Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Amerikaanse studente besoek Akademia

Gepubliseer op: 12 Januarie 2017

’n Groep studente van die Carthage College in Wisconsin, VSA, het Akademia op 11 Januarie 2017 as deel van ’n studiereis na Suid-Afrika besoek.

Die studente het lesings bygewoon oor Suid-Afrika se grondwet en politieke stelsel, asook private en vrywillig georganiseerde burgerlike instellings se reaksie op gebrekkige staatsbestuur. Hierdie lesings het tot universiteitskrediete wat die studente vir hulle besoek aan Suid-Afrika verdien het, bygedra.

Prof Yuri Maltsev, professor van Ekonomie, het die groep begelei. Voordat prof Maltsev in 1989 na die VSA gevlug het, was hy lid van die Sowjetunie se senior ekonomiese span wat aan president Gorbatsjof se herstruktureringsprogram of “perestroika” gewerk het. Hy was ook ’n senior genoot aan die Verenigde State se Vredesinstituut in Washington, ’n federale navorsingsagentskap, waar hy uitvoerende beamptes binne die regering oor kwessies van nasionale sekuriteit en buitelandse ekonomiese invloed geadviseer het. Prof Maltsev het sy BA- en MA-grade aan die Staatsuniversiteit van Moskou behaal en sy PhD in Arbeidsekonomie aan die Instituut vir Arbeidsnavorsing in Moskou, Rusland.

Die buitelandse besoek dra by tot Akademia se visie om die wêreld na Afrikaanse studente te bring en aan Afrikaanse studente ’n wêreldwye platform te bied. Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, sê Akademia is hard aan die werk met die aanlê van internasionale betrekkinge. “Prof Maltsev is ’n gerekende ekonoom en invloedryke beleidskommentator in die VSA. Dit was vir Akademia heerlik om hom en sy studente te ontvang en ons sien uit daarna om dit volgende jaar te herhaal.”

Akademia bied aan studente die geleentheid om eersteklas hoër opleiding en opvoeding in Afrikaans te kry, om daardeur ’n bydrae in sowel die wêreld as in hul gemeenskap te lewer. Die instansie bied verskeie volledig-geakkrediteerde kwalifikasies deur middel van ’n hoëtegnologie-onderrigmodel wat dosente en studente in studiesentrums landswyd in virtuele studieruimte bymekaarbring.

Akademia brei sy landswye voetspoor van studiesentrums uit en is tans in Bloemfontein, George en die Paarl, naas verskeie bestaande sentrums in Gauteng en die Wes-Kaap.