Search
Close this search box.

ʼn Pa soos geen ander nie

Geskryf deur Megan Ferreira, Fontiepos-joernalis

Die woord “pa” laat my dink aan die figuur wat saam met sy kinders om die vuur sit en malvalekkers braai, terwyl hy na elkeen se storie luister. ʼn Pa is nie altyd ʼn man van staal of iemand wat altyd die antwoord op ʼn moeilike vraag het nie, maar hy is definitief iemand om na op te kyk in tyd van nood – om jou op te tel, jou trane af te vee en saam met jou die pad aan te durf. ʼn Pa is dalk nie die heeltyd betrokke in ons lewens nie, maar maak altyd ʼn verskil, maak nie saak hoe klein of hoe groot nie. Hy weet wat jou pla, wat jou die heel diepste pla en hy sal jou altyd laat probeer glimlag, al wil jy hoegenaamd glad nie glimlag nie.

Hy is daar wanneer jy jou eerste eksamen skryf op laerskool, op hoërskool en dan uiteindelik op universiteit. Hy is die een wat jou eerste afneem met jou toga oor jou skouers en miskien ook die een wat saam met jou malvapoeding bak om die geleentheid te vier. ʼn Pa is daar om elke geleentheid en gebeurtenis saam met jou te beleef, jou hand te neem en jou oor te gee aan die volgende persoon, of om daardie nuwe groot stap in jou lewe te neem. Hy sê dalk nie altyd vir jou hoeveel hy jou waardeer nie, maar sy hart loop oor van trots.

Hy sal jou vashou tot die einde van die dae en jou oppas totdat jy sy nes moet verlaat. ʼn Pa kan soms treur, en voorgee dat daar geen fout is nie, sodat jy hom nie met rooi oë hoef te sien, of om jou hartseer te maak nie. Hy sal jou altyd eerste stel, en jou bemoedig in jou moeilikste dae, sowel as om al die moeilike besluite saam met jou te neem of net om raad te gee. Hy staan dalk altyd gereed met die haelgeweer wanneer jy jou eerste kêrel of meisie kry, maar hy gee eintlik net baie om oor jou, en wil nie hê jy moet op enige manier seerkry nie.

Hy sien jou geluk, vrede, vreugde en hartseer, en sal altyd saam met jou reg sit met die sneesdoekies en ʼn bak koekies om jou hart weer heel te maak. ʼn Pa is jou steunpilaar, rots, held, model en onderwyser – altyd reg om te help en die beste vir jou te gee. Daarom is daar Vadersdag, om hierdie spesiale persoon te vier en jou waardering teenoor jou pa te toon.

Braaivleis soos net ʼn pa kan.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.