Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Piekfyn wyn sonder pyn

Gepubliseer op: 22 Julie 2021

(met die hulp van groot data en kunsmatige intelligensie)

Geskryf deur Riana Crafford, dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

Terwyl Suid-Afrikaners alweer wynloos gelaat is na die president se aankondiging tydens die vorige “familievergadering”, kan ons net droom van die wyne wat ons nog gaan koop. Nietemin, ons Suid-Afrikaners is mos bekend daarvoor dat ons verleenthede in geleenthede kan omskep. Hoekom gebruik jy nie hierdie droogte-seisoen om jou kennis oor wyne en wynkelders op te knap nie?

Nog beter: Moet jy nie eerder jou vermoë om beter wynkeuses te maak, nou opskerp nie? Die heel beste sal natuurlik wees om vir jou ’n persoonlike wynkenner “aan te stel” om jou te help om die regte wyn te kies en solank te bestel: ’n wyn wat ideaal is vir die geleentheid, jou persoonlike smaakvoorkeure bevredig én in jou prysklas val.

Wie weet, miskien kom ons binnekort los uit die wurggreep van die virus. Dieselfde dag wat ons president weer die wyndrinkers in genade aansien, kan jou met-twee-vingers-uitgesoekte wyn op die afleweringswa gelaai word.

Waar kan jy hierdie “persoonlike wynkenner” in die hande kry? Al wat jy hoef te doen, is om ʼn wynproewerstoepassing op jou selfoon af te laai.

Een so ’n toepassing is dié van Vivino. Vivino verteenwoordig die wêreld se grootste aanlynwynmark. Groot data en kunsmatige intelligensie word gebruik om mense te help om hul eksie-perfeksie wyne te vind.

Dit alles sonder dat dit jou ʼn sent kos.

Jy moet net ’n foto van ’n bottel wyn se etiket neem, dan kan jy dadelik die wyndrinkende publiek se aanlyn resensies van die spesifieke wyn lees. Jy kan sommer ook die prys uitvind en selfs ’n bestelling plaas, alles ewe gerieflik van jou selfoon af. Jy kan ook wynlyste in restaurante skandeer om jou te help om die regte wyn te kies wanneer jy by ’n lekker restaurant uiteet.

Vivino se unieke wyninkopie-ervaring word geheel en al gedryf deur gemeenskapsdata – 20 000 nuwe gebruikers laai die toep elke dag af. Die toepassing gee gebruikers toegang tot die volgende inligting: sowat 1,5 miljard foto’s van wynetikette, 200 miljoen graderings en 10 miljoen wyne. Dis GROOT! Hierdie groot data is die sleutel tot Vivino se besigheid, en hulle sowat 50 miljoen gebruikers help hulle om dit in stand te hou.

Die Vivino-toep kan jou vertel of die wyn glad genoeg op die tong of droog genoeg is om jou smaak te bevredig, of dit goed pas by jou maaltyd en selfs of dit goeie waarde vir geld is of nie.

Nadat jy die wyn probeer het, kan jy jou eie waarneming tot die program toevoer, en dit sal daardie inligting by jou profiel voeg om die toep se kennis van jou smaak en voorkeure uit te brei.

Vivino het onlangs kunsmatige intelligensie ingebou in hul algoritmes wat persoonlike aanbevelings vir elke gebruiker genereer n.a.v. hul waarnemings- en profieldata. Sodra jy minstens vyf wyne gegradeer het, sal elke wyn in die databasis ʼn telling hê wat aandui of daar ’n goeie, matige of geringe kans is dat jy persoonlik daarvan sal hou.

Hierdie aanbevelings word spesifiek vir jou gegenereer, aangesien dit mos so is dat jy nie noodwendig gaande sal wees oor ander wyndrinkers se wennerwyne nie.

As jy tot hier toe gelees het en gedink het dat KI vernuftig is, hoor bietjie wat dit nog vir wyndrinkers kan doen:

Glo dit of jy wil of nie, kunsmatige intelligensie kan nou selfs proe!!

In die uiters mededingende wynindustrie, waar baie wynmakers net één kans per seisoen het om ’n goeie wyn te maak, is al hoe meer wynmakers op soek na nuwe maniere om te voorspel waarvan wyndrinkers sal hou.

Deesdae gebruik Tastry, ’n maatskappy wat spesialiseer in sintuiglike wetenskappe, KI en gevorderde chemie om te leer om te “proe”. Hierdie tegnologie bevorder die wynbedryf deur waardevolle inligting aan wynmakers te verskaf oor die wyne wat hulle klante geniet.

Tastry se tegnologie ontgin geurprofiele deur duisende wyne in hul laboratorium chemies te ontleed. Dan identifiseer Tastry die unieke palaat van elke individu wat deelneem aan hul meningsopnames. (Verbruikers se palate is soos vingerafdrukke – geen twee is ooit dieselfde nie.) Die KI gebruik dan hierdie data oor verbruikers se smaak en oor die verskillende wyne se geurprofiele om wyndrinkers se voorkeure met meer as 92% akkuraatheid te voorspel.

Elke individu het ’n unieke smaakervaring. Tastry se toep, BottleBird, vra gebruikers uit oor hul persoonlike smaak- en reukvoorkeure (insluitend vrae oor dinge soos koffie, tabak en asyn.) BottleBird se KI gebruik dan hierdie inligting oor elkeen se persoonlike voorkeure om aanbevelings te maak.

Wynmakers en kleinhandelaars kan nou werklike data oor hul kliënte gebruik. Hierdie benadering maak Tastry anders as programme soos Vivino, wat staatmaak op historiese aankoop- en graderingsdata.

Die toep se aanbevelings help wyndrinkers om met groot sukses ’n wyn in ’n winkel, restaurant, kroeg of wynkelder te kies. Hulle leuse is “Moet nooit weer geld op ’n slegte bottel wyn mors nie.”

Verbruikers word selfs in staat gestel om wyne te vind wat hoogs geskik is vir hul vriende, sodat hulle geskenke kan gee wat elke keer in die kol is.

As jy ’n wynliefhebber is, hoop ek bogenoemde het jou geïnspireer om nou dadelik op jou slimfoon te spring en te begin soek na daardie ideale wyn. ’n Aangename tydverdryf terwyl jy angstig sit en wag dat die pandemie sy loop moet loop en die president ons weer vergun om ʼn bietjie alkohol te koop!

Daar is wel een sakie waaraan Suid-Afrikaanse wyndrinkers aandag kan gee. Die meeste van die wyne op hierdie toepassings word in die sg. “Ou Wêreld” geproduseer. Dit is nou in Europa. Die “Nuwe Wêreld”, waarvan ons Suid-Afrikaanse wyne maar ʼn druppel in die emmer is, se wyndata is ver in die minderheid. Van die sowat 1,5 miljoen wat opgeneem is in Vivino se databasis, kom ʼn miljoen uit Europa en minder as ʼn halfmiljoen uit die hele res van die wêreld. Nietemin, ek is nie oortuig dat die Europeërs soveel meer wyn maak nie. Is hulle nie net soveel meer ingestel op hulle wyndrinkkultuur nie?

In daardie geval het Suid-Afrikaanse wynliefhebbers dalk ʼn geleentheid om ons wynprodusente te “red” na al die gedwonge alkoholvrye maande wat verby is. Dit is dalk ʼn relatief eenvoudige manier om ons produsente te help om hulle sigbaarheid in die oorsese mark te verbeter. Kom ons kyk hoeveel Suid-Afrikaanse wynetikette en -resensies ons kan laai terwyl ons wag dat ons gunstelingwyne afgelewer mag word. Ons kan dan ook sommer webbesonderhede van ons geliefde Kaapse wynmakers in die toep laai.

Hoe lyk dit, gaan ons die Suid-Afrikaanse wyn- en toeristebedrywe op hierdie manier ʼn hupstootjie gee? Die joos weet, na al die inperkings en beperkings op drankverkope het hulle dit bitter nodig.

Met dank aan Bernard Marr, futuris en blogskrywer. Verwys gerus na sy blogs oor KI.

Riana Crafford is ʼn dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.