Skaduwees op die skerm: Die invloed van sosiale media op ons werklikheidsbesef

Gepubliseer op: 3 Junie 2025

Geskryf deur Monique Alberts, dosent in Professionele Studies, en dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent in Opvoedkundestudies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Die Netflix-dokumentêr, Adolescence, lok wêreldwyd uiteenlopende reaksie by gehore uit en plaas opnuut die soeklig op die rol wat sosiale media in persone, en veral ontvanklike kinders, se werklikheidsbesef speel.

ʼn Donker prentjie van beïnvloeding

Die reeks volg die verhaal van die dertienjarige Jamie Miller wat teregstaan op die moord van ʼn klasmaat. Dit is ʼn aangrypende én ontstellende vertelling wat nie net oor die misdaad self handel nie, maar oor die breër sosiale en digitale konteks waarin dit plaasvind. Een van die mees onrusbarende aspekte van dié reeks is die sentrale rol wat sosiale media in die aanloop tot hierdie tragedie speel. Soos die reeks verloop word dit duidelik dat Jamie en sy klasmaats deurentyd én intensief aan twyfelagtige aanlyn figure en diesulke wêreldbeskouings blootgestel word.

Hierdie tipe inhoud is maklik toeganklik met net ʼn paar klikke op ʼn slimfoon of rekenaar en beïnvloed ongelukkig méér as net die manier waarop veral tieners oor hulleself en ander nadink. Blootstelling aan hierdie inhoud kan ook, soos in hierdie werklikheidsreeks te sien is, ʼn drastiese impak op gedrag uitoefen.

Die werklikheid word, soos ʼn skaduwee, versin

Binne die milieu van die digitale era en gepaardgaande toegang tot skadelike aanlyn inhoud dra tieners se sosialemediaverbruik dikwels by tot die uitdagings wat hul ouers in die gesig staar. Maar hoe kan jy jou kind teen die gevare van die aanlyn wêreld beskerm sonder om hulle totaal daarvan te isoleer? Hoe vind jy balans tussen beskerming en voorbereiding ten einde jou kind vir hierdie veranderende werklikheid toe te rus?

Die Franse sosioloog en filosoof, Jean Baudrillard, redeneer in sy werk Simulacra and Simulation dat die media toenemend ʼn alternatiewe lens bied waardeur die wêreld ervaar word. Hierdie belewing word sodanig aangepas dat, volgens Baudrillard, die werklikheid self nie meer beleef word nie, maar eerder slegs ʼn simulasie daarvan. Laasgenoemde word ʼn meta-realiteit genoem waarin die voorkoms van tekens en grafiese beelde die grens tussen die werklikheid en ervaringswêreld vervaag.

Dit is interessant om te leer dat Baudrillard se idees aangaande meta-realiteit lank vóór die aanvang van sosiale media geformuleer is. Sy verwysingsraamwerk het destyds op die impak van televisie en die nuusmedia gefokus, beide mediums wat die persepsie van die werklikheid vervorm. Inaggenome die alomteenwoordigheid van sosiale media is dit duidelik dat die impak vandag nóg méér kompleks en allesomvattend is. In vandag se ervaringsmilieu is dit moeilik om effektief te onderskei tussen die werklikheid en dit wat digitaal as die werklikheid aangebied word.

Vir ouers en opvoeders wat hierdie tendens raaksien en probeer om hul kinders en leerders daarteen te beskerm, kan dit na ʼn opdraande stryd voel. Hierdie situasie herinner sterk aan Plato se grotmetafoor, en dit kan soms voorkom asof persone die skaduwees op die muur bó die ongemaklike waarhede van die werklikheid verkies. En só eggo die vraag steeds: Hoe beskerm ons die jeug teen hierdie versinsel? Hoe kan die waarskuwings oor die gevare van sosiale media effektief gekommunikeer word sodat dit nie net gehoor word nie, maar werklik verstaan en ter harte geneem word?

Volgens internasionale navorsingsbevindinge besit bykans 91% van alle elfjariges in die Verenigde Koningryk reeds ʼn slimfoon. Soortgelyke bevindinge skets ʼn eenderse en selfs toenemende prentjie vir die Suid-Afrikaanse jeug. Alhoewel ouers dit te kenne gee dat die selfone vir gebruik in noodgevalle verskaf word, is daar ʼn bewustheid dat vaardighede ontwikkel moet word om volwassenheid en verantwoordelikheid te bevorder. Laasgenoemde verwys veral na die gebruik van sosiale media en die onvermoë van kinders om die risiko’s verbonde aan hierdie medium te begryp. Risiko’s sluit onder meer in die voorkoms van seksuele uitbuiting, kuberboeliery en die skending van privaatheid.

Ongeveer 81% van Suid-Afrikaanse ouers dui aan dat hulle ʼn behoefte het aan ondersteuning as dit kom by die verantwoordelike gebruik asook die regulering van hul kinders se selfoongebruik.

Praktiese raad aan ouers

  • Beperk saans toegang tot tegnologie

Laai toestelle soos slimfone, skootrekenaars en tablette snags in ʼn gemeenskaplike area soos die kombuis. Hierdie praktyk sal help om die nagtelike gebruik van hierdie tegnologie te verminder en op die koop toe gesonde slaapgewoontes te kweek.

  • Stel duidelike skermtydlimiete en -filters in

Maak gebruik van ouerlike beheerinstellings op toestelle en gepaardgaande toeps om tydsbeperkings en inhoudsfilters daar te stel ten einde toegang tot onvanpaste inhoud te help beperk.

  • Wees bewus van emoji- en simboolgebruik

In Adolescence word daar duidelik aangetoon hoe sekere emoji’s en simbole spesifieke betekenisse, veral onder tieners, het. Binne hierdie konteks word emoji’s en simbole vir méér as net blote versierings of kommunikasietoevoegings gebruik. Deur self hierdie taal goed te verstaan kan ouers help om moontlike uitdagings te navigeer en vroegtydig op risiko’s let.

  • Skep ʼn oop kommunikasiekultuur

Moedig gereelde en eerlike gesprekke aan oor aanlyn ervarings en skep ʼn ruimte waarin tieners, sonder oordeel, hul bekommernisse en ontdekkings kan deel.

  • Wees self ʼn rolmodel

Demonstreer as ouer self gesonde aanlyn gedrag asook konstruktiewe probleemoplossing en empatie. Kinders leer deur hul ouers se voorbeeld te volg.

  • Oorweeg ʼn tegnologiekontrak

Stel saam met jou kind ʼn ooreenkoms op, wat die reëls en verwagtinge rondom tegnologiegebruik duidelik uiteensit. Só ʼn kontrak bevorder verantwoordelikheid en begrip vir aanlyn veiligheid. Die volgende aspekte kan deel vorm van die kontrak:

  • Die doel van die ooreenkoms
  • ʼn Lys van die toelaatbare toestelle
  • Skermtydbeperkings
  • Toestelgebruik by die huis én die skool
  • Sosialemediaplatforms
  • Toesig en toegang deur ouers
  • Verantwoordelikhede van die gebruiker (kind)
  • Belonings vir verantwoordelike gebruik
  • Tydsduur en hersiening van die kontrak
  • Handtekeninge van die ouer en die kind

Deur hierdie stappe te volg, kan ouers hul kinders beter voorberei om die uitdagings van die digitale wêreld met vertroue en verantwoordelikheid aan te pak.

Monique Alberts, dosent in Professionele Studies, en dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent in Opvoedkundestudies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde meen sosiale media kan ʼn persoon so werklikheidsbesef op só ʼn wyse beïnvloed dat gedrag en selfbeskouing in gedrang kan wees.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.