Studentesake

Studentelewe

Studentwees is méér as net jou studie

By Akademia word ons studente Fonties genoem. Hierdie eienaam is afgelei uit ons leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne. Vrylik vertaal beteken fontes ook fonteine. Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot nét ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, maar dra ook ʼn spesiale betekenis. Soos goeie fonteine standhoudende skoon water gee aan die omliggende omgewing, is die ideaal dat Fonties só tot diens van hul gemeenskap sal wees.

Met dié strewe in gedagte, behels Fontie-wees méér as net jou studie – dit is ook die kodewoord vir ʼn bruisende studentelewe. Dit is om in Afrikaans en binne ʼn Christelike konteks jou talente te ontwikkel, kosbare herinneringe te maak en lewenslange vriendskappe te smee.

“Die studentelewe is vol nuwe avonture en ervarings wat jou uit jou gemaksone bring. Daar is ʼn gevoel van vryheid en ontdekking, waar jy jouself beter leer ken. Dit is ʼn tyd waar jy saam met nuwe lewenslange vriende lag, leer en bou aan herinneringe wat vir altyd sal bly.”

Matthew Luës, ondervoorsitter van die 2024/2025-studenteraad

Hoe lyk die studentelewe?

Akademia se studentelewe bied ʼn tuiste waar studente se denke én hart geïntegreerd kan ontwikkel. Dit word gedoen deur ʼn ruimte te skep waar Fonties aan ʼn verskeidenheid aktiwiteite kan deelneem. Hier kry studente die geleentheid om hulle identiteit te ontdek en te ontwikkel, hul plek in die gemeenskap te vind én hulself doelgerig voor te berei vir ʼn vrye toekoms. En die lekkerste deel van dié avontuur? Jy smee lewenslange vriendskappe en netwerke wat jou op elke tree van jou toekomsreis gaan vergesel!

SPORT

Akademia het in 2024 sy heel eerste sportfees, die Fontie-spele, in Centurion gehou. Dié geleentheid het vir groot opwinding gesorg en spanne, van agt ander onafhanklike hoëronderwysinstellings, het mekaar die stryd aangesê. Tydens die Fontie-spele is daar onder meer meegeding in 10’e-rugby, netbal en 5-persoonhokkie.

Fonties het ook die geleentheid om aan die volgende sportsoorte deel te neem:

Rugby
Hokkie
Netbal
Krieket
Tennis
Skaak
Padel

KULTUUR

Akademia se kultuurkalender is propvol geleenthede vir studente om hulle kreatiwiteit uit te lééf en hul talente ten toon te stel. Hier is ʼn paar van die kultuurgeleenthede waarna Fonties elke jaar kan uitsien:

Hierdie is die eerste groot kultuuraktiwiteit waaraan nuwe studente as volwaardige Fonties kan deelneem, en vorm ʼn belangrike deel van die eerstejaarsoriënteringsprogram.

Die Akademia-koor word in 2024 vir beide ʼn Aitsa!-toekenning én ʼn Legato-toekenning genomineer, onder leiding van dirigent Franco Prinsloo.

Akademia begin in 2024 om die sêrtradisie in koshuissleepverband te vestig. Elke sleep kry die geleentheid om onder leiding van ʼn afrigter hulle sangtalent te slyp en vanuit hul eie tradisie en kultuur ʼn tema te kies waarvolgens hulle optrede beplan word.

Dié jaarlikse sêrkompetisie is ʼn hoogtepunt op die kultuurkalender.

Die instelling beskik oor ʼn sterk debatskultuur en Fonties werk toegewyd aan hul redeneringsvaardighede. Deur debatsvoering word studente uitgedaag om oor verskeie onderwerpe soos die politiek en filosofie na te dink en te argumenteer.

Akademia se eie kunstefees nooi Fonties uit om tydens hierdie mag-nie-misloop-geleentheid met hulle talente te spog. Die kunstefees omvat verskeie kategorieë, insluitend drama, musiek, kuns, skryfkuns en ʼn oopafdeling.

Voorskou verteenwoordig ʼn fees van toneelspel, en koshuise ding opgewonde mee om dié verhoogerkenning. Die beste toneelstukke dring deur na die gesogte Artium-geleentheid.

Voorskou verteenwoordig ʼn fees van toneelspel, en koshuise ding opgewonde mee om dié verhoogerkenning. Die beste toneelstukke dring deur na die gesogte Artium-geleentheid.

GEMEENSKAP

Akademia is as gemeenskapsinstelling in die hoër onderwys verbonde aan die eie gemeenskappe. Tegelyk strewe dit goeie verhoudinge met ander gemeenskappe na. Sowel die “verbondenheid aan die eie” as die “goeie verhoudinge met ander” word deur vriendskap, geregtigheid en ʼn oop gesprek gekenmerk. As ʼn universitêre ruimte wat stewig in die Christelike geloof geanker is, leef Fonties prakties geloof, hoop en liefde uit deur liefde vir God en ons medemens, asook die hoop op ʼn beter lewe, nou en tot in ewigheid.

Tydens die eerstejaarsoriënteringsprogram bevorder ons Fonties se gemeenskapsbetrokkenheid deur hulle te taak met die ontwerp, bou en versier van ʼn speelhuis. Laasgenoemde word dan ná voltooiing aan ʼn plaaslike gemeenskapsorganisasie geskenk. Die hoofdoel van hierdie projek is om fondse in te samel wat dan vir opheffingsprojekte in die gemeenskap aangewend word.

Hierdie inisiatief het dit ten doel om deur welwillendheidsdade en ʼn omgeekultuur terug te ploeg in die gemeenskap. Fonties word gedurende Omgeeweek opnuut bewus gemaak van die uitdagings en behoeftes in hulle gemeenskap, en word aangemoedig om doelgerig ʼn positiewe verskil te maak.

Alle koshuise neem in sleepverband aan verskeie plaaslike skole se broodjieprojekte deel.

Fonties het die geleentheid om aan verskeie uitreikprojekte en inisiatiewe deel te neem waar hulle kan terugploeg in die gemeenskap.

VERENIGINGS EN KLUBS

Stapklub
Draf- en koffieklub
Dansklub
Oud maar goud (filmklub)
Kantanoó-klub (erfenisklub)

SOSIAAL

Fontie-wees word gekenmerk deur ʼn jeugdige geesdrif en energieke uitlewing van ʼn gesonde en bruisende studentelewe Die sosiale kalender word gekenmerk deur geleenthede soos onder meer:

Aan die einde van die eerstejaarsoriënteringsprogram kan studente tydens die eerstejaarsdinee as volwaardige Fonties saam kuier, dans en droom oor hul eerste studiejaar.

Die Fontie-bal is sonder twyfel een van die grootste sosiale geleenthede op die jaarkalender. Tydens dié prestige geleentheid kuier nuwe eerstejaar-Fonties en senior studente gesellig saam.

Die jaarlikse Fontie-mark is ʼn fees van entrepreneurskap en alle lede van die Akademia-gemeenskap het ʼn geleentheid om hul handewerk én sakevernuf aan die gemeenskap ten toon te stel.

Fonties kom in fakulteitsverband bymekaar om hul onderskeie fakulteitsgemeenskappe te ontmoet.

Die Draaibraai bring twee gunstelingaksies byeen: Dans en braai.

Hierdie deftige geleentheid aan die einde van die jaar gee aan Fonties die geleentheid om mooi aan te trek en saam met hul dosente en ander ondersteuningspersoneel te sosialiseer.

NAUURSE AFSTANDSTUDENTE

As ʼn nauurse afstandstudent is daar verskeie aktiwiteite en geleenthede waarby jy kan inskakel om deel te neem aan Akademia se bruisende studentelewe. Die instelling se netwerk van sentrums bied aan Fonties van dwarsoor die land ʼn bymekaarkomplek. Hier is ʼn paar hoogtepunte vanuit die nauurse studentelewe:

A-gemeenskap

Hierdie inisiatief skep ʼn platform vir nauurse afstandstudente van dieselfde jaargroep en program om aanlyn bymekaar te kom. Op hierdie manier kan nauurse Fonties mekaar beter leer ken, ondersteuningsnetwerke vorm, vriendskappe kweek én studentwees saam ervaar.

Van noot-vir-noot tot bingo en algemene vasvrae-aande, ʼn verskeidenheid virtuele geleenthede deur die jaar sorg vir ʼn welkome (en baie pret) blaaskans van die akademiese verpligtinge.

Fontie-boekliefhebbers lees en bespreek deur die loop van die jaar verskeie boeke saam. Hulle kom bymekaar vir aanlyn besprekingsessies, uitdagings en vasvrae met opwindende pryse op die spel.

Studente wat ʼn passie vir fotografie het kry die geleentheid om verskillende temas deur hul kameralense vas te vang en só hulle kreatiwiteit op die proef te stel, foto-idees met mekaar te deel én nuwe fotografievaardighede aan te leer.

Deur die loop van die jaar word verskeie waardetoevoegende, sosiale en netwerkgeleenthede by die verskeie sentrums aangebied. Hierdie byeenkomste rus nauurse afstandstudente toe om sterk ondersteuningsgemeenskappe te bou. Hier is ʼn paar van die sentrumgeleenthede waarna Fonties elke jaar kan uitsien:

Sentrumafskop  ||  Simposiums  ||  Sosiale geleenthede  ||  Afsluitingsfunksies  ||  Wyn-en-pizza-aande

Ontmoet die sentrumkoördineerders

Elcke Katzke  |  Koördineerder: Sentrum (Die Moot)

Elrike Viljoen  |  Koördineerder: Sentrum (Bloemfontein)

Bianca le Roux  |  Koördineerder: Studentesake (Nauurse studente)

ONTMOET DIE SR VIR 2024/2025

Die Akademia-studenteraad (SR) verteenwoordig studente en bestuur die studentelewe saam met die studentesakebestuurder.

Die portefeuljes vir SR 2024/2025 is as volg toegeken:

Johannes van Jaarsveld
Voorsitter

Matthew Lües
Adjunkvoorsitter

Marzé Becker
Koshuisraad

Annemé Kriel
Gemeenskap

Martin Munro
Verenigings

Maarten van Aswegen
Finansies

Corné Boer
Sport

Wilani Alberts
Bemarking en Kommunikasie

Elsomé Thuynsma
Kuns en Kultuur

“Die studenteraad is ʼn spreekbuis vir studente en het daarom alle Fonties se beste belange op die hart. Die studentelewe hier bied nie net ongelooflike geleenthede vir persoonlike groei nie, maar stel jou ook in staat om jou Christelike waardes daagliks uit te leef.”

Johannes van Jaarsveld, studenteraadvoorsitter 2024/2025

Leierskapsontwikkeling

Akademia streef daarna om te verseker dat studente tot volronde roepingsgedrewe individue gevorm word. In die lig hiervan speel leierskapsontwikkeling ʼn baie belangrike rol en stel dié inisiatief Fonties in staat om onder leiding van ervare mentors hulself vir toekomstige leierskapsrolle voor te berei.

Studente kan tydens hul studie hulself verkiesbaar stel vir die studenteraad, die onderskeie huiskomitees, subkomitees, of die Help ʼn Fontie-komitee. Deur hierdie leierskapsposisies te beklee word daar aan studente die geleentheid gegee om ʼn aktiewe rol in die ontwikkeling en bestuur van die instelling se studentelewe te speel en by opwindende projekte betrokke te wees. 

Akademia bied deur die jaar ook verskeie kampe aan waartydens studente uitgedaag word om kreatief te dink oor komplekse leierskapsuitdagings. Hierdie kampe gee aan Fonties die geleentheid om in hul inter- en intrapersoonlike verhoudings te groei, emosionele intelligensievaardighede te ontwikkel en kritiese denke te ontsluit met die oog op toekomstige leierskapsverantwoordelikhede. 

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.