*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-studieaansoeke vir 2027 is oop: Lê nou jou eerste toekomsbousteen neer

Gepubliseer op:  1 April 2026

Die toekoms hoef nie ʼn onbekende en selfs gevreesde plek te wees nie. Net só is dit nie iets waaraan daar eers môre gedink moet word nie. Akademia, as onafhanklike hoëronderwysinstelling, huldig die siening dat die toekoms ʼn werklikheid is waaraan elkeen vandag reeds self kan bou – doelbewus, hoopvol en roepingsgedrewe.

Óf jy nou binnekort ʼn skoolverlater gaan wees, reeds in die werksplek gevestig is óf selfs passievol ander belangstellings, soos byvoorbeeld professionele sportdeelname najaag, die verwerwing van ʼn gehaltekwalifikasie in jou moedertaal verteenwoordig ʼn belangrike toekomsbousteen. Hierdie bousteen verteenwoordig nie net die hoeksteen wat beroepsgeleenthede en -groei betref nie, maar ook van persoonlike vorming.

Akademia se 2027-studieaansoeke vir nauurse studie oor afstand, of voltydse studie by die kampus in Pretoria of die Paarl open op Woensdag 1 April 2026.

Naskoolse kwalifikasies ontsluit toekomskapitaal

Die vraag word dikwels gevra of ʼn naskoolse kwalifikasie waarde toevoeg, veral gegewe die hoë kostes verbonde aan verdere studie binne ʼn reeds uitdagende ekonomiese klimaat. Hierop antwoord Marthinus Visser, bestuderende direkteur van Akademia, dat daar wesenlike voordele daaraan verbonde is om jouself met ʼn gehaltekwalifikasie toe te rus – nou meer as ooit vantevore.

Visser verduidelik dat die werkloosheidskoers onder gegradueerdes baie laag in Suid-Afrika is, en dat daar ʼn sterk en direkte positiewe verband tussen inkomstevermoë, werksekerheid  en ʼn individu se vlak van akademiese begronding is.

ʼn Bykomende aspek van studeer wat dikwels oorgesien word, is die sogenaamde “sagte” voordele wat gepaardgaan met studentwees. “In die geval van Akademia bevind Fonties* hulself binne ʼn unieke studiemilieu waarin hulle lewenslange kennisse, vriendskappe en netwerke vestig,” sê Visser. Hy voeg by dat studente voorts aan die hand van die instelling se vormingsideaal hul denke én hart op ʼn doelgerigte manier ontwikkel en só ʼn toekomsgerigte ingesteldheid omarm wat noodsaaklik is om betekenisvol te kan lewe.

Bou teen jou eie tempo

Nie elke student bou op dieselfde manier aan sy of haar toekoms nie. Daarom bied Akademia twee onderrigleermodelle aan, elk ontwerp om by verskillende lewensfases en gepaardgaande verantwoordelikhede aan te pas.

Die nauurse afstandsmodel is ideaal vir studente wat reeds werk of ander belangstellings nastreef. Klasse vind op weeksaande en Saterdae plaas, met toegang tot ʼn moderne e-leeromgewing wat studente van dwarsoor die wêreld met dosente verbind.

Die voltydse kampusmodel, aangebied in Pretoria en die Paarl, bied aan studente ʼn  omvattende kampuservaring. By wyse van hierdie onderrigleermodel word daar bedags klasgedraf en neem studente deel aan ʼn bruisende en eiesoortige studentelewe binne ʼn veilige en goed ingerigte leeromgewing.

Ongeag die model wat gekies word, bou elke student met dieselfde fundamentele boustene: akademiese uitnemendheid, moedertaalonderrig en roepingsgedrewe vorming.

Vyf dinamiese fakulteite

Akademia bied ʼn uitgebreide programverskeidenheid binne vyf dinamiese fakulteite aan:

  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
  • Geesteswetenskappe
  • Natuurwetenskappe
  • Opvoedkunde
  • Regsgeleerdheid

Elke studierigting in welke fakulteit vorm deel van die instelling se groter strewe, naamlik om verantwoordbare en kundige afgestudeerdes te lewer met die oog op ʼn hoopvolle en vrye toekoms.

Begin vandag nog aan jou toekoms bou

Die studieaansoekproses geskied volledig aanlyn en neem sowat twintig minute om te voltooi. Voornemende studente moet egter nie hierdie proses as net nóg ʼn administratiewe taak sien nie, maar eerder as hul eerste doelbewuste bouhandeling vir die toekoms.

Voornemende studente moet die volgende dokumente gereed hê:

  • ʼn gesertifiseerde afskrif van jou ID
  • jou jongste graad 12-punte of gesertifiseerde afskrifte van vorige kwalifikasies
  • ʼn volledige CV (waar van toepassing)

Begin vandag bou aan jou môre

Die 2027- akademiese jaar is nader as wat jy dink. Lê vandag nog die grondslag vir die verwesenliking van jou studiedroom. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting en om aanlyn aansoek te doen.

*Fonties is die gegewe naam vir studente wat aan Akademia studeer. Dit is afgelei van Akademia se leuse, Ad Futurum per Fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Akademia se aanlyn studieaansoeke open op 1 April 2026. Dié proses neem slegs twintig minute om te voltooi en verteenwoordig die eerste stap in die verwesenliking van jou studiedroom.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.