*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 12 Februarie 2026
Met skuurpapier, verf, blikke vol vernis en baie geesdrif het Akademia se Paarl-Fonties vanjaar vir die eerste keer op Saterdag 7 Februarie 2026 aan die instelling se Spore-projek deelgeneem. Die Spore-projek is ʼn praktiese en kreatiewe studentegemeenskapsinisiatief wat jaarliks tydens oriënteringsweek plaasvind waarby alle nuwe eerstejaarstudente betrokke is.
Dié projek, wat al verskeie jare met groot sukses en impak op die Pretoria-kampus aangebied word, is op ʼn baie unieke manier op die Paarl-kampus aangepak, en in die proses is Akademia se vormingsideaal prakties en passievol uitgelééf.
Om meer te gee as wat verwag word
Volgens dr. Sharon Kruger, opvoedkundige sielkundige: Studentesake, was dit vir die Paarl-kampus ʼn besonderse ervaring om die projek vir die eerste keer te kon aanbied. “Akademia is ʼn nuwe instelling in die Paarl en ons eerstejaars leer, deur inisiatiewe soos hierdie, wat dit beteken om ʼn Fontie te wees. Om diensbaarheidspore in die gemeenskap te trap is vir ons belangrik, want dit help om ʼn kultuur van betrokkenheid te vestig,” sê Kruger.
Die eerstejaarstudente het hulself goed van hul taak gekwyt en het binne die bestek van ʼn week met kreatiewe en eiesoortige posbusbiblioteke vorendag gekom. Dié posbusbiblioteke sal later, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, aan dienssentrums vir bejaardes in die omgewing geskenk word.
“Die tyd en energie wat elke eerstejaarstudent vir hierdie projek ingesit het, verteenwoordig vir my die hartklop van Spore,” sê Kruger. Hoewel die projek poog om ʼn tasbare verskil in die gemeenskap te bewerkstellig, baat studente self ook by wyse van die persoonlike groei en vaardigheidsontwikkeling wat hulle ervaar. Laasgenoemde sluit in spanwerk, projekbestuur en -beplanning en ʼn besef van wat dit beteken om deel te wees van ʼn gemeenskap.
Posbusbiblioteke: kreatief én funksioneel
Twee posbusbiblioteke met bankies is tydens die projek gemaak. Dit spreek nie net tot die studente se kreatiwiteit en doen-dit-selfvaardighede nie, maar ook tot funksionaliteit en gebruikersvriendelikheid. Die strukture is gebou uit hulpmiddels wat deur die studente en personeel self ingesamel is, en weerspieël volgens Kruger nie net goeie handewerk nie, maar ook deernisvolle hartswerk.
Boeke is in wese ontdekkingsreise op papier, of dit nou vermaak óf kennis oordra, en op dié wyse vergroot dit die leser se wêreld en dra dit by tot die vorming van sy of haar lewensuitkyk. Met hierdie realiteit in gedagte poog die keuse van vanjaar se projek om as’t ware ʼn venster tot die wye wêreld, en die moontlikhede wat bestaan, aan die gemeenskap te bied.
“Ons deel graag ʼn liefde vir lees en ʼn dors na kennis met die gemeenskap. Dit is iets wat uit ons harte kom – en daarom het ons strukture gebou wat mense in staat stel om vrylik toegang tot leesstof te verkry. Gemeenskapslede is ook welkom om boeke tot die posbusbiblioteke te voeg. Op dié manier word gemeenskapsverbondenheid ʼn volsirkelervaring,” sê sy.
Spore is egter nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie, en ná afloop van die oorhandiging van die posbusbiblioteke sal studente gedurende die jaar ook gereeld besoek aflê aan die dienssentrums. Tydens hierdie besoeke sal daar tyd saam met die inwoners spandeer word. Volgens Kruger sal die studente op hierdie manier ook waardevolle lewenswyshede uit die interaksie met die inwoners put. Met die beplanning van die projek het die behoefte vanaf die dienssentrums duidelik geword dat die struktuur ʼn bankie moet insluit wat interaksie met studente of die gemeenskap kan aanmoedig. Baie bejaardes sukkel om te lees en so kan ʼn student die liefde vir lees deel of in gesprek tree met ʼn bejaarde oor ʼn boek of selfs die geleentheid gebruik om praktiese hulp te verleen, soos die gebruik van selfoontegnologie.
Spore wat voortbou
Kruger sluit af deur te sê dat dit die Akademia-Paarl-kampus se hoop is dat hierdie ervaring deernis en energie vir die gemeenskap sal aanwakker. “Die oomblik wanneer studente die deug van diensbaarheid hul eie maak, is die oomblik wanneer blywende en toekomsgerigte spore nagelaat word,” sê Kruger.




Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.