Gepubliseer op: 6 Januarie 2025
Geskryf deur Elana Kriel, ʼn opvoedkundige sielkundige verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling.
Gerat met ’n matrieksertifikaat en bestuurderslisensie vermoed die meeste nuwe eerstejaarstudente dat hul gereed is vir dié nuwe studentefase in hul lewe. Wel, as jy jouself in 2025 op universiteitsterrein begewe, is dit nét genoeg vir jou toelating tot ’n hoëronderwysinstelling en om jou by die kampus te bring.
Studentelewe is méér as laatnagstudentepret, vryheid en nuwe vriende. Kampus- en studentelewe sluit ook onder meer in:
Die neem van klasnotas
Bogenoemde dien natuurlik alles ter voorbereiding van jou opleiding- en loopbaankeuse.
Eerstejaars word maklik oorweldig met alles wat nuut en anders op kampus is, en is in ’n belangrike lewensfase waar hul identiteit ontwikkel en gevestig word. Hulle worstel met vrae soos wie is ek, en waarheen is ek op pad in my loopbaan en persoonlike lewe. Dit alles binne die uitdagings van inligting wat eksponensieel toeneem. Die versoeking is daarom groot om na die gemak van beskikbare kunsmatige intelligensie te gryp wat alle uitdagings na kinderspeletjies laat lyk.
Tog is daar deurlopend rigtingwysers beskikbaar om eerstejaars in elke dimensie te ondersteun. Hierdie rigtingwysers sluit in dosente en programkoördineerders by fakulteite, medestudente, studenteraadslede, koshuisstrukture, kundige administratiewe personeel en studenteondersteuningsdienste. Laasgenoemde bied ʼn veilige omgewing waarbinne studente enige akademiese en persoonlike uitdagings uit die weg kan ruim. Hiermee saam bly ouerhuise en families steeds deel van ’n student se ondersteuningsnetwerk en anker studente in tye wanneer hul gekonfronteer word met nuwe en anderse uitdagings.
Nóg ’n sleutel tot sukses, is deelname aan aktiwiteite wat spesiaal vir eerstejaars aangebied word met die doel om inskakeling by instellings en betrokkenheid met medestudente aan te moedig. Oriënteringsessies stel jou bloot aan die instelling se unieke werkswyse, assesseringsinligting, leerplatforms, hulpbronne vir navorsing, ondersteuningsdienste en die belangrikheid van onafhanklike akademiese denke om jou akademiese reis te vergemaklik en op koers te hou.
Onthou dat deurlopende toegewyding met klasbywoning en akademiese deelname ’n positiewe leerroetine vestig wat jou akademiese vordering versnel en met eksamentyd dikwels die deurslag gee.
By Akademia is die vorming van denke én hart rigtingwysers op jou akademiese reis. Denke word gevorm en ontwikkel deur klasbywoning, gesprekke met dosente en medestudente binne en buite klasverband, deelname en skep van verenigings en klubs. Die hart kan net gesond klop wanneer daar gesonde studentedeelname is en die eerstejaarskamp skep geleentheid vir nuwe vriendskapsverhoudings en saamdink en -doen. Studentedeelname aan koshuis- en daghuisaktiwiteite wat eerstejaarskonserte, gemeenskapsprojekte en gesonde studenteaktiwiteite insluit maak die nuwe akademiese omgewing gou jou tuiste, jou “nuwe” huis weg van die huis af. Waardes van lewenslange leer en ’n ingesteldheid om ons Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te verbeter om ’n volhoubare toekoms te verseker, kenmerk Fontie*-studente se eerstejaarsprojekte.
Selfbestuur veronderstel verantwoordelikheid, onafhanklikheid en eienaarskap – die geleentheid om jou lewensreis in die regte rigting te stuur sodat jy jou eindbestemming, jou roeping kan bereik. Selfbestuur is doelgerig en gedrewe. Akademia se studenteondersteuning bied ’n veilige stilhouplek, waar jou akademiese en emosionele tenk volgemaak kan word en jou roetekaart beplan en aangepas kan word sodat jy jou eindbestemming met selfvertroue en wêreldklas opleiding kan bereik.
Sit jou akademiese ontwikkeling in ’n nuwe rat en word deel van Akademia se Fontie-studentelewe. Jou reis het pas begin! Wees op die uitkyk vir rigtingwysers op jou nuwe avontuur, hou jou (emosionele, sosiale en kognitiewe) tenk vol en neem betyds die nodige ruskanse vir ’n voorspoedige reis. Besoek die Akademia-webblad by www.akademia.ac.za vir meer inligting oor studiemoontlikhede. Voorgraadse studieaansoeke vir 2025 sluit op 31 Januarie.
*Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem. Dié eienaam is afgelei van die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.