Saterdag 31 Augustus vanuit die gerief van jou eie leefvertrek aan by Akademia se aanlyn inligtingsessie oor studie in 2025. Die nauurse afstandsmodel plaas studiedrome binne elkeen se bereik.