September is Testamentmaand: Só ontsluit testamentêre bemakings Akademia se groeipotensiaal

Gepubliseer op: 25 September 2025

September kondig nie nét die begin van ʼn nuwe seisoen aan nie. Tydens Testamentweek word Suid-Afrikaners daaraan herinner om, as ʼn saak van erns, hul finansiële en nalatenskapsbeplanning te prioritiseer. Die simboliese verwantskap tussen dié twee gebeurlikhede, veral binne die Akademia-milieu, is duidelik: ʼn Testamentêre nalatenskap kan die belofte van groei en ontwikkeling vir toekomstige studente ontsluit en só ʼn vrye toekoms help verseker.

Akademia beoog om teen 2028 ʼn omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria daar te stel waar 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente sal studeer. Hierdie ontwikkeling, bekend as die Toekomsbouer-veldtog, spreek tot ʼn geskiedkundige en dinamiese samewerkingsooreenkoms tussen Akademia en die eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton. Daar is verskeie maniere waarop lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe by hierdie ontwikkelingsproses betrokke kan raak en tydens Septembermaand val die fokus op testamentêre bemakings en erflatings.

Zander Botha, bestuurder: Akademia-skenkingsfonds, verduidelik dat alhoewel die afsterwe van ʼn geliefde ʼn groot emosionele verlies verteenwoordig, deeglike beplanning ewigheidswaarde aan ʼn nalatenskap kan verleen. Gedagtig hieraan beantwoord hy die onderstaande vrae soos dit verband hou met testamentêre bemakings aan die instelling.

Wanneer dit kom by boedelbeplanning in Suid-Afrika is daar ʼn belangrike onderskeid tussen die oorweging van ʼn familietrust teenoor ʼn testamentêre bemaking. Hoe lyk hierdie onderskeid?

Albei hierdie oorwegings vorm deel van ʼn strategiese nalatenskap, maar die onderskeie belastingimplikasies verskil wesenlik van mekaar.

ʼn Testamentêre bemaking word direk uit die oorledene se boedel gemaak. Indien die begunstigde ʼn erkende Openbare Weldaadorganisasie (OWO) is, soos Akademia, is sodanige bemaking heeltemal vrygestel van boedelbelasting in terme van artikel 4(h) van die Wet op Boedelbelasting. Hierdie vrystelling beteken dat die waarde van die bemaking nie by die belasbare boedel ingesluit word nie en dus die boedelbelasting wat uiteindelik betaalbaar is, verlaag.

Vir die erfgename is daar ook geen inkomstebelasting op die ontvangs van die bemaking nie, aangesien erflatings nie as belasbare inkomste beskou word nie. Dit maak testamentêre bemakings aan ʼn OWO nie net ʼn daad van volhoubare steun nie, maar ook ʼn uiters belastingdoeltreffende opsie.

ʼn Familietrust funksioneer anders. ʼn Trust is ʼn afsonderlike regsentiteit wat deur ʼn stigter tot stand gebring word en waarin bates vir begunstigdes gehou word. Wanneer bates in ʼn testament aan ʼn trust oorgedra word, word daardie bates steeds in die oorledene se boedel gereken vir boedelbelastingdoeleindes. Omdat ʼn familietrust nie as ʼn OWO funksioneer nie, kan dit gevolglik nie voordeel trek uit die artikel 4(h)-vrystelling nie. Nadat die trust die bates ontvang het, is dit self belastingpligtig op enige inkomste wat dit genereer, soos rente of huur.

Suid-Afrikaanse trusts word teen die hoogste marginale koers van 45% belas, tensy die inkomste direk aan begunstigdes uitgekeer word en dan teen hul persoonlike belastingkoers belas word.

Wat behels ʼn testamentêre bemaking?

ʼn Testamentêre bemaking verteenwoordig ʼn skriftelike bepaling wat in jou testament vervat word. Hierdie bepaling dui aan watter bates (goedere en/of kontant) aan wie toevertrou moet word na jou dood. Eenvoudig gestel kan hierdie bepaling met ʼn taaklys vergelyk word wat ná jou dood in werking tree.

Wat is die waarde van ʼn testamentêre bemaking aan ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia?

Akademia is ʼn onafhanklike en selfstandige hoëronderwysinstelling en ontvang as sodanig geen staatsbefondsing nie. Hiermee saam is die instelling as ʼn maatskappy sonder winsoogmerk geregistreer. Jou skenking aan die instelling sal nie net help om fisiese strukture op te rig nie, maar help ook om die intellektuele en kulturele erfenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bewaar. In kort: Jou erflating behels méér as net ʼn blote finansiële transaksie; dit is ʼn daad van toewyding en behoud.

Akademia sal sodanige bemakings aanwend vir onder meer:

  • Die uitbreiding van akademiese programme en navorsing;
  • infrastruktuurontwikkeling;
  • studiefondse en beurse vir studente wat finansiële ondersteuning benodig; en
  • die bevordering van Afrikaanse kultuur en identiteit binne die akademiese ruimte.

Is daar enige voorskrifte vir die waarde van ʼn testamentêre bemaking aan Akademia?

Nee, die wet stel geen minimum of maksimum waarde vir testamentêre bemakings nie. Enige bedrag of bate kan bemaak word. Dit kan wissel van kleiner bydrae (soos ʼn kontantbedrag of boekversameling) tot ʼn omvattende skenking (soos eiendom, aandele of ʼn groot kapitaalbedrag). Die waarde is dus heeltemal diskresionêr, en die belangrikste is dat die testament die wens van die skenker duidelik uiteensit.

Watter voordele is daar aan ʼn testamentêre bemaking aan Akademia verbonde?

Daar is verskeie voordele, waaronder:

  • Belastingvoordeel

Die bedrag wat aan Akademia bemaak word, word ingevolge artikel 4(h) van die Wet op Boedelbelasting van die brutoboedelwaarde afgetrek en verlaag dus die nettowaarde waarop boedelbelasting (20% of 25%) gehef word.

  • Nalatingsdoelwitte

Dit laat individue toe om hul waardes en lewensoortuigings te weerspieël deur in ʼn instelling te belê wat hul kultuur, taal en geloof bevorder.

  • Maatskaplike impak

Elke bemaking versterk Akademia se kapasiteit om hoër onderwys toeganklik te maak vir lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe terwyl dit voorts ook ondersteuning aan studente bied. Hierdie impak het ʼn vermenigvuldigende effek in die gemeenskap.

Met wie kan persone in verbinding tree oor moontlike testamentêre bemakings?

Persone wat belangstel in testamentêre bemakings aan Akademia kan in verbinding tree met:

  • Akademia se skenkingsfonds, wat spesifiek sulke skenkings en nalatenskappe administreer. Stuur ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za of besoek die webblad.
  • Regs- of boedelbeplanningsadviseurs, wat kan help om jou testament korrek te formuleer en te verseker dat dit in ooreenstemming met die Wet op Boedelbelasting is.

“Gemeenskapsbetrokkenheid en -befondsing is belangrik, want dit gee aan persone die geleentheid om persoonlik betrokke te raak as aktiewe rolspelers. Wanneer ons almal daadwerklik betrokke raak, kan ons meer vermag as ooit tevore en bou ons saam aan ʼn instelling wat nie net vir ons kinders nie, maar ook vir toekomstige geslagte ʼn betekenisvolle verskil gaan maak,” sluit Botha af.

Zander Botha, bestuurder: Akademia-skenkingsfonds, verduidelik dat ʼn testamentêre bemaking aan die instelling méér as net ʼn finansiële transaksie behels. Dit is in wese ʼn hoopvolle daad van toewyding en behoud met die oog op ʼn vrye toekoms.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.