Van meester tot leermeester: Mentorskap spreek tot denke én die hart

Gepubliseer op: 3 Junie 2025

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde het op Woensdag 28 Mei 2025 die soeklig opnuut op mentorskap geskyn by wyse van ʼn simposium met die tema: Van meester tot leermeester. Tydens dié geleentheid, wat by die instelling se Leriba-kampus in Centurion aangebied is, is daar krities na die filosofiese en opvoedkundige aard van mentorskap gelet.

ʼn Kundige gesprekspaneel het voorts hul siening op dié tema met die gehoor gedeel. Hierdie paneel het bestaan uit Daan Goosen (Akademia-dosent: Groot Boeke), dr. Louis Dey (skoolhoof: Laerskool Constantiapark) en prof. Johnnie Hay (senior onderwyskenner). Die volgende temas is bespreek:

  • ʼn Filosofiese perspektief op mentorskap;
  • ʼn Professionele ontwikkelingsperspektief op mentorskap; en
  • ʼn Hoëronderwysperspektief op mentorskap.

Dr. Maretha Steyn, departementshoof: Professionele Studies, het tydens haar openingsrede die tafel vir die dag se gespreksvoering gedek deur mentorskap gelyk te stel aan ʼn skeppingsdoel. Gedagtig aan die skrifgedeelte in Matteus 5:14 – “Julle is die lig van die wêreld.” – het dr. Steyn ʼn mentor vergelyk met iemand wat ʼn ander se pad verlig deur sy/haar potensiaal te erken en te ontwikkel.

“ʼn Mentor is in wese ʼn hand wat wys, ʼn stem wat bemoedig en ʼn hart wat sien. Soos ʼn kers wat ʼn ander aansteek, verloor die oorspronklike vlam niks nie. Inteendeel, dit vermenigvuldig lig,” meen dr. Steyn. Sy gaan voort deur te sê dat mentorskap die geestelike sonskyn is wat ʼn siel laat oopvou, wat geloof laat wortel skiet en wat roepings laat blom. Hierdie proses van lei en begelei strek dan ook verder as bloot onderrig omdat dit die hart aanraak en die gees verlig.

Meer oor die kundiges

Daan Goosen

Goosen is ʼn dosent in die Groot Boeke-program by Akademia. Hy het ʼn BA-graad in Visuele Kultuurstudies en ʼn honneursgraad (cum laude) in dieselfde dissipline aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. In 2024 behaal hy sy meestersgraad in Filosofie (cum laude) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Goosen se navorsingsfokus sluit hoofsaaklik die klassieke metafisika en literatuur in. Hy is sedert 2022 werksaam by Akademia as deeltydse dosent in Bedryfsetiek en Politiek, en vanaf 2025 ook in die Filosofie. Vanaf 2024 fokus hy hoofsaaklik op die ontwikkeling van aanlyn kortkursusse vir die Groot Boeke-program. Dié program het ten doel om alle Akademia-studente bloot te stel aan die tradisie van groot Westerse literatuur en denke. Goosen het reeds programme ontwikkel oor CS Lewis se Mere Christianity en JRR Tolkien se The Hobbit, wat op eerstejaarstudente gemik is, asook ʼn kortkursus oor Homeros se Die Odusseia wat tans aan tweedejaarstudente aangebied word.

Dr. Louis Dey

Dr. Dey is tans die skoolhoof by Laerskool Constantiapark, waar hy ook as adjunkhoof opgetree het vanaf 2012 tot 2018. Hy was by verskeie ander skole ook betrokke, onder andere by Hoërskool Waterkloof waar hy adjunkhoof was van 1995 tot 2007.

Dr. Dey se voetspore in die onderwys begin egter in 1985 toe hy as onderwyser by Hoërskool Oos-Moot aangestel is. Hy verwerf al sy kwalifikasies by die Universiteit van Pretoria (UP) wat insluit ʼn BA-graad, BAHons, BEd, meesters (cum laude) en ʼn PhD. Dr. Dey beskik oor wye bestuurservaring ten opsigte van akademie, sport, kultuur, dissipline en leierskap.

Prof. Johnnie Hay

Prof. Hay is ʼn ervare opvoeder en opvoedkundige en kliniese sielkundige met meer as 30 jaar se ervaring aan verskeie hoëronderwysinstellings.

Mentorskap en leermeesterskap in hoër onderwys lê prof. Hay na aan die hart. Hy is van mening dat sonder die leiding, begeleiding, berading en ondersteuning van ʼn mentor en leermeester, die akademie vir jong en onervare akademici in ʼn nagmerrie kan ontaard. In die lig hiervan meen hy dat effektiewe mentorskap ʼn dosent tydens die oorgang vanaf skoolonderwys tot hoër onderwys (en later) kan laat floreer.

Dr. Maretha Steyn, departementshoof: Professionele Studies aan Akademia, meen mentorskap is ʼn skeppingsdoel wat tot denke én die hart spreek.
ʼn Paneel deskundiges het die aard en wese van mentorskap tydens die onlangse Opvoedkunde-simposium bespreek. Van links is Daan Goosen (Akademia-dosent: Groot Boeke), dr. Nic de Jager (senior dosent: Professionele Studies en fasiliteerder van die paneelgesprek), dr. Louis Dey (skoolhoof: Laerskool Constantiapark) en prof. Johnnie Hay (senior onderwyskenner).
Die Opvoedkunde-simposium is by Akademia se Leriba-kampus in Centurion aangebied en is bygewoon deur akademici, onderwysbestuurders en onderwyslui verteenwoordigend van verskeie sektore binne dié beroepsveld.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.