Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-kundige: Steier Suid-Afrika op die rand van ʼn fiskale afgrond?

Gepubliseer op: 26 Oktober 2023

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia.

Verskeie kundiges is dit eens: die staat is in die moeilikheid en bevind homself op die rand van ʼn fiskale afgrond. Gedagtig aan dié dilemma is die vraag op almal se lippe: “Hoe gebeur so ʼn ineenstorting?” Die realiteit van die saak is dat die hutspot van die Suid-Afrikaanse politieke onsekerheid en toenemende strukturele probleme toenemend druk op almal en alles plaas.

Die rol van die staat is onder andere om dienste en infrastruktuur aan landsburgers te verskaf. Op plaaslike bodem sukkel talle huishoudings elke dag aan die hand van ontoeganklike en vervalle infrastruktuur. Dink maar byvoorbeeld aan die voorsienning van lopende water. Die Verenigde Nasies (VN) het op 28 Julie 2010 die toegang tot water en sanitasie erken as ʼn basiese mensereg (Resolusie 64/292). Dié resolusie stel dit dat die mensereg in terme van toegang tot water onontbeerlik is om ʼn lewe in menswaardigheid te lei. Anders gestel: toegang tot water is ʼn voorvereiste vir die verwesenliking van ander menseregte. Vandag, meer as dertien jaar later is Suid-Afrika se vervalle waterinfrastruktuur die bron van groot frustrasie en ongelukkigheid vir derduisende vir wie watervoorsienning net (nog) ʼn pypdroom is.

Die blaam vir dié frustrasie, en talle ander, kan voor die deur van ʼn populistiese regering geplaas word, wat met leë beloftes poog om die 2024-verkiesing te wen. Dit is binne hierdie konteks dat ʼn reeds stram ekonomie die fiskus verder onder ontsaglike druk plaas. Gegewe die mediumtermynbegroting wat eersdaags aangekondig word, wag almal van ekonome, beleidsvormers en Jan Alleman angstig op die planne wat uiteengesit gaan word vir die volgende drie jaar. Alhoewel Suid-Afrika fiskale konsolidasie benodig, oftewel ʼn verlaging van owerheidsuitgawes en ʼn verhoging van staatsinkomste, is dit egter te betwyfel of dit wel sal realiseer.

Op die keper beskou verteenwoordig staatsfinansies uiteindelik die verskil tussen owerheidsuitgawe en -inkomstes, wat in die meeste gevalle ʼn tekort genereer. ʼn Gedeelte van hierdie tekort word deur belastinginkomste gegenereer, terwyl die oorskot deel uitmaak van die staatskuld wat deur die toekomstige generasies van ons land gedelg gaan moet word.

Owerheidsuitgawes

In beginsel is dit eenvoudig om die staatsbegroting te bestuur: verminder uitgawes en vermeerder inkomste. Neem byvoorbeeld die aantal provinsies en oneffektiewe staatsentiteite wat tans onderhou word. Is dit regtig nodig?

Provinsies en munisipaliteite kan gekonsolideer word, wat kostes geweldig sal besnoei. Staatsdepartemente kan op hul beurt onnodige uitgawes soos uitspattige ampsmotors, partytjies en reise kortknip en vermorsing dienooreenkomstig besnoei.

Ongelukkig het staatsbesteding sedert 2015 verskuif vanaf investering en die uitbou van infrastruktuur na verbruik, wat ekonomiese ontwikkeling kniehalter. Items soos die astronomiese salarisrekening van die staat en die rente wat op staatskuld gehef word, is van die grootste knelpunte wat oënskynlik nie reggeruk kan word nie. Die implikasie hiervan is dat Suid-Afrika ʼn kantelpunt bereik het en dat salarisse, toelaes en rente op bestaande skuld die inkomste van die staat oorskry en verswelg.

Op hierdie stadium lyk dit hoogs onwaarskynlik dat die staat die vermoë het om besteding in te perk en is die druk om byvoorbeeld sosiale toelae te vermeerder, betekenisvol. Soos wat ekonomiese omstandighede verder verswak, word dié druk al hoe meer op sosiale besteding met die gevolg dat armoede sowel as die gepaardgaande behoefte aan addisionele sosiale besteding toeneem. Hiervan getuig die staat se pogings om nie net die inkomstetoelaag van R350 te bly finansier nie, maar ook ʼn rits ander sosiale toelaes soos die SASSA-ouderdomspensioen en die NSFAS-toelae vir studente. Hierdie toelaes het met die verloop van tyd astronomies toegeneem.

Werkloosheid is histories hoog en sosiale onrus is ʼn werklikheid. Hiermee saam blyk die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in ʼn krisis te verkeer en word Suid-Afrika as een van die swakste presterende land onder lae- en middelinkomste lande geplaas. Voeg hierby omgewingsfaktore soos die stygende voorkoms van ramptoestande weens vloedskade en brande, en dit word duidelik dat die fiskus steier onder toenemende druk.

Staatsinkomste onder druk

Belasting is die hoofbron van inkomste vir die staat aldus die Suid-Afrikaanse Reserwebank en Statistiek Suid-Afrika (SSA). Data toon dat persoonlike inkomstebelasting (PIT) op 35,5% steeds die belangrikste inkomstebron is, gevolg deur belasting op toegevoegde waarde (BTW) op 25% en korporatiewe belasting (CIT) op 20,7%. Ongelukkig is dié bronne besig om af te neem weens die voortslepende lae vlakke van ekonomiese aktiwiteit.

Hierbenewens is daar ʼn uittog van belastingbetalers wat dié belastingbasis verder verklein. Belastingvermydingspraktyke vind daarom meer geredelik plaas omdat huishoudings nie die druk kan weerstaan nie. Gedurende die 2021-belastingjaar was die belastingbasis reeds beperk tot 6,4 miljoen betalers wat nie voldoende is vir die toenemende behoeftes nie. Slegs 21,4% van groot firmas het in daardie jaar ʼn wins getoon en veral die mynbousektor is onder druk geplaas weens laer internasionale minerale pryse en verhoogde produksiekostes. Die implikasie hiervan is dat die belastinggaarder met aansienlik minder belastinginkomste moet sien kom klaar.

Dit is kommerwekkend dat BTW nou as ʼn aantreklike bron van staatsinkomste beskou word. Die nasionale tesourie het reeds genoem dat hy graag BTW met tot twee persentasiepunte wil verhoog. Solidariteit het in reaksie hierop sy skok uitgespreek en dit as “waansinnig” bestempel omdat huishoudings alreeds swaar trek weens stygende lewenskostes. Die ironie is dat arm huishoudings wat reeds aan die korste end trek dan nog verder onder druk sal verkeer.

ʼn Ander alternatief om staatskoffers te vul is om lenings aan te gaan. Suid-Afrika se insluiting op die internasionale gryslys sedert Februarie vanjaar, maak dié proses egter problematies. Die land se gryslysstatus beteken dat ons meer vir lenings moet opdok terwyl die rentekoerse op diesulke lenings skerp toeneem. Ongelukkig stel buitelanders nie meer daarin belang om ons staatseffekte te koop nie. Ten spyte van die aantreklike koerse, verkoop die buitelandse sektor ons effekte eerder as om dit aan te koop. Die tendens wat bespeur word, is dat plaaslike beleggers ook nie juis gretig is nie. Hierbenewens word die Reserwebank en ander finansiële instellings beperk deur wetgewing om nie te veel staatskuld op te neem nie, wat ʼn betekenisvolle probleem word. Die kapitaaluitvloei en vermindering van diepte in finansiële markte en likwiditeit is kommerwekkend.

Die effekte-uitgifte deur die BRICS New Development Bank van R1,5 miljard wat voorts as ʼn positiewe alternatief gelyk het moet uiteindelik ook gefinansier word.

Fiskale staatskuld

Toenemende staatskuld is ʼn bron van bekommernis. Suid-Afrika se staatskuld het toegeneem van 30,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) op 31 Maart 1982 tot 70,9% van die BBP op 31 Maart 2023.

Sakeliga het onlangs berig dat hierdie skuld in 2023 met sowat R100 miljard per kwartaal sal toeneem. Die onmiddellike implikasie van die stygende skuldlas is die gepaardgaande toename in die rente op staatskuld. As gevolg van die hoë vlak van staatskuld en rentekoerse, word meer as 10 sent uit elke rand tans gebruik om dié rente te delg. Hierdie koste is niks anders as ʼn vermorsing nie aangesien dit geld uit die fiskus neem om belangrike projekte te finansier wat uiteindelik ekonomiese groei kniehalter.

Wat kan ons doen?

Dit bly elke Suid-Afrikaner se eie verantwoordelikheid om deel te neem aan die komende verkiesing en openbare debat ten einde beter ekonomiese beleid na te streef. Daarby behoort die privaatsektor toenemend betrokke te raak en die land in staat stel om die ekonomie vir die toekomstige generasies uit te bou.

Indien ons kan privatiseer en lomp staatsondernemings verkoop of selfs skrap kan dit ʼn welkome bron van inkomste verseker. Die Poskantoor is ʼn voorbeeld waar die private sektor ʼn veel beter diens lewer as wat ooit deur die Poskantoor as staatsentiteit verrig kon word.

Indien jy wil sin maak van die begroting en ekonomie klik gerus hier vir meer inligting oor die Begroting en fiskale beleid-kortkursus van Akademia et al. Hierdie kortkursus bied aan individue en voornemende sakelui die geleentheid om die begroting en ekonomiese omgewing te verken wat ʼn impak op sakebedrywighede het.

Dr. Sandra Adendorff meen Suid-Afrika se brose fiskale realiteit kan toegeskryf word aan die land se enorme staatskuld. Hierdie skuldlas hou ʼn daadwerklike bedreiging in vir toekomstige generasies.