Search
Close this search box.

Persvryheid – ook vir dié nuus waarvan jy dalk nie hou nie

Geskryf deur Yolandi GroenewaldAndré Gouws en Landi Slatter – dosente in Joernalistiek en Kommunikasie by Akademia.

Meimaand staan bekend as Wêreldpersvryheidsmaand en vanjaar se tema is: Persvryheid as die drywer van alle menseregte. ʼn Eenvoudige definisie vir persvryheid is as die media en joernaliste hulle werk kan doen sonder vrees vir vervolging, intimidasie, inmenging, dreigemente, sensuur of mishandeling.

Dit klink dalk vreemd, en jy mag jouself afvra of hierdie vergrype dan regtig plaasvind. Die antwoord is ongelukkig ja, en die voorbeelde hiervan is legio – joernaliste wat by name op Twitter en ander sosialemediaplatforms geteiken word weens hulle (feitelike) beriggewing oor omstrede kwessies. Die fisieke en emosionele intimidasie van joernaliste binne en buite howe. Persoonlike boodskappe in Facebook-inbokse wat joernaliste presies toevoeg hoé swak, sensasioneel en waardeloos hulle beriggewing is. Joernaliste is selfs al op kamera beroof terwyl hulle verslag lewer.

Die mees onlangse hoëprofielvoorbeeld ter illustrasie van bogenoemde is sekerlik die Karyn Maughan, News24-joernalis, vs. Zuma-sage. Maughan staar tans private vervolging deur oudpresident Jacob Zuma in die gesig omdat sy na bewering via advokaat Billy Downer mediese inligting van hom (Zuma) bekend gemaak het.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) skryf in ʼn verklaring “Maughan is ʼn joernalis wat haar werk gedoen het, iets wat Zuma en sy regspan weier om te aanvaar.” Hulle meen voorts die vervolging is ʼn poging om Maughan “stil te maak” en te “intimideer”.

Nóg ʼn kommerwekkende voorval is die verklaring deur die ondersoekende joernalistieke eenheid Amabhungane waar drie van hulle joernaliste op die punt staan om in hegtenis geneem te word ná omstrede besigheidsman, Zunaid Moti, kriminele klagtes teen hulle gelê het. Dit is nadat Amabhungane na bewering inligting – volgens Moti gesteel deur die joernaliste – gepubliseer het wat sy korrupte verhouding met verskeie Zimbabwiese beamptes uitwys. Dié betrokke joernaliste meen dat die klagtes niks anders as ʼn intimidasietaktiek is om hulle te muilband nie.

Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24 en Afrikaanse nuus by Media24, skryf op die vooraand van Wêreldpersvryheidsdag op 3 Mei in haar redakteursbrief dat joernaliste “net hulle werk” doen. Dit is inderdaad so – die gedagte dat joernaliste by gerespekteerde, gesaghebbende en betroubare mediahuise iewers in ʼn donker kamertjie agter hulle lessenaars sit en inhoud skep om hulle eie agendas te dryf, is bloot naïef. Die aard en funksionering van ʼn nuuskantoor laat dit eenvoudig nie toe nie.

Volgens Reporters without Borders (RSF) se Persvryheidsindeks (2023) beklee Suid-Afrika die 25ste plek uit 180 lande en het ons ʼn gevestigde kultuur van ondersoekende joernalistiek. Dit is ʼn reusesprong van tien plekke sedert 2022 se 35ste plek. Alhoewel persvryheid gewaarborg is in Suid-Afrika, is joernaliste onlangs “dikwels aan verbale aanvalle van politieke leiers en aktiviste onderwerp” sê die RSF.

Suid-Afrika se 25ste posisie op die ranglys vergelyk baie goed met sterk demokrasieë in die Westerse wêreld. Volgens RSF is Suid-Afrika se posisie beter as die van die Verenigde Koninkryk (26ste), Australië (27ste), België (31ste) en die Verenigde State van Amerika (45ste).

In Afrika is Namibië hoër op die ranglys (22ste) as Suid-Afrika. Uitdagings soos fopnuus en regeringspropaganda dra egter daartoe by dat ander Afrikalande meestal baie laag op die lys verskyn. Suid-Afrika se buurlande geniet volgens die ranglys nie werklik persvryheid nie en Zimbabwe beklee die 126ste plek, Eswatini 111ste, Mosambiek 102de en Botswana die 65ste plek.

Onverskrokke joernaliste is dié wat vir jou die nuus gebring het oor #Guptagate, die Life Esidimeni-tragedie, staatskaping, Phala-Phala, Nkandla, Thabo Bester en die Limpopo-handboekskandaal. Dit is egter ook húlle wat jou vertel van ʼn gemeenskap wat self probeer krag opwek en water suiwer, self slaggate herstel, gemeenskappe wat na mekaar omgesien het tydens die Covid-19-pandemie, ʼn vrou wat op straat lekkers verkoop om haar studies te befonds, ʼn seun wat hondekos wou hê vir sy agttiende verjaarsdag om aan ʼn plaaslike organisasie te skenk en ʼn onderwyseres wat saam met haar risiko-matrikulante by die skool oorslaap tydens die eindeksamen om seker te maak dat hulle elke aand ʼn bord kos het, ʼn matras het om op te slaap en ʼn veilige plek het om te leer.

Ál hierdie stories moet by wyse van persvryheid beskerm word. Ook dié waarvan jy dalk nie hou nie. Persvryheid is nie net belangrik in die mediaomgewing nie, maar ook ʼn vryheid wat in die hart van elke Suid-Afrikaner behoort te leef.

Nota: Die media moet natuurlik ook voor hulle eie deure vee. Kontak gerus die Persombudsman by 011 484 3612 of stuur ʼn e-pos na complaints@presscouncil.org.za indien jy voel joernaliste of die media maak hulle skuldig aan foutiewe of skadelike beriggewing.

Yolandi Groenewald, André Gouws, en Landi Slatter is dosente in Kommunikasie en Joernalistiek by Akademia.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.