Search
Close this search box.

Tweede Teologie en Filosofie-konferensie by Akademia ʼn reusesukses

Gepubliseer op: 31 Julie 2024

Akademia se NP van Wyk Louw-sentrum het vanjaar weer die voorreg gehad om die jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie wat vanaf 22 tot 23 Julie op die Leriba-kampus in Centurion plaasgevind het aan te bied.

Die konferensie is bygewoon deur verskeie predikante, pastore en akademici, waaronder drie internasionale sprekers vanuit die VSA – prof. Richard Howe, dr. Carrey Walton en dr. Joe Bergeron. Studente en lede van die publiek het ook van die insiggewende sessies bygewoon.

Volgens dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, is die doel van die konferensie om die noue samehang en spel tussen die teologie en die filosofie te herwin. “In die lang geskiedenis van die Christelike geloof word teologie en filosofie nog altyd as twee dissiplines gekoester wat ondersteunend tot mekaar is. Hierdie verhouding kwyn egter in die moderne samelewing en daarom moet die samehang tussen die dissiplines herwin word,” noem Maritz.

By die konferensie is verskeie kerntemas bespreek, waaronder die nalatenskap van Thomas Aquinas, as belangrike figuur en baanbreker binne die teologie- en filosofiedissiplines, asook kosmologie en Bybelse interpretasie.

Maritz noem dat die feit dat daar soveel persone was wat as sprekers opgetree het en die geleentheid bygewoon het, toon dat daar beslis ʼn behoefte is om oor die dieper temas te besin. “Ons is dankbaar vir so ʼn suksesvolle geleentheid en sien daarna uit om in die toekoms nog vele konferensies, wat diensbaar is tot die dissiplines van teologie en filosofie, te huisves,” sluit Maritz af.

Die jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie is vanjaar deur verskeie predikante, pastore, akademici, studente en lede van die publiek bygewoon.
Prof. Richard Howe vanuit die VSA was een van vanjaar se sprekers by die jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie.