Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Skerp jou sakevaardighede op met unieke besigheidswerkswinkels en netwerkgeleenthede

Gepubliseer op: 26 Junie 2024

Die enigste ding waaroor ons seker kan wees, is verandering. Dit staar ons voortdurend in die gesig en tog blyk die meeste mense ʼn mate van ongemak daaroor te ervaar – ook in die sakewêreld. Vanweë die snel spoed waarteen dié verandering boonop plaasvind mag besigheidslui voel asof hulle nie ʼn behoorlike greep op nuwe tendense en beste praktyke kan kry nie. In die lig hiervan bied Akademia eersdaags die Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleentheid aan.

Hierdie geleentheid bied ʼn unieke platform vir individue wat daarin belangstel om hul sakevaardighede op te skerp, insluitend diegene wat ʼn onderneming wil begin, reeds ʼn onderneming besit, óf belangstel in die velde van finansies, bemarking en innoverende ondernemings. Gedurende Juliemaand sal dié geleentheid by Akademia-sentrums dwarsoor die land aangebied word, en belangstellendes word aangemoedig om vroegtydig hul plekke vir hierdie geleenthede vir kennisverryking en professionele ontwikkeling te bespreek. Die geleenthede sien as volg daaruit:

  • Akademia se die Moot-sentrum (Kantoor 118 Blok A, Waverley-plaza, Hertzogstraat 1120, Villeria, Pretoria) | Maandag 1 Julie, 09:00 tot 14:00
  • Akademia se George-sentrum (Eerste vloer, Joubert-plaza, Meadestraat 100, George-sentraal, George) | Donderdag 11 Julie, 09:00 tot 14:00
  • Akademia se Bloemfontein-sentrum (Koppieweg 1, The Towers-winkelsentrum, Langenhovenpark, Bloemfontein) | Vrydag 19 Julie, 09:00 tot 14:00

Die werkswinkels word deur Akademia-dosente as vooraanstaande kenners op hul onderskeie gebiede aangebied:

  • Verskerp jou finansiële vaardighede deur Shaun Coetzee
  • Inskerp van bemarkingsbeginsels deur Salomien Boshoff
  • Opskerp van innovasie vir jou besigheid deur Johann Smith

Die koste beloop R450 per individu, maar ʼn groepkorting is ook beskikbaar teen R2 000 vir ʼn groepbespreking van vyf mense. Jou kaartjie sluit ʼn netwerkgeleentheid, verversings en ʼn opleidingspakkie in.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, het hierdie werkswinkels en netwerksessie dit ten doel om nie net belangstellendes met nuwe en bykomende vaardighede toe te rus nie, maar ook om opnuut energie los te maak en só hul sakevernuf na nuwe hoogtes te neem. “Doen jouself, jou besigheid én jou span ʼn guns en kom leer by die kenners terwyl jy óók die geleentheid het om met ander besigheidslui skouers te skuur, jou professionele netwerk uit te brei én as ʼn impakmaker in jou gemeenskap die voortou te neem,” sê Swanepoel.

Indien daar enige verdere vrae is, stuur gerus ʼn e-pos aan Swanepoel of koop jou kaartjie hier.

Shaun Coetzee is ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe en beskik oor omvattende ervaring in onder meer die mynbou-, verbruikersgoedere-, herwinning- en vervaardigingsektore – plaaslik en internasionaal.
Salomien Boshoff is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur en het ʼn passie vir bemarking. Sy is ʼn bewese kursusaanbieder en het reeds verskeie toekennings hiervoor ontvang. Boshoff geniet ook erkenning vir haar samewerkingsooreenkomste met besighede.
Johann Smit is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur en is ʼn bewese besigheidskonsultant. Sy navorsingsfokus is innovasiebestuur.