Search
Close this search box.

Fonties ploeg terug in die gemeenskap met Omgeeweek

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

Gedurende die week van 3 Julie het die opgewondenheid by Akademia hoog geloop te danke aan Omgeeweek wat aan die Fonties die geleentheid gebied het om terug te ploeg aan hul gemeenskap.

Robyn Visagie, studenteraadslid met die portefeulje Gemeenskap en Sosiaal, beskryf die doel van Omgeeweek as volg: “Die doel van Omgeeweek is om terug te ploeg in ons gemeenskap en studente se betrokkenheid aan te moedig deur skenkings of vrywillige werk te doen by instansies wat ons besoek.”

Omgeeweek is afgeskop met die insamelingskompetisie tussen die Akademia-studente se drie koshuise. Daar was van Fonties verwag om items uit drie verskillende kategorieë te bring. Die items is verdeel in klere, kos en enige ander items soos byvoorbeeld skryfbehoeftes, toiletware, ensovoorts. Aan die einde van elke dag is die klere, kos en ander items geweeg en getel om vas te stel watter koshuis die meeste ingesamel het. Huis Valorem het met die prys onder die vin huis toe geswem en die ander koshuise groen van jaloesie gelaat. Alhoewel al die koshuise nie met ʼn prys kon wegstap nie, kon hulle met ʼn glimlag wegstap aangesien al die items aan Solidariteit Helpende Hand geskenk is.

Studente kon op die tweede dag van Omgeeweek hul hare verskeie interessante kleure spuit teen ʼn klein fooi wat gebruik word vir navorsing en ondersteuning van pasiënte wat tans of in die verlede met kanker gediagnoseer is, danksy CANSA. Verder het omgee in vorm van bloed gevloei by SANBS tydens die bloedskenkings wat tot en met drie lewens kan red per skenking. Die Gehoorinstituut het studente se gehoor getoets op kampus en so ook bewustheid geskep vir gehoorprobleme. Red Cross was ook op dag twee teenwoordig op kampus, en het vir studente meer oor hulself vertel.

Elke Fontie wat aan vier van die instansies se aksies deelgeneem het, het ook ʼn koppie warm sjokolade as beloning gekry. Met die aanbreek van dag drie is Fonties bekendgestel aan Wollies wat verskeie diere versorg. Ter afsluiting van Omgeeweek het die studente ook omgee vir mekaar getoon met ʼn heerlike braai en saamkuier.

Visagie verduidelik dat die skenkings, asook die deelname van die studente se kant af eksponensieel gegroei het in vergelyking met verlede jaar se Omgeeweek. “Nie net was die deelname meer nie, maar ook die aantal instansies wat betrokke was. Die studenteraad beoog om die volgende Omgeeweek nog groter te maak en meer instansies betrokke te kry,” verduidelik sy.

Omgeeweek het nie net ʼn verskil gemaak in die gemeenskap nie maar ook in Fonties se perspektief oor die lewe. Daar is drie verskillende plakkate gedruk met die woorde “hoop”, “omgee” en “dankbaarheid” waarop die studente kon skryf wat die woord vir hulle beteken. Alhoewel dit na ʼn eenvoudige aktiwiteit klink, het dit ʼn denkproses by die studente ontlok – hulle moes nadink en kon weer besef wat hulle alles het om voor dankbaar te wees.

Die week was propvol liefde, omgee, baie herinneringe en dankbaarheid. “Ons wil hê Akademia-studente moet aktief betrokke wees in ons omgewing en gemeenskap. Hulle moet regtig optree as pioniers, en die konsep van ‘omgee’ nie net toepas tydens hierdie week nie, maar elke dag,” sluit Visagie af.

Fonties kon tydens Omgeeweek aan verskeie aktiwiteite deelneem soos hul hare met verf spuit ten bate van CANSA of bloed skenk by SANBS.
Fonties het in koshuisverband klere ingesamel wat aan Helpende Hand geskenk is.
Solidariteit Helpende Hand het verskeie skenkings ontvang tydens Omgeeweek 2023.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.