Search
Close this search box.

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

DEKAAN

Prof. Gawie du Toit

Prof. Gawie du Toit

PhD (Didaktiek)
Dekaan:
Fakulteit Opvoedkunde

Prof. Gawie du Toit het sy kwalifikasies, onder andere ʼn hoëronderwysdiploma, MSc-graad in Wiskunde en ʼn doktorsgraad in Didaktiek by die Universiteit van Vrystaat (UV) voltooi. Hy betree die hoër onderwys in 1987 as senior navorser in die destydse Navorsingsinstituut vir Onderwysbeplanning by dieselfde universiteit. In 1997 is hy aangestel as departementshoof van die Departement Didaktiek (later bekend as Kurrikulumstudie) in die Fakulteit Opvoedkunde aan die UV. Hy het ook die pos Programdirekteur: Voorgraadse programme van 2010-2013 beklee.

Op 1 November 2013 is hy vir drie jaar gesekondeer om die BEd (Seniorfase en Verdere Onderwys en Opleiding)-program wat hy aan die UV ontwikkel het aan die nuutgestigte Sol Plaatje Universiteit (SPU) te implementeer. Sedert 2016 is hy voltyds by die SPU aangestel as Hoof: Skool vir Opvoedkunde. Sy navorsingsfokus is op wiskunde-onderwys en kurrikulumontwikkeling gerig. Sedert sy toetrede tot die Fakulteit Opvoedkunde in 1997 het hy tien artikels en vyf hoofstukke in akademiese boeke gelewer. Onder sy leiding het 22 meestergraadstudente en dertien doktorale studente hulle studies suksesvol voltooi.

Du Toit was ook betrokke by verskeie navorsingprojekte saam met die Katolieke Universiteit van Leuven in België en die Universiteit van Alberta in Edmonton, Kanada. Verder was hy ook administrateur van verskeie bestuursopleidingseminare vir onderwysleiers in die Vrystaat.

Sedert 1 Maart 2019 is du Toit die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.

DEPARTEMENTSHOOFDE

Dr. Maretha Steyn

Dr. Maretha Steyn

PhD (Vroeëkindontwikkeling)
Departementshoof:
Professionele Studies

Programkoördineerder:
BEd (Grondslagfase-onderwys)

Dr. Maretha Steyn is ʼn senior dosent en programkoördineerder van die BEd-program. Sy het ʼn BPrimEd (cum laude) asook BEd-honneursgraad (cum laude) aan onderskeidelik die Universiteit van Pretoria en Universiteit van Suid-Afrika verwerf, en daarna ʼn MEd in Historiese Opvoedkunde (Universiteit van Suid-Afrika) en ʼn doktorsgraad (Universiteit van Pretoria) in Grondslagfase Wiskunde. Haar meestersgraad het gehandel oor “Veranderende opvattinge oor die aanvangsonderrig van lees en skryf” en haar doktorsgraad is getiteld “Teaching the mathematical concept of time in Grade 2”.

Sy was vir 31 jaar as onderwyser en departementshoof by Laerskool Stephanus Roos betrokke. Steyn is passievol oor die onderwys en het ervaring in die ontwikkeling van kursusmateriaal asook die opleiding van onderwysers en studente in onder andere kurrikulum- implementering en innoverende onderrigstrategieë. Sy is ook betrokke by die beplanning en skryf van onderrig- en leermateriaal. Steyn se navorsingsbelangstellings is gefokus op onderrigstrategieë in die Grondslagfase met die doel om voordiensonderwysers te bemagtig. 

Susan O’Reilly

Susan O’Reilly

MA (Navorsingsielkunde)
Departementshoof: Opvoedkundestudies

Programkoördineerder:
Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys

Susan O’Reilly is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en beskik oor ʼn meestersgraad in Psigologie (cum laude) en ʼn professionele onderwyskwalifikasie. Haar onderwysprofiel sluit skoolonderwys- asook tersiêre ervaring in. Haar meestersgraadverhandeling is verwerk en as artikel opgeneem in die internasionale joernaal, Journal of Intergenerational Relationships.

O’Reilly is die programkoördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys by Akademia. 

Departement Opvoedkundestudies

Dr. Chris-Mari Le Hanie

Dr. Chris-Mari Le Hanie

PhD (Opvoedkunde)
Dosent:
Opvoedkundestudies

Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met Kurrikulumstudies asook ʼn honneurs-en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Le Hanie se navorsingsfokus is kurrikulumstudies, assessering, navorsing en besigheidsonderwys. In haar loopbaan het sy verskeie posisies beklee: kurrikulumkoördineerder, kurrikulumontwikkelaar, hoof van institusionele kwaliteit en akademiese steun, onderwyser en dosent. Le Hanie is die skrywer van verskeie joernaalartikels, boekhoofstukke en boeke in die veld van opvoedkunde. 

Daleen Botha

Daleen Botha

MEd (Leerderondersteuning)
Dosent:
Opvoedkundestudies

Daleen Botha is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn honneursgraad in Leerderondersteuning (cum laude) asook ʼn meestersgraad (cum laude) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Sy is tans besig met ʼn doktorale proefskrif in Onderwys vir Spesiale BehoeftesBotha se navorsingsfokus is funksionele Skoolgebaseerde Ondersteuningspanne. Haar mees onlangse gepubliseerde werke is ʼn artikel in die joernaal vir Inclusive Education South Africa (IESA) (2020) en sy was mede-outeur van ʼn hoofstuk in ʼn gepubliseerde versamelwerk (2021). Sy het vyftien jaar in die onderwysberoep gestaan en op distrikvlak vir nege jaar skole en leerders bedien as Senior Onderwysspesialis: Inklusiewe Onderwys en Spesiale Skole. Tot onlangs het sy Inklusiewe onderwys- en Wiskundemodules aan STADIO (Centurionkampus), ʼn hoëronderwysinstelling, doseer. 

Elana Kriel

Elana Kriel

MEd (Opvoedkundige Sielkunde)
Dosent:
Opvoedkundestudies

Elana Kriel is dosent in Opvoedkunde by Akademia. Sy het ʼn BA-graad (cum laude), nagraadse hoëronderwysdiploma (cum laude), BEd-graad (Opvoedkundige Sielkunde) en ʼn MEd-graad (spesialisering in Opvoedkundige Sielkunde) aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Sy behaal ook ʼn BEd-graad (spesialisering in Skoolvoorligting) aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Haar meestersgraadverhandeling se titel is: “ʼn Analise van die potensiaal van Narratiewe Terapie as streshantering by ʼn opvoeder in insluitende onderwys” Kriel het ervaring as aflosonderwyser by verskeie skole en as deeltydse dosent in afstandsonderrig vir onderwysers, gemoeid met opleiding in spesiale behoeftes. Ná registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) praktiseer sy as opvoedkundige sielkundige. Sy het ook ervaring in die korporatiewe wêreld met telefoonberading en die bestuur van ʼn inbelsentrum. Verder bestuur sy ook die nasionale netwerk van diensverskaffers in die spesifieke werknemersondersteuningsprogram. Sy was vir ʼn dekade by Kwaggasrand Tegniese Beroepsgerigte Skool vir Leerders met Spesiale Behoeftes (LSOB) werksaam as terapeut. Sy was behulpsaam in die verwysings- en assesseringsproses van leerders na en van spesiale skole en aan die stuur van ʼn multiprofessionele ondersteuningspan. Haar passie is terapeutiese bemoeienis, opvoeding en opleiding aan onderwysers.

Jhani Pottas

Jhani Pottas

MEd (Natuurwetenskappe-onderrig)
Dosent:
Opvoedkundestudies

Jhani Pottas is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Lewenswetenskappe- en Wiskunde-onderwys asook ʼn honneurs- en meestersgraad (met onderskeiding) in Lewenswetenskappe-onderwys aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Akademiese toekennings sluit in die toekenning vir beste honneursstudent in Lewenswetenskappe. Sy het agt jaar as Lewens- en Natuurwetenskappe onderwyser gewerk.

Julia Correia

Julia Correia

MEd (Internasionale en Vergelykende Onderwys)
Dosent:
Opvoedkundestudies

Julia Correia is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Grondslagfase-onderwys (cum laude) by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) verwerf. Sy het ook ʼn honneursgraad in Onderwysbestuur en -leierskap en ʼn meestersgraad in Internasionale en Vergelykende Onderwys aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Sy het sewe jaar as ʼn grondslagfase-onderwyseres gepraktiseer.

Sean Botha

Sean Botha

MEd (Onderwysbestuur, -reg en
-beleid)
Junior dosent:
Opvoedkundestudies

Sean Botha is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Opvoedkunde asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Onderwysbestuur, -reg en -beleid aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Akademiese toekennings sluit in die volgende: Golden Key-lid en akademiese erekleure (UP). Hy het agt jaar as onderwyser gepraktiseer. 

Tersia Kloppers

Tersia Kloppers

MEd (Spesiale behoefte-onderwys)
Junior dosent:
Opvoedkundestudies

Tersia Kloppers is ʼn dosent in Grondslagfase-onderwys by Akademia en het ʼn BEd-graad in Grondslagfase-onderwys asook ʼn honneursgraad (cum laude) in BEd-Leerondersteuning aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Sy het haar meestersgraad (cum laude) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Tans skryf sy aan ʼn hoofstuk vir ʼn handboek wat fokus op die ontwikkeling van die jong kind. Sy het ses jaar as ʼn grondslagfase-onderwyseres gepraktiseer. 

Departement Professionele Studies

Dr. Annelise de Vries

Dr. Annelise de Vries

PhD (Toegepaste Linguistiek)
Dosent:
Professionele Studies

Annelise de Vries is ʼn dosent in Afrikaans en vakhoof: Tale in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. Sy het ʼn doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek, ʼn meesters- en honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies en ʼn BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie. Sy het haar doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en haar MA-, honneurs- en BA-grade aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. De Vries se navorsingsfokus is toegepaste linguistiek waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in die boek, Language and the law in South Africa and beyond – Language and crime: Issues in forensic linguistics.

Sy het vir drie jaar in die onderwysomgewing gewerk en daarna vier jaar grotendeels as ʼn navorser. Sy dien ook tans as voorsitter van die direksie van die Afrikaanse Taalraad en as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie.

Charmain Kruger

Charmain Kruger

BAHons (Geografie)
Dosent:
Professionele Studies

Charmain Kruger is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA-honneursgraad in Geografie asook ʼn hoëronderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Sy is tans besig met ʼn MEd in Onderwysleierskap en Bestuur (meestersgraadverhandeling) aan die Noordwes-Universiteit. Kruger se navorsingsfokus is die invloed van ʼn kliëntgesentreerde bestuursbenadering op gehalte onderwys in laerskole. Tydens die suksesvolle beoefening van haar onderwysloopbaan in die vak Sosiale Wetenskappe (Geografie en Geskiedenis) is sy ook aangewys as die beste laerskoolonderwyser (senior fase) in Gauteng in 2019. Sy het twaalf jaar as onderwyser gepraktiseer.

DJ Cloete

DJ Cloete

MA (Algemene Taal- en Literatuurwetenskap)
Dosent:
Professionele Studies

DJ Cloete is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. Cloete het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie was hy was ʼn lektor in taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getitel Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). Cloete se navorsingbelangstellings is Variasietaalkunde en Rekenaargesteunde taalonderrig. 

Esmé Leus

Dosent:
Professionele Studies

Esmé Leus is ʼn deeltydse dosent in Rekenaarvaardighede by Akademia en het ʼn baccalaureusgraad in Tegnologie asook ʼn meestersgraad in Inligtingstegnologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Haar navorsingsfokus is die evaluering van die IT-komponent in toerisme- en gasvryheidskurrikulums. Sy het meer as ʼn dekade se ondervinding as dosent in tersiêre onderrig in inligtingstegnologie, en sy spesialiseer ook in bestuursinligtingstelsels.

Karien Brits

Karien Brits

Dosent:
Professionele Studies

Karien Brits is ʼn dosent in Sepedi as Gesprekstaal by Akademia en het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Karien se navorsingsfokus is meertaligheid en taalbeplanning, maar sy stel ook belang in taalverwerwing, morfologie, taaltegnologie en onomastiek. Haar groot liefde vir taalaanleer vind neerslag in die praktyk en sy het die volgende tale op haar kerfstok: Duits, Pools, Spaans, Frans, asook van die Sotho- en Ngunitale. Sy is tans besig om Turks en Russies aan te leer. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn artikel in die South African Journal of African Languages oor taalstereotipering en meertaligheid. Akademiese toekennings sluit in die beste honneursstudent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy is al vir bykans twee dekades in die universiteitswêreld betrokke en was werksaam by die Noordwes-Universiteit, die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan (Pole) asook die Universiteit van Johannesburg. 

Mariaan Oschman

Mariaan Oschman

BComHons (Ondernemingsbestuur in Bemarkingsbestuur)
Dosent:
Professionele Studies

Mariaan Oschman is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia. Sy het ʼn BCom-graad in Bemarkingsbestuur, asook ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Sy het ses jaar as ʼn onderwyseres in Ekonomie en Besigheidstudies gepraktiseer. 

Marnelda De Beer

Marnelda De Beer

MEd (Inligtings- en Kommunikasietegnologie)
Dosent:
Professionele Studies

Marnelda de Beer is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia. Sy verwerf haar BEd-honneursgraad in Opvoedkundige Sielkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en ʼn meestersgraad in Inligtings- en Kommunikasietegnologie (Opvoedkunde) aan die Universiteit van Johannesburg (UJ). De Beer se navorsingsfokus is Afrikaans Huistaal en Leesonderrig (grondslagfase). Sy is een van die medeskrywers van ʼn leesgids asook ʼn hoofstuk in ʼn boek in die opvoedkundeveld. Vir meer as twintig jaar praktiseer sy as ʼn onderwyser en vir ses jaar as grondslagfasespesialis. Sy doseer tans die volgende modules: Afrikaans Huistaal (grondslagfase), Inligtings- en Kommunikasietegnologie (grondslag- en intermediêre fase), Proefonderwys en Opvoedkunde vir vroeëkindontwikkeling.

Michelle van Dyk

MTech (Drama)
Dosent:
Professionele Studies

Michelle van Dyk is ʼn deeltydse dosent in die Fakulteit Opvoedkunde. Sy het ʼn meestersgraad in Drama- en Filmstudie aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie verwerf. Van Dyk het uitgebreide ervaring in die onderrig van toneelspel en het by hoëronderwysinstellings onderrig; sy was ook hoof van die dramadepartement by ʼn hoërskool en het op ʼn paneel gedien vir kurrikulumontwikkeling van Dramatiese Kunste vir graad 10 tot 12, namens die Gautengse Departement van Onderwys. Michelle het ook vaardigheidsklasse in Improvisasie vir professionele sowel as amateurakteurs in Amsterdam gelei. Sy het praktiese ervaring in die vermaaklikheidsbedryf, waar sy werksaam was in kinderteater, poppespel en as assistentproduksieontwerper. Akademiese toekennings sluit in die toekenning vir beste ondersteunende hoofrol in ʼn produksie, asook beste akademiese prestasie in die Dramadepartement aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie.

Monique Alberts

BAHons (Engelse Studies)
Dosent:
Professionele Studies

Monique Alberts is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Verdere Onderwys en Opleiding asook ʼn honneursgraad in Engels Letterkunde en in Opvoedkunde met ʼn fokus op leerderondersteuning (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Suid-Afrika onderskeidelik verwerf. Sy is tans besig met ʼn meestersverhandeling in Opvoedkunde. Alberts se navorsingsfokus is Engels as taal van onderrig en leer.

Moreen Coetzee

Moreen Coetzee

MEd (Fisiese Wetenskappe-Onderwys)
Dosent:
Professionele Studies

Moreen Coetzee is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BSc-graad in Fisiologie en Biochemie, asook ʼn professionele onderwyskwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het beide ʼn honneurs- en meestersgraad in Fisiese Wetenskappe-onderwys aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Haar meestersgraadverhandeling lewer twee artikels wat onderskeidelik in die volgende joernale gepubliseer is: Perspectives in Education en African Journal of Research in Mathematics, Science and Technology Education.Sy het vir sewe jaar in die onderwysomgewing gewerk met deeltydse ervaring as navorser. Coetzee se navorsingsbelangstelling is navraaggebasseerd t.o.v. onderwys en leer, en die konteks daarvan in Suid-Afrikaanse klaskamers.

Dr. Nic de Jager

Dr. Nic de Jager

PhD (Opvoedkunde)
Dosent:
Professionele Studies

Dr. Nic de Jager doseer in die Fakulteit Opvoedkunde en spesialiseer in Engels vir beide die BEd- en NGOS-programme. Hy het ʼn baccalaureusgraad in Onderwys (Senior Fase- en VOO-onderwys) aan die Noordwes-Universiteit verwerf, en daarna ʼn BA-honneursgraad in Engelsonderwys, ʼn MA in Toegepaste Taal en Geletterdheidsonderwys en ʼn PhD in Onderwys aan die Universiteit van die Witwatersrand. De Jager se passie vir onderrig en opvoeding lê in die kunste, letterkunde en verskeie digitale platforms, en die geleenthede wat hierdie areas vir kreatiewe uitdrukking en selfverwesenliking bied. Hy praktiseer sedert 2011 as onderwyser, vakhoof en dosent by verskeie sekondêre sowel as tersiêre onderriginstellings, onder meer Universiteit van die Witwatersrand en Tshwane-Universiteit vir Tegnologie. Hy het sodoende grondige praktykervaring as opvoeder in beide die hoërskool- en universiteitskonteks opgedoen. Sy navorsingsfokus is multimodale pedagogiek, spesifiek die toepassing van alternatiewe onderrigstrategieë in die ontsluiting van voorgeskrewe vakkennis. Sy gepubliseerde werk sluit akademiese artikels asook illustrasies vir boeke in. Sy nuutste gepubliseerde artikel is getiteld “Reading Gamefully: Videogamification as Multimodal Pedagogy for High School Setworks”.

Santie Louw

Santie Louw

MSc TEd
Dosent:
Professionele Studies

Santie Louw is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn MSc TEd-graad in Wiskunde-onderwys in hierdie dissipline aan die Universiteit van Oxford verwerf, asook ʼn honneursgraad in Wiskunde aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). Sy verwerf ook ʼn BTh honneursgraad. Louw se navorsingsfokus was die opleiding van Wiskunde-onderwysers in ʼn vakleerlingmodel. Sy het vyf-en-dertig jaar as Wiskunde- en Wetenskaponderwyser gepraktiseer. 

Brianda Bester

Brianda Bester

MEd (Onderrig en Leer)
Junior dosent:
Professionele Studies

Brianda Bester is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Grondslagfase-onderwys (cum laude) asook ʼn honneurs- en meestersgraad in Onderrig en Leer (cum laude) aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Akademiese toekennings sluit in: beste akademiese wiskundestudent oor vier jaar. Sy het vir een jaar as deeltydse dosent in Wiskundige Geletterdheid by die NWU klasgegee. Bester het vir twaalf jaar as grondslagfaseonderwyseres gepraktiseer, waarvan agt daarvan as Engelse vakhoof was. Sy doseer tans die volgende modules: Algemene Pedagogiek en Engels Eerste Addisionele Taal-onderwys (grondslagfase).

Annette Botes

BAHons (Sielkunde)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Annette Botes is ʼn dosent in Lewensvaardighede (musiek) by Akademia en het ʼn nasionale diploma in ligte musiek (Pretoria Technikon), ʼn diploma in kontemporêre musiek en musiekopvoedkunde (Contemporary Music College), ʼn BA-graad in musiek asook ʼn honneursgraad in Sielkunde van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy het drie dekades se ondervinding in die onderrig van verskeie aspekte van musiek, insluitend klasmusiek, klavier en sang. Sy is ook ʼn geregistreerde berader en tans besig met ʼn nagraadse sertifikaat in spelterapie.

Prof. Arend Carl

DEd (Kurrikulumstudies)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Prof. Arend Carl is ʼn deeltydse dosent in Sosiale Wetenskappe-onderwys (SF), sowel as Geskiedenisonderwys (VOO) by Akademia. Hy het ʼn BA, BAHons in Geskiedenis, Hoër Onderwysdiploma, BEdHons, MEd en DEd aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy was 35 jaar verbonde aan die Departement Kurrikulumstudie se Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy onder andere visedekaan van Onderrig en Leer was. Arend se navorsingsfokusse is Kurrikulumstudie en Sosiale Wetenskappe. Hy het wyd op hierdie gebied gepubliseer en etlike referate by beide nasionale en internasionale konferensies gelewer. Hy dien op die redaksie van Tydskrif vir Geesteswetenskappe, sowel as Yesterday&Today. Sy boek, Teacher empowerment through curriculum development: Theory into practice (tans in die 5de uitgawe), word wyd aan Suid-Afrikaanse universiteite in onderwysersopleiding gebruik. 

Celeste Labuschagne

Celeste Labuschagne

MEd (Inligting- en Kommunikasietegnologie)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Celeste Labuschagne is ʼn deeltydse dosent in Opvoedkunde by Akademia. Labuschagne het ʼn BSc-graad in Chemie en Biochemie, ʼn honneursgraad in Biochemie met Metabolisme as spesialiteit asook ʼn Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU) verwerf. Sy verwerf ook ʼn Nagraadse Diploma in Delphi-Programmering vir Onderwysers asook ʼn meestersgraad in Inligtingstegnologie en Kommunikasietegnologie-onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy was vir 24 jaar ʼn hoërskool onderwyser waarvan twee jaar as departementshoof vir Natuurwetenskappe en tien jaar as adjunkhoof was. Vanaf 2019 was sy betrokke by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum waar sy in die hoedanigheid as Wolkskooldosent in Fisiese- en Natuurwetenskappe begin het. Tans bied sy opleiding aan onderwysers as vakspesialis in die Wetenskappe en Robotika. Sy is ook in beheer van die Rassie Erasmus-sportvereniging.

Prof. Erna du Toit

PhD (Didaktiek)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Prof. Erna du Toit is ʼn deeltydse dosent in Lewenswetenskaponderwys aan die Fakulteit Opvoedkunde. Sy verwerf onder andere die volgende kwalifikasies: ʼn hoëronderwysdiploma, BScHons (Plantkunde); MEd en haar PhD in Didaktiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy begin haar hoëronderwysloopbaan aan die destydse Vista Universiteit vanwaar sy gesekondeer word na die Universiteit van die Vrystaat. In 2014-2018 word sy deel van die akademiese span wat die onderwysprogramme aan die nuutgestigte Sol Plaatje-universiteit geïmplementeer het. Tans tree sy as opvoedkundekonsultant op.

Sy het verskeie publikasies, hoofstukke in boeke, en boeke die lig laat sien asook nasionale en internasionale referate gelewer. As studieleier en ook medestudieleier het vier doktorale en tientalle MEd-studente hulle studies suksesvol voltooi.

Johan Koekemoer

MEd (Wiskunde-onderwys) Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Johan Koekemoer het studeer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) asook die Universiteit van Pretoria. In 2012 verwerf hy sy BIng-graad in meganiese ingenieurswese, waarna hy rigting verander het na onderwys om in sy roeping te volhard. Tussen 2013 en 2017 voltooi hy sy nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) asook sy honneurs in Wiskunde-onderrig. In 2017 lewer hy die bevindings van sy navorsingsprojek (Aligning mathematics taught in the intermediate phase, with afterschool enrichment programs, to respond to a changing engineering education landscape) by die tweejaarlikse internasionale kongres van die Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Ingenieurs opvoeding (SASEE). In 2017 voltooi hy ook ’n Wiskunde-onderrigkursus by die Freudenthal Instituut aan die Utrecht Universiteit in Nederland. Sedert 2018 is hy werksaam by die Skoleondersteuningsentrum as die hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers. Hy lewer ook vanjaar sy meestersgraadskripsie rakende Wiskunde-onderwys en die integrering van tegnologie.

Dr. Louisa Stoker

Dr. Louisa Stoker

PhD (Pastorale Berading)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Dr. Louisa Stoker is ʼn deeltydse dosent in Opvoedkunde by Akademia. Sy beskik oor ʼn BA-graad in Sielkunde, Duits en Toerisme, asook ʼn BTh-graad in Pastorale Berading. Verder beskik sy oor ʼn BScHons-graad in Kliniese Sielkunde, ʼn meesters- en doktersgraad in Berading (cum laude), sowel as ʼn Nagraadse Onderwyskwalifikasie (NGOS) met Lewensoriëntering en Afrikaans as hoofvakke. Sy verwerf hierdie kwalifikasies onderskeidelik aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) en UNISA. Stoker se navorsingsfokus is veral op emosionele manipulasie as deel van verskillende tipes mishandeling in interpersoonlike verhoudings. Haar mees onlangse werk is as spreker by die International Cultic Studies Association se jaarlikse internasionale konferensie, waarná sy ʼn referaat met die tema: “How divorce counselling could be used to navigate the emotional turmoil and practical implications when a client is divorcing a cult member, and there are children involved”, sal inhandig. Sy gesels ook as kenner op verskeie televisie- en radioprogramme. Haar akademiese toekennings sluit die volgende in: die Spesiale prestasie-toekenning vir ʼn uitsonderlike meestersgraad; die Prestasie-toekenning vir die beste student in Afrikaans-didaktiek; en die Pro Reformando Trust-toekenning. Sy het tien jaar as onderwyser en/of dosent gepraktiseer en tien jaar as berader en/of mediator.

Marizahn Wentzel

MA (Sport- en Rekreasiebestuur, Korporatiewe Welstand)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Marizahn Wentzel is ʼn deeltydse dosent in Lewensvaardighede in die BEd-program by Akademia. Wentzel het ʼn BA-graad in Menslike Bewegingskunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Daarna verwerf sy haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aan die Noordwes-Universiteit. Sy behaal ook ʼn honneursgraad en ʼn meestersgraad (cum laude) in Sport- en Vryetydstudies aan die Universiteit van Pretoria. Haar verhandeling se titel was Corporate Wellness Programs in South Africa: Contexualising Pitfalls Rendering Businesses from Achieving a Culture of Wellness.

Wentzel se akademiese toekennings sluit in akademiese erekleure namens die Studenteraad van die Universiteit van Pretoria. Sy het vyf jaar as onderwyser gepraktiseer. 

Riana Manley

BAHons (Engels)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Riana Manley is ʼn dosent in Professionele Studies by Akademia. Sy het ʼn BA (Tale)-graad, asook ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat en honneursgraad met spesialisasie in Engels aan, onderskeidelik, die Universiteit van Pretoria en Unisa verwerf. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn gids, Applied English Literature Foundation Phase First Additional Language by Unisa. Sy het agttien jaar as Engels Huistaal- en Eerste Addisionele Taal-onderwyser gepraktiseer, waarvan vier jaar as departementshoof was. Gedurende 2023, was sy ʼn nasionale eksaminator vir SACAI. Sy het ook as eksterne merker en tutor vir Unisa gepraktiseer.

Simone´ Cloete

Simoné Cloete

BAHons (Geskiedenis)
Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Simoné Cloete is ʼn deeltydse dosent in die departement Professionele Studies by Akademia en het ʼn BA-graad in Engels, Sielkunde en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy behaal ʼn honneursgraad in Geskiedenis aan Bath Spa University in Engeland met ʼn hooffokus op die konsentrasiekampe tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog. Sy het ook ʼn diploma in Kreatiewe Skryfkuns voltooi aan die South African Writers College.

Dr. Viné Petzer

Deeltydse dosent:
Professionele Studies

Dr. Viné Petzer is ʼn dosent in Rekeningkunde-onderwys (VOO) by Akademia en het ʼn BCom-graad (cum laude), ʼn nagraadse onderwysdiploma asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Onderrig en Leer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Sy het ook haar doktorsgraad ontvang na aanleiding van ʼn verhandeling oor ʼn model om positiewe rekeningkundige klaskameromstandighede te skep wat suksesvolle leer op skool ondersteun. Petzer se navorsingsbelangstellings is tans gefokus op die verbetering van onderrig- en leerstrategieë in rekeningkunde, met die doel om kognitiewe ontwikkeling onder leerders sowel as voordiensonderwysers te bevorder. Sy is ook besig om artikels vir publikasiedoeleindes in ʼn internasionale geakkrediteerde tydskrif te finaliseer. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in ʼn boek oor “Quality education: The nexus of human capital development, economic growth and social justice in a South African context” by die NWU, en het sy ook bygedra tot ʼn hoofstuk in die boek Developing Critical Thinking. Sy het 25 jaar ervaring in onderwys op skool- en hoëronderwysvlak.

AKADEMIESE ASSISTENTE

Marizahn Wentzel

MA (Sport- en Rekreasiebestuur, Korporatiewe Welstand)
Deeltydse akademiese assistent: Opvoedkunde

Riekie le Roux

Riekie le Roux

Deeltydse akademiese assistent: Opvoedkunde

ADMINISTRATIEWE BEAMPTES

Nadia Herbst

Nadia Herbst

Koördineerder:
Werkgeïntegreerde leer

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE