Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Vier jy vandag moedertaaldag?

Gepubliseer op: 21 Februarie 2018

Ter herdenking van Internasionale Moedertaaldag vandag (21 Februarie) deel Akademia, hoër onderwysinstelling wat gebruik maak van Afrikaans as voertaal, die merkwaardigheid daarvan om hierdie spesiale dag te vier.

“Internasionale Moedertaaldag is ʼn besonderse dag om as Afrikaanssprekendes te vier, eerstens omrede Afrikaans as moedertaal ons mees kragtige instrument vir die bewaring en die behoud van ons kulturele erfenis is. Tweedens is die viering van hierdie dag ʼn bewys dat alle tale in die wêreld ewe belangrik geag behoort te word,” sê dr. Saretha Brüssow, dekaan van Akademia.

Brüssow verduidelik verder dat ʼn moedertaal veel meer as net ʼn taal is. “Dit weerspieël ʼn eiesoortige identiteit, dit vorm die milieu waarin mens groei en kultuur bou, en dit koester ook ʼn gevoel van gebondenheid of gemeenskaplikheid. Vir hierdie redes behoort Internasionale Moedertaaldag wêreldswyd gevier te word.”

Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO),1 sterf daar op gemiddeld een taal elke twee weke uit. Daarom is Akademia trots om ʼn onderrigleermodel wat geskoei is om hoë gehalte onderrig in studente se moedertaal – Afrikaans – te kan bied. Studies 2 het bewys dat moedertaalonderrig voordelig vir die student is. Van hierdie voordele sluit in dat moedertaalonderrig die verwerking van kennis en begrip bevorder, asook probleemoplossing en die integrasieproses van nuwe en bestaande kennis vergemaklik.

“Ons sien uit om Akademia se onderrigleermodel verder in Afrikaans uit te bou, en Afrikaans, met sy ryk erfenis, as wetenskaptaal te koester,” voeg Brüssow by.

Aansoeke om gedurende die 2019 akademiese jaar by Akademia te studeer, open op 1 Maart 2018.