Akademia en die SAAWK neem hande ter viering én uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal

Gepubliseer op:  12 November 2025

In die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal het Akademia en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) ʼn vennootskap aangekondig wat nie nét die taal binne die akademiese milieu vier nie, maar dit ook verder as wetenskapstaal sal uitbou.

Die vennootskap fokus op die wetenskapsbeoefening van leerders, beide op laerskool- en hoërskoolvlak, soos dit van toepassing is op hul deelname aan wetenskapekspo’s onder die iMBEWU-vaandel.

Akademia as ʼn trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling sluit vervolgens by die SAAWK aan as ʼn borg van die iMBEWU Noord-Gautengse Wetenskapekspo terwyl kundiges vanuit die instelling se Fakulteit Natuurwetenskappe en Fakulteit Opvoedkunde voortaan as beoordelaars van pryse vir goeie projekte in uitstaande Afrikaans sal optree.

Die aard en waarde van wetenskapekspo’s

Volgens Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies aan Akademia, verteenwoordig wetenskapekspo’s gevestigde platforms waar skoolleerders hul eie navorsingsprojekte kan ontwerp, uitvoer en aanbied vir beoordeling deur kenners en vakspesialiste. Hierdie projekte dek gevolglik tipies die verskillende fokusareas van die natuurwetenskappe, naamlik fisika, chemie, biologie en aardwetenskappe, wat dikwels geïntegreer word met wiskundige en verwystegnologiese domeine soos statistiek en rekenaarwetenskappe.

Coetzee verduidelik dat die ekspo-ekosisteem ʼn hiërargiese sameloop volg, wat deelname op skoolvlak, streeks- of provinsiale vlak en nasionale vlak insluit, en uiteindelik kry uitblinkers die geleentheid om ook internasionaal deel te neem.

Die algemene waarde en impak van wetenskapekspo’s kan volgens Coetzee soos volg opgesom word:

  • Dit skep ʼn dinamiese en ervaringsgerigte platform waar leerders deur selfstandige navorsing en probleemoplossing aktief by die natuurwetenskappe betrokke kan raak.
  • Deelname aan hierdie ekspo’s bevorder nie nét vakinhoudelike kennis nie, maar ontwikkel ook kritiese denke, kreatiwiteit, deursettingsvermoë en selfvertroue.
  • Ekspo’s rus deelnemers toe met kernvaardighede vir hul toekomstige deelname aan die Suid-Afrikaanse kennisekonomie wat direk van toepassing is op die bereiking van die Agenda 2030-volhoubare ontwikkelingsdoelwitte.

Wat pedagogiese en ontwikkelingsvoordele betref, som Coetzee die voordele soos volg op:

  • Vaardigheidsontwikkeling

Deelnemers ontwikkel ʼn wye reeks navorsings- en denkvaardighede wat direk verband hou met die algemene doelstellings van die amptelike kurrikulumbeleid vir natuurwetenskappe en fisiese wetenskappe. Hierdie doelstellings sluit onder meer in om leerders toe te rus om die wêreld krities, sistematies en empiries te ondersoek, asook om hul probleemoplossings- en kommunikasievermoëns te versterk.

Hierbenewens dra verslagopstelling en die mondelinge aanbieding van navorsingsresultate by tot die ontwikkeling van kommunikasiegeletterdheid binne ʼn wetenskaplike konteks. Laasgenoemde help leerders om komplekse idees helder, logies en bewysgebaseerd oor te dra. Op hierdie manier vind daar interdissiplinêre integrasie tussen taal, tegnologie en wetenskap plaas wat holistiese leer bevorder.

  • Die bevordering van vindingrykheid en samewerking

Deur hul deelname aan ekspo’s word leerders aktief aangemoedig om op vindingryke maniere met bestaande kennis om te gaan ten einde praktiese probleme op te los. Baie van hierdie projekte toon voorts potensiaal vir toegepaste vernuwing, veral waar uitdagings aangespreek word deur tegnologiese of omgewingsoplossings te ontwikkel. Hierdie proses moedig gevolglik entrepreneurskap aan.

In terme van samewerking en netwerkvorming – tussen leerders, onderwysers, hoëronderwysinstellings en die industrie, bevorder deelname aktiewe skakeling. In wese wakker hierdie skakeling die besef aan dat wetenskapsbeoefening ʼn samewerkende en ewigontwikkelende praktyk, eerder as ʼn rigiede stel feite is.

  • Gemeenskapsbetrokkenheid

Aktiewe deelname aan wetenskapekspo’s dra betekenisvol by tot die vorming van ʼn navorsingskultuur binne skoolgemeenskappe. Hierdie tipe akademiese betrokkenheid gee voorts aanleiding tot ʼn gevoel van trots en identiteit wat ver buite die reik van die ekspo strek, nie net vir leerders nie maar ook vir onderwysers en verteenwoordigers vanuit die industrie.

Deelname help leerders voorts om op ʼn kreatiewe en intellektuele manier ʼn balans tussen kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling te tref.

Afrikaans as wetenskapstaal: ʼn Strewe na voortgesette uitnemendheid

Die vennootskap volg na ʼn uitnodiging deur prof. Walter Meyer (SAAWK-bestuurslid vir die afdeling Wiskunde en Natuurkunde) en is tydens vanjaar se iMBEWU Noord-Gautengse Wetenskapekspo, wat in Augustus plaasgevind het, amptelik van stapel gestuur.

Ná afloop van die junior en senior ekspo’s, wat onderskeidelik by Cornwall Hill College en Maragon-privaatskool in Mooikloof beslis is, is almal betrokke opgewonde oor die potensiaal wat hierdie “Afrikaanse wetenskapsvriendskap” inhou. Coetzee verwoord hierdie vriendskap as ʼn strategiese impak-inisiatief wat nie net toegang tot die natuurwetenskappeveld verbreed nie, maar ook ʼn lansie breek vir Afrikaans as dinamiese wetenskapstaal.

Volgens prof. Rudi Pretorius, SAAWK-raadslid, is die SAAWK daartoe verbind om Afrikaans in die natuurwetenskappeveld reeds op skoolvlak te bevorder en uit te bou. Hierdie verbintenis spreek direk tot die SAAWK se missie en doelstelling om wetenskap, tegnologie, letterkunde en kuns in Afrikaans te bevorder. Pretorius voeg by dat die vennootskap in wese tot ʼn dieperliggende gemeenskapsdiens spreek waarin die strewe na uitnemendheid en hoë wetenskaplike waardes nagejaag word.

“Inisiatiewe en vennootskappe soos hierdie versterk die boodskap dat Afrikaans oor die nodige terminologie beskik en daarom effektief in die natuurwetenskappe gebruik kan word. Terselfdertyd dien dit as motivering vir leerders om hul navorsing in Afrikaans te doen,” verduidelik Pretorius.

Op sy beurt meen prof. Johnnie Hay, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, dat die instelling daartoe verbind is om nie net leerders se kennis te verdiep nie, maar ook om hul liefde vir wetenskap te koester en aan te moedig. Hierdie vennootskap en betrokkenheid bevestig dat Akademia doelgerig daarna streef om toegang tot die leef- en ontwikkelingsruimtes (ook binne die natuurwetenskappe) vir Afrikaanse leerders en studente te verbreed en te ondersteun. “Akademia se jaartema is Afrikaans en tuis, en hierdie vennootskap vergestalt een van die wyses waarop die instelling as trotse vaandeldraer van Afrikaans en moedertaalonderrig sy roepingsbesef vervul,” sluit Hay af.

Ekspo’s soos die Noord-Gautengse Wetenskapsekspo, onder die iMBEWU-vaandel, verteenwoordig dinamiese en ervaringsgerigte geleenthede vir leerders om hulself aktief met wetenskap te besig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.