Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Studentepeiling dui op positiewe leerervaring

Gepubliseer op: 3 Oktober 2017

Akademia-studente is uiters tevrede met die programinhoud van hul kwalifikasies, die ligging van die studiesentrums, die interaktiewe na-uurse klasse en die digitale leerruimte, die Spens.

Dít is bevind na afloop van vanjaar se studentetevredenheidspeiling, waartydens die studente die geleentheid gebied is om aan Akademia terugvoer oor hul studie-ervaring te gee. Dié peiling stel Akademia in staat om sy ondersteuningstrukture aan studente te optimaliseer en studente se leerervaring selfs verder te verbeter.

Volgens Liana Venter, Akademia se registrateur, word die opname jaarliks gedoen om studente se tevredenheid met die diens wat Akademia as hoëronderwysinstelling bied te evalueer en aanpassings te maak waar daar moontlike gapings of tekortkominge is.

“Studente kon deur die loop van twee weke in Augustus ʼn aanlynvraelys voltooi. Nie al die vrae was multikeuse nie, sodat studente ook hulle mening kon gee en nie noodwendig slegs uit die gegewe antwoorde moes kies nie.”

Die ligging en toeganklikheid van die elf landswye studiesentrums het heelwat positiewe reaksie ontlok, terwyl studente ook uiters tevrede met die kwalifikasies se leerinhoud was. Akademia se digitale leerruimte, die Spens, het ook baie positiewe terugvoer ontvang. Hiér kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n podsending te luister.

Nog ʼn aspek waarmee Akademia se studente baie tevrede is, is die gerieflik interaktiewe na-uurse klasse. Die meerderheid van studente vind die kontaksessies waardevol en het aangedui dat die klasse ʼn belangrike positiewe bydraer tot hul studiesukses is, eerder as om bloot selfstudie tuis te doen.

Venter noem dat studente tevrede is met die model wat Akademia volg. “Ons hoop om dit elke jaar te verbeter, sodat studente die nodige ondersteuning tydens hul studies ontvang om dit suksesvol te voltooi en trotse ambassadeurs van Akademia te word.”

Akademia is tans besig om al die antwoorde te verwerk en ontleed, sodat positiewe aanpassings vir die 2018 akademiese jaar gemaak kan word om te verseker dat Akademia se studente die beste moontlike leerervaring in Afrikaans ontvang.