Gepubliseer op: 19 Desember 2023
Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia
Diegene wat die antieke Romeinse geskiedenis bestudeer en waardeer is dit eens, daar is min frases wat kan kers vashou by Julius Caesar se bondige, maar uiters bekende, triomfkreet: “Veni, vidi, vici!” Hierdie Latynse frase, vertaal as: “Ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin!” verteenwoordig ʼn kragtige verklaring wat getuig van krag en energie. Méér nog, dit weerklink reeds oor millennia heen deur die geskiedenis.
Hierdie frase omvat egter soveel meer as net ʼn stelling. Dit is ʼn vertelling wat in drie eenvoudige woorde gekompakteer en opgesom word. ʼn Vertelling van oorwinning, van oorheersing en miskien ook van ʼn bietjie arrogansie. Volgens oorlewering het Caesar hierdie woorde in 47 v.C. geskryf met meer in gedagte as bloot sy vinnige en effektiewe oorwinning tydens die Slag van Zela. Hy was as’t ware besig om homself en sy nalatenskap binne die Romeinse geskiedenis te posisioneer as ʼn kragtige figuur van ongeëwenaarde militêre bekwaamheid en leierskap.
Om verder in die oorsprong van dié triomfkreet te delf vereis dat ons onsself verplaas na die onstuimige wêreld van 47 v.C., spesifiek na die stad Zela wat in die nou noordelike dele van hedendaagse Turkye geleë is. Julius Caesar, destyds in ʼn magtige administratiewe posisie, was in hierdie tyd besig met ʼn militêre veldtog teen Pharnaces II, die koning van Pontus. Pharnaces, seun van die formidabele Mithridates VI, het die oombliklike Romeinse swakheid ná die dood van Crassus aangegryp om weer sy vader se koninkryk te verower.
Caesar, wat vars uit sy eie konflik vanuit Egipte gekom het, het vinnig opgetree teen Pharnaces. Die beslissende ontmoeting by Zela was treffend, nie net in terme van die uitkoms daarvan nie, maar ook vir die spoed waarmee dit bereik is. Pharnaces se magte was heeltemal verdryf deur Caesar se ervare legioene in ʼn geveg wat kort, tog intens was.
Hierdie treffende spoed, beslistheid en akkuraatheid waarmee die veldslag verower is, is vervat in die triomfantlike boodskap wat Caesar na sy oorwinning na die Romeinse Senaat gestuur het, en verklaar dan eenvoudig: “Veni, Vidi, Vici”. Hierdie kragtige frase het die kern van die veldtog saamgevat en Caesar se reputasie as ʼn militêre leier van ongeëwenaarde vaardighede en doeltreffendheid gevestig. Die verklaring is vinnig dwarsoor Rome en selfs verder versprei terwyl die impak daarvan verder versterk is deur die eerbied wat die Romeinse samelewing vir militêre bekwaamheid gehad het.
Eeue later tydens ʼn tweede veldslag en oorwinning oor Turkye, word dieselfde triomfkreet geuiter deur ʼn magtige koning, bekroon met titels soos: Redder van Europa en Beskermer van die Christendom, naamlik Jan Sobieski III. Hy was die koning van Pole tydens die laat 17de eeu en word hoofsaaklik onthou as die man wat sentraal-Europa gered het van die invallende leërs van die Turke in 1683. Koning Sobieski III was hoogs geleerd, meertalig, kunssinnig en word ook erken as een van die magtigste soldate van sy tyd. As ʼn geleerde sowel as ʼn sterk millitêre figuur het hy gedurende hierdie tyd ʼn noukeurige studie van Turkse militêre gevegsmetodes gemaak. Sy vaardighede op beide die slagveld en in diplomatiese kringe het vir hom die weg gebaan om in 1676 as die koning van Pole gekroon te word.
Sobieski III het ʼn aanval gelei wat die Turkse aanslag finaal gebreek het, en tot vandag toe word sy redding van Wene beskou as een van die Europese geskiedenis se beslissendste veldslae. Met die aankondiging van dié groot oorwinning het hy bloot die beroemde woorde van Caesar geparafraseer deur te sê: “Veni, vidi, deus vicit!” In Afrikaans lui die vertaling: “Ek het gekom, ek het gesien, God het oorwin!”
Julius Caesar en koning Sobieski III was formidabele figure in beide militêre suksesse en diplomasie, en het ʼn groot impak op die wêreld en die verloop van die geskiedenis uitgeoefen. Die vraag bly egter: Wie van die twee se uiting van die legendariese triomfkreet bewys homself waardig? Gedagtig hieraan kom die bekende vraag wat Paulus in Rome geuiter het as ʼn moontlike antwoord na vore: “As die Here vir ons is, wie kan dan teen ons wees?”
Hierdie ontsagwekkende stelling is deurentyd só waar en die patroon bly telkemale dieselfde, selfs dekades voor Julius Caesar se eerste uitlating. Dink maar net aan die volgende voorbeelde: Noag het gekom; Noag het gesien; God het met die sondvloed oorwin (Genesis 6-7), Abraham het gekom; Abraham het gesien; God het deur Abraham se nageslag oorwinning verseker (Genesis 22:18), Moses het gekom; Moses het gesien; God het deur die tien plae en die deurtog deur die Rooi See oorwin (Eksodus 7-14), Josua het gekom; Josua het gesien; God het Jerigo oorwin deur die mense wat daarom gemarsjeer het (Josua 5-6), Gideon het gekom; Gideon het gesien; God het oorwin deur van 300 mans gebruik te maak (Rigters 7) en, Dawid het gekom; Dawid het gesien; God het Goliat en die Filistyne oorwin (1 Samuel 17).
Alhoewel die frase van Julius Caesar triomf en sukses aandui, is dit in sommige geskiedkundige kontekste gebruik om vinnige en eensydige optrede te regverdig – dikwels sonder om die potensiële gevolge in ag te neem. In die lig hiervan is dit belangrik dat diesulke frases nie sonder ʼn deeglike begrip van hul oorspronklike konteks en implikasie gebruik word nie.
Met strategiese oorwinning het Julius Caesar sy nalatenskap in die geskiedenis geëts terwyl koning Sobienski III syne met danksegging bekragtig het. Beide hierdie triomfkrete se historiese betekenis, retoriese voortreflikheid en blywende nalatenskap bly tot vandag toe grootliks onveranderd. Terselfdertyd noop albei hierdie figure en hul ewe bekende krete ons om terug te dink, ʼn dieper nabetragting te doen, en om te besin oor hoe ons die toekoms tegemoet loop:
Triomfkrete dien as rigtingwysers in ons strewe na die vervulling van ons roepingsideaal, naamlik dieper insig in die waarheid, goedheid en die skoonheid van die skepping.
Die triomfkrete van Caesar en koning Sobieski III kan simbolies ʼn refleksie wees van die jaar wat ons elkeen deurgemaak het, terwyl dit ook as ʼn vooruitsig kan dien vir die nuwe jaar wat wink. Alles werk ten goede mee vir dié wat God liefhet. Soos jy afskaal en teen ʼn rustiger pas verkeer, dink terug aan die jaar wat was, en dank die Here vir geleenthede en uitkomste. Steek dan jou eie Rubicon oor en stap 2024 binne met ʼn triomfantlike gees. Skryf ʼn nuwe verhaal wat getuig van beslistheid en krag, en belyn jouself met die Woord van God. Dit is hierdie verborgenheid tot God, sy woord en hemelse hoop wat jou in staat sal stel om elke stryd te kan oorwin.
Mag 2024 vir jou ʼn verklaring van krag en danksegging wees.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.