Search
Close this search box.

Die Fontiemark: Akademia se opwindende nuwe tradisie

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Fonties het onlangs hul heel eerste markgeleentheid aangebied, gereël deur die sosiale komitee. Die Fontiemark het gesorg vir ʼn dag gevul met kos, speletjies en ʼn lewendige markatmosfeer. Die mark het uit agtien stalletjies bestaan wat elkeen unieke produkte en dienste gebied het.

Die mark het begin met stalletjies wat om 08:00 opgeslaan het, waarna die hekke om 10:00 vir Akademia-studente, -personeel en die publiek oopgemaak het. Die geleentheid het tot en met 13:00 geduur waarna kunstenaars van 13:00 tot 14:00 opgetree het. Stalletjie-eienaars is verplig om die perseel netjies te laat om boetes te vermy.

Om gladde transaksies te vergemaklik, moes elke stalletjie sy eie kleingeldkas vir verkope voorsien. Akademia het dit duidelik gestel dat hy nie verantwoordelikheid aanvaar vir stalletjies wat nie gelyk breek of voldoende wins genereer nie, wat die entrepreneuriese aard van die mark beklemtoon. Stalletjies was beperk tot tussen twee en vier lede om billike deelname en optimale spasiebenutting te verseker.

Vir stalletjies wat goedgekeur is om op Leriba te verkoop, is ʼn vooraf-inligtingsessie op die oggend van 1 Julie geskeduleer, met instruksies en riglyne vir suksesvolle verkope en betrokkenheid. Stalletjie-eienaars is aangemoedig om hul eie vullisverwydering of dromme saam te bring om netheid te handhaaf.

Akademia se eerste markgeleentheid het die kreatiwiteit, entrepreneursgees en gemeenskapsbetrokkenheid van sy studente beklemtoon. Met billike deelname, verantwoordelike optrede en ʼn lewendige markatmosfeer het die geleentheid die weg gebaan vir toekomstige Fontiemarkte om selfs meer merkwaardig te wees.

Stalletjies by die Fontiemark het behoorlik hul vere reg geskud vir die geleentheid.
Die Bafé-stalletjie, wat koffie verkoop het, besig om gereed te maak vir die Fontiemark.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.