Gepubliseer op: 14 Augustus 2025
Die datum 14 Augustus verteenwoordig voorwaar ʼn rooiletterdag op die gebeurlikheidskalender van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe – méér nog gedurende die eeufeesjaar van Afrikaans. Akademia, as ʼn trots onafhanklike hoëronderwysinstelling, vier vanjaar met gróót opgewondenheid sy moedertaalverbondenheid deur op Afrikaanse Taaldag die eerste vernuftige woordmeesters in die Woordmeesters*-taalkompetisie aan te wys. Dié taalkompetisie is aangebied in trotse samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Pretoria FM as mediavennoot.
Lo-Andro Erasmus, Elandri van Tonder en Gideon Wentink het op die dag behoorlik hul taalspiere gebult en het méér as 400 ander deelnemers in die stof laat byt vir die titel as Woordmeester. Hulle is onderskeidelik as die wenners in die skoolleerders-, studente- en publieke-kategorieë aangewys en is met ʼn rits pryse, insluitend kontant, bederf. Die borge van die kompetisie was Wolkskool, Skryfnet en Afrikaans.com.
In die aanloop tot die finaal moes deelnemers aanlyn via die Akademia-webblad registreer om aan dié vyfweeklange kompetisie deel te neem en weekliks op Pretoria FM inskakel om ʼn taalwenk van ʼn VivA-kundige te ontvang. Hierdie taalwenke het deelnemers voorberei vir die aanlyn taaltoets (daar was vyf toetse in geheel) wat vir elke Vrydag gestel was.
Die deelnemers in elk van die kategorieë wat op dié manier na die finale ronde gevorder het, het as volg daar uitgesien:
Skoolleerders
Lo-Andro Erasmus, Hoërskool Wonderboom
Studente
Xander Venter, Performing Arts Lifestyle Institute (PALI)
Publiek
Deserise Cocklin-Viljoen, Vryskuttaalpraktisyn
Só verloop die finaal
ʼn Volgepakte Boerneef-lokaal op Akademia se Leriba-kampus in Pretoria het behoorlik gegons in afwagting van ʼn dag propvol taalpret – van idiome en spelling tot betekenis en fynere taalnuanses.
Su-an Müller-Marais, bekende stemkunstenaar en aktrise, en Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, het as seremoniemeesters die dag se program gekoördineer. Hulle kwinkslae en woordkuns het die gehoor op die punte van hul stoele gehad tydens die drie uitdunrondes:
Vinnige vingers eerste! Die deelnemers moes die gonser druk en ʼn vraag binne vyf sekondes antwoord.
Die deelnemers identifiseer taalfoute en antwoord deur die regte spelling en taalgebruik aan te dui.
Taal- en feitekennis oor Afrikaans is tydens dié uitdunronde getoets.
ʼn Bewese en kundige paneel beoordelaars het gesorg dat elke ronde glad verloop en het deurgaans die deelnemers asook die gehoor se taalkennis gepoets. Die beoordelaars was:
Riaan Grobler, taaladviseur by VivA
ʼn Trotse viering van Afrikaans
Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verduidelik dat deelname aan die Woordmeesters-taalkompetisie nie net verbeterde taalbegrip en -gebruik aanwakker nie, maar óók help om Afrikaans aktief as onderrigtaal te onderhou en doelgerig te ontwikkel. “Hierdie kompetisie het dieper gedelf in die ryke wetenskap en tegniese aard van ons geliefde moedertaal, en dit is lekker om ook by wyse van hierdie benadering die veelheid van Afrikaans te kan geniet,” meen Swanepoel. Sy wens elk van die wenners van harte geluk en motiveer hulle om hul nuwe titel as Woordmeester gestand te doen en só verdere stukrag aan Afrikaans te gee.
Op haar beurt meen Coetzee dat dit van VivA se kant wonderlik was om te sien dat Akademia so baie inskrywings van dwarsoor die land vir dié kompetisie – wat vir die eerste keer aangebied is, ontvang het. “Dit is verblydend om te sien dat Afrikaanssprekendes so passievol is oor korrekte taalgebruik en dat hulle op hierdie manier die taal laat gedy,” sê Coetzee.
Pretoria FM, mediavennoot van die kompetisie, sê by monde van Belinda Pieterson, regs- en nakomingsbestuurder, dat dit lekker was om deel te wees van ʼn kompetisie wat mense, oud en jonk, opnuut opgewonde gemaak het oor Afrikaans as moedertaal. “As ʼn trots-Afrikaanse radiostasie klop ons hart warm vir die taal en was dit ʼn groot voorreg om op hierdie manier tot vanjaar se eeufeesvieringe te kon deelneem,” meen Pieterson. Sy voeg by dat die kompetisie baie leersaam was en dat verskeie taalskatte in die proses ontgin is. “Die kompetisie het beslis ʼn gevoel van heimwee onder die ouer garde ontketen, terwyl dit ook ʼn nuwe taalwêreld vir die jonger deelnemers oopgebreek het,” sluit Pieterson af.
*Die Woordmeesters-taalkompetisie skakel doelgerig in by Akademia se L-E-E-S!-projek. Dié projek, wat vroeër vanjaar bekendgestel is, verteenwoordig ʼn dinamiese samewerking met verskeie ander lede en inisiatiewe vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe ten einde leervaardighede en taalbegrip, veral onder skoolgaande kinders, te bevorder.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.