Search
Close this search box.

Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Gepubliseer op: 1 Augustus 2024

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het vandag op 1 Augustus die nuwe kampusontwikkelingprojek van Akademia in Pretoria as deel van die Toekomsbouer-veldtog bekendgestel. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker.

Akademia maak sedert 2012 van tussentydse infrastruktuuroplossings gebruik. Die voltydse kampusmodel het in 2021 aanvang geneem en so uitgebrei dat daar tans twee kampusse, vier koshuise, twee daghuise sowel as die administratiewe hoofkantoor is wat tans oor verskeie persele in Centurion versprei is. Die nuwe omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria sal aan die instelling die geleentheid bied om sy groei oor die afgelope dekade te konsolideer en ’n vaste adres vir sy toekomstige kampusstudente te bied wat ’n veerkragtige en opwindende studentelewe gaan ondersteun.

“Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “In die lig hiervan is die Toekomsbouer-veldtog ’n oproep aan die gemeenskap om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie. Dit bied ’n geleentheid waar hoop en ’n nalatenskap fisies opgerig gaan word.”

Projekomvang

Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria. Die nuwe kampus bied aan Akademia die geleentheid om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te maak wat aan die omvattende vraag van voornemende studente sal voldoen. Dié kampus sal voorts voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves.

“Fase een van die projek sal nagenoeg R1,8 miljard beloop en op 1 Januarie 2028 voltooi wees, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3 miljard sal wees. Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise waarna die sportfasiliteite, kapel en ouditorium volg,” verduidelik Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.

“Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig. Dit gaan kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én wêreldklas sportfasiliteite vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte insluit,” voeg Schalekamp by. “Daar word ook ’n proefplaas vir die Natuurwetenskappe- en Landboufakulteite beplan.”

Projekvennote en finansiering

Kanton dien as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus. Kanton is gebore uit ’n innoverende nuwe benadering vir die ondersteuning van Afrikaanse kulturele instellings. “Ons sakemodel is gebaseer op ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te bied, maar dan ook as ’n volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy beide ’n finansiële en kulturele opbrengs aan sy beleggers te bied,” verduidelik Schalekamp.

“Kanton se sukses word bevestig deur die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting afgelewer is. Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ’n kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en bestuur. Dit terwyl eksterne beleggers ook die geleentheid gebied gaan word om deel te vorm van hierdie unieke geleentheid,” sê Schalekamp.

Om te verseker dat die struktuur en beleggingsplatform die doelwitte van Kanton ondersteun, is die beplanning en strukturering van die maatskappy gedoen in samewerking met Pallidus. Laasgenoemde spesialiseer in onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur om die groei en uitbou van Kanton in die verskillende fases moontlik te maak. Die befondsingsmodel het die eienskappe van normale eiendoms- en infrastruktuurmodelle en word gebruik om beleggingsgeleenthede te bied.

Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om betrokke te raak deur ’n belegging. Ná afloop van ’n kritiese hoeveelheid fondse wat gewerf is vir die projek om voort te gaan sal ’n geleentheid aan die gemeenskap gebied word om deur kleiner beleggings betrokke te raak.

Vir nou is die oproep aan elkeen wat saam opgewonde is oor die projek eenvoudig: Droom saam deur ’n toekomsbouer te word en die vordering van hierdie groot projek te volg by www.toekomsbouer.co.za. Verdere inligting vir individuele beleggings sal weldra aan veldtogdeelnemers bekendgemaak word.

Klik hier om foto’s, video’s, klankgrepe en grafika oor die projek af te laai.

Vir enige medianavrae kontak media@kanton.co.za.

Akademia en Kanton het op 1 Augustus die monumentale ontwikkelingsprojek van die Akademia-kampus bekendgestel.
Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria.

Meer oor Akademia

Akademia is ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia streef daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Studente het ’n keuse tussen nauurse afstandstudie oor ’n landwye netwerk van sentrums of via e-leer en voltydse studie by twee tussentydse kampusse in Centurion. Die nauurse afstandmodel is ideaal vir studente wat wil werk of ander belangstellings nastreef, terwyl hulle studeer. Die voltydse kampusmodel bied sedert 2021 ’n veilige tuiste vir Fonties (Akademia-studente) wat bedags wil klasdraf en aan ’n bruisende studentelewe wil deelneem. Klik hier vir meer inligting oor Akademia.