Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wêreldklas onderrig, wêreldwyd, in Afrikaans

Gepubliseer op: 6 Oktober 2020

Jou ligging, ongeag waar jy jouself in die wêreld bevind, hoef jou nie daarvan te weerhou om hoëronderwys in Afrikaans te ontvang nie. Gehalte-onderrig in Afrikaans by Akademia is nou moontlik vanaf enige plek in die wêreld! Vanaf 2021 sal Afrikaanssprekendes in die buiteland die geleentheid ontvang om ook ʼn kwalifikasie deur hierdie privaat hoëronderwysinstelling te voltooi. Hierdie is net nóg ʼn manier hoe Akademia Afrikaans op tersiêre vlak bevorder.

Navorsing het al deur en deur bewys dat moedertaalonderrig studente help om abstrakte konsepte makliker onder die knie te kry, omdat kognitiewe ontwikkeling juis in die moedertaal verhoog word. Deur konsepte beter te verstaan, maak dit oordrag na ʼn tweede of selfs derde taal heelwat makliker, en is studente uitstekend toegerus vir die werksplek. Moedertaal­onderrig skep ook ʼn mate van geborgenheid waarbinne studente tuis voel om in ʼn veilige leeromgewing deel te neem.

“Na talle navrae van persone in die buiteland wat graag in hulle moedertaal wil studeer, het Akademia besluit om hulle vanaf volgende jaar te akkommodeer,” sê Liana Venter, registrateur van Akademia. “Hierdie metode van onderrig vorm deel van die bestaande nauurse onderrigmodel, en sal buitelandse studente nou via e-leer aan hierdie onderrigmodel kan deelneem.”

Kontaksessies by Akademia is steeds verpligtend, alhoewel hierdie kandidate in die gerief van hulle eie wonings of werksplek – in Suid-Afrikaanse tyd – by kontaksessies kan aansluit. Nes die bestaande metode van onderrig, sal e-leerstudente ook na afloop van klasse toegang tot opnames ontvang. Optimale ondersteuning deur top akademici en toegang tot die aanlyn leerbestuurstelsel, genaamd die Spens, vorm deel van die leerervaring by Akademia. Alle assesserings vir buitelandse studente sal ook elektronies of by ʼn sentrale assesseringsentrum geskied.

“Al wat buitelandse studente benodig is toegang tot redelike internet- en skootrekenaarfasiliteite, voldoening aan die minimum toelatingsvereistes, sowel as ʼn positiewe ingesteldheid en deursettingsvermoë om hulle loopbaanreis suksesvol aan te pak,” meen Venter.

Alle Akademia-kwalifikasies is volgens die riglyne wat deur die Raad op Hoër Onderwys in Suid-Afrika vasgestel is geakkrediteer, wat beteken dat dit aan dieselfde standaarde as dié van openbare nasionale universiteite gemeet is. Alle private hoëronderwysinstellings en openbare universiteite moet aan hierdie riglyne voldoen.

Volgens Venter kan geen hoëronderwysinstellings of openbare universiteit aandui dat hulle kwalifikasies internasionaal geakkrediteer is nie, aangesien elke land ʼn kwalifikasiereguleerder het wat kwalifikasies vanaf ander lande evalueer en dan so erkenning verleen. “Akademia se kwalifikasies is egter van so gehalte dat van ons studente wat reeds in ander lande verder gaan studeer het of aansoek gedoen het vir werk, geen probleem ervaar het om erkenning vir hulle kwalifikasies te kry nie.”

Hier is die kwalifikasies wat buitelandse studente by Akademia kan studeer:

  • Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële Beplanning)
  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

 

Waarvoor wag jy? Stuur jou loopbaan in die regte rigting met ʼn gehalte-kwalifikasie. Aansoeke vir studies in 2021 sluit 2 Maart. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting of rig navrae aan navrae@akademia.ac.za. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!