Search
Close this search box.

Slaan só vakkeuse-angs hok – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 3 September 2024

Wanneer dit by vakkeuses kom bevind heelparty leerders én straks ook hul ouers hulself in onbekende waters en gaan die keuseproses met baie angs gepaard. Gedagtig aan die wete dat vakkeuses ʼn deurslaggewende rol in die vorming van jou akademiese loopbaanpad speel, is dit belangrik om ter voorbereiding die regte vrae te vra. Hoe benader jy die proses? Hoe besluit jy watter vakke om te kies? Méér nog: hoe verseker jy dat jou keuse belyn is met jou toekomsdrome?

Dr. Annelize van Antwerp, ʼn voorligtingsielkundige verbonde aan die Studentesakeafdeling by Akademia, meen dat leerders en hul ouers vroeër eerder as later met die denkproses moet begin. “Alhoewel vakkeuses eers in graad nege gemaak word – met die oog op graad tien, is dit raadsaam dat daar reeds met die oorgang vanaf laerskool na hoërskool hieroor besin moet word,” sê Van Antwerp. Sy voeg by dat vakkeuses die eerste stap is in ʼn lewenslange reis waarin leerders op ʼn weldeurdagte manier kennis moet maak met hul belangstellings, vaardighede en passies.

As dit kom by vakkeuses staan belangstelling en aanleg dikwels in spanning teenoor mekaar. Van Antwerp verduidelik dat wanneer sy ʼn aanbeveling maak dat sy eerstens na ʼn leerder se aanleg kyk. “Aanleg gee ʼn aanduiding van ʼn persoon se potensiaal en vermoë om analities te dink. Dit wil sê, hoe bevoeg ʼn leerder is om te leer én hierdie aangeleerde kennis toe te pas. Belangstelling daarteenoor word gesien as die wil om meer te leer of meer te weet oor ʼn spesifieke onderwerp,” verduidelik Van Antwerp. Sy voeg by dat dié twee faktore wel ʼn wederkerige invloed op mekaar het wanneer dit by vakkeuses kom.

Sy bied die volgende scenario ter verduideliking van hierdie wisselwerking aan:

ʼn Leerder kan ʼn sterk aanleg in ʼn betrokke vakgebied hê, maar ʼn lae belangstelling. In hierdie geval is die motivering om in die vak te presteer dienooreenkomstig laag. Dit kan ook gebeur dat ʼn leerder ʼn swakker aanleg vir ʼn spesifiek vak het, maar ʼn sterk belangstelling daarvoor het. In hierdie geval sal die motivering om die vak baas te raak hoog wees.

Volgens Van Antwerp is dit uit die voorbeeld baie duidelik dat beide aanleg en belangstelling ʼn rol speel en gevolglik ingesluit word in die psigometriese toetsbattery wat deur voorligtingsielkundiges gebruik word.

Bogenoemde benadering kan ook help om ʼn keuse te maak as dit kom by Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid. Van Antwerp verduidelik dat Wiskunde gewoonlik aanbeveel word vir leerders met ʼn gemiddelde tot bogemiddelde aanleg en belangstelling. Wiskundige Geletterdheid aan die ander kant bied aan leerders met ʼn swakker aanleg en/of belangstelling die geleentheid om steeds probleemoplossing en basiese berekeningsvaardighede op te doen ten einde hulself in die wêreld te kan handhaaf.

Nóg ʼn uitdaging wat die keuseproses kan beïnvloed is die vraag oor by wie die finale besluit lê – ouers of die leerder? Van Antwerp is van mening dat dié besluit uiteindelik by die leerder berus. “Insette van ouers en onderwysers is belangrik omdat diegene die leerder goed ken, soms selfs beter as die leerder hom-/haarself ken. Dit is egter belangrik dat daar altyd in die beste belang van die leerder opgetree word en daar nie na eie agendas of vooropgestelde idees gestreef word nie,” sê Van Antwerp.

Sy verduidelik dat daar nie ʼn klinkklare resep is as dit kom by die maak van vakkeuses nie. Sy meen dat selfkennis en insig ʼn belangrike vertrekpunt is. “Wanneer jy weet wie jy is, wat jou waardes, vaardighede en sterkpunte is, sal dit makliker wees om ʼn keuse uit te oefen,” sê Van Antwerp en voeg by dat psigometriese toetsing met groot sukses gebruik kan word om hierdie inligting te bekom.

Krap jy kop oor vakkeuses? Dit is belangrik om ʼn volledige oorsig van ʼn leerder se belangstelling, aanleg en voorkeure sowel as huidige prestasie in ag neem, om aanbevelings ten opsigte van geskikte vakke te maak. Akademia se Studenteondersteuning-afdeling maak geruik van betroubare en geldige meetinstrumente om vir leerders en hul ouers die geleentheid te bied om ʼn ingeligte besluit te maak. Vir meer inligting oor die battery van meetinstrumente wat gebruik word of om ʼn individuele toetsing te bespreek, kontak voorligting@akademia.ac.za

Dr. Annelize van Antwerp, voorligtingsielkundige verbonde aan Akademia, meen daar moet vroeër eerder as later oor vakkeuses besin word.