Search
Close this search box.

Dagboek Akademia se sentrumopedag in Bloemfontein en George

Gepubliseer op: 10 September 2024

Bevind jy jouself in sentraal Suid-Afrika óf in die Wes-Kaap? Oorweeg jy dit om in 2025 as ʼn Akademia-student by wyse van óf die voltydse kampusmodel óf nauurs oor afstand agter die boeke in te skuif? Indien wel, dagboek sommer dadelik 5 en 12 Oktober 2024 vir ʼn Akademia-sentrumopedag in onderskeidelik Bloemfontein en George.

Die sentrumopedag is meerdoelig van aard. Voornemende studente kan inligting oor beskikbare studierigtings bekom, personeel ontmoet, kwelvrae opper én eerstehands ervaar wat Fontie-wees aan dié onafhanklike hoëronderwysinstelling behels. Méér nog, dit bied jou ʼn praktiese blik op die aansoekproses sowel as betalingsopsies, merietebeurse spesifiek vir matrikulante asook die instellings se dinamiese onderrigleermodelle. Laasgenoemde maak dit vir enigeen moontlik om sy/haar studiedroom na te jaag – vanaf skoolverlaters wat kopkrap oor wat hul ná afloop van graad 12 wil doen tot werkende persone wat hul loopbaanmoontlikhede wil verbreed.

Sentrumopedag in Bloemfontein

Saterdag 5 Oktober, 09:00 tot 10:30

The Towers-winkelsentrum, Koppieweg 1, Langenhovenpark

Bespreek jou plek hier.

Sentrumopedag in George

Saterdag 12 Oktober, 09:00 tot 10:30

Joubert-plaza, Meadestraat 100, George-Sentraal

Bespreek jou plek hier.

Volgens Lizán Maree, bestuurder: Bemarking, verteenwoordig die sentrumopedag ʼn belangrike roetewyser op enige voornemende Fontie se studiereis. Om dié rede is dit belangrik om op dié dag soveel as moontlik inligting in te win, vrae te vra en by huidige Fonties kers op te steek. “Die keuse van ʼn studietuiste is nie een wat ligtelik gemaak moet word nie, en daar is baie oorwegings wat in ag geneem moet word. Kom kuier vir ons tydens die sentrumopedag en kom vergewis jouself van die hart en wese van Akademia,” sê Maree. Sy voeg by dat ʼn span bestaande uit ervare akademici, kundige ondersteuningspersoneel en huidige studente gereed staan om met raad en daad te help.

Maree verduidelik voorts dat die instelling se landswye sentrumnetwerk ʼn belangrike ondersteuningsnode vir studente bied. Hierdie netwerkvoetspoor is spesifiek in Afrikaanse gemeenskappe gesetel om toeganklike universiteitsvlakopleiding binne studente se bereik te plaas. In dié opsig vervul elke sentrum die rol van ʼn akademiese tuiste vir Fonties in ʼn bepaalde geografiese gebied. Binne hierdie milieu word vriendskappe gesmee, professionele netwerke uitgebrei en ondersteuning gebied.

Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting.

Die sentrumopedag bied aan voornemende studente die geleentheid om met kundige en ervare personeel te gesels en só vorm aan hul studiereis te gee.