*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 26 November 2025
Die splinternuwe boek van die akademikus, prof. Johannes D Froneman, Konstruktiewe joernalistiek vir vandag, het pas by die Akademia Uitgewery verskyn. Dié boek, wat as ʼn inleiding tot die joernalistiek vir beide Afrikaanse studente asook skoolleerders dien – en wat die soeklig op die drastiese veranderende mediakonteks skyn, is op Dinsdag 25 November 2025 in Pretoria bekendgestel. Wat dié publikasie nog meer besonders maak, is die feit dat dit die eerste Afrikaanse handboek vir joernalistiek sedert 1982 is én die eerste wat in Afrikaans hierdie beroepsveld vanuit ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing begrond.
Tydens die bekendstellingsgeleentheid het Elize Parker, self ʼn bekende in die Suid-Afrikaanse joernalistieke kringe, en die redakteur van die Pretoria Rekord, as gespreksgenoot opgetree.
Soos die geval met Froneman se vroeëre boek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld: Perspektiewe op die geskiedenis van die Afrikaanse media, wat in 2023 óók by die Akademia Uitgewery verskyn het, is die publikasie in opdrag van die instelling se Departement Tale en Kommunikasie, vanuit die Fakulteit Geesteswetenskappe, geskryf.
ʼn Publikasie wat spreek tot die denke en hart van joernaliste
Volgens Froneman het dié boek hom 47 jaar geneem om te ontwikkel, in die sin dat hy homself reeds sedert 1978 in die joernalistiek bevind. Oor die bestek van sy uitgebreide loopbaan het hy onder meer as joernalis, dosent en navorser gewerk. Wat die fisiese skryfproses behels, het hy homself twee jaar met die publikasie gebesig.
Hy beskryf voorts die publikasie as ʼn begronding van die joernalistiek as ʼn waardegedrewe beroep, en moedig veral jong Christen-joernaliste aan om hul beroepsveld as ʼn roeping te beskou en só hul medemens en gemeenskappe te dien.
Op die vraag wat die publikasie van ander onderskei, vertel Froneman dat verskeie leidende mediaverteenwoordigers tot die inhoud bygedra het. “Joernaliste – en selfs voormalige joernaliste – vertel nie net hoe hulle joernalistiek beoefen nie, maar ook hoe hul loopbane vanuit die veld uitgespruit en ontwikkel het,” sê Froneman. Hy voeg by dat hierdie ervaringsbelewenis die publikasie ʼn praktiese handleiding vir die hier en die nou maak.
Behalwe vir hierdie persoonlike toevoegings stel QR-kodes die leser in staat om allerlei interessante artikels en inskrywings op die aanlyn mediamuseum, Mediamense.com – waarvan Froneman die kurator is, ter ondersteuning te lees. Ander waardetoevoegende inhoud sluit in ʼn oorsig van belangrike mediateorieë en basiese vertrekpunte van die joernalistiek. Laasgenoemde verwys na praktiese benaderings asook uitdagings en riglyne. In kort: die omvang van ʼn uiters fassinerende beroep.
Froneman meen verder dat die publikasie op verskeie vlakke kan funksioneer omdat dit toeganklik is vir skoolleerders sowel as eerstejaarstudente, maar terselfdertyd oor genoeg diepte beskik om ook vir senior studente iets te gee om oor na te dink. “Uiteindelik is die boek ʼn mosie van vertroue in die joernalistiek, en in besonder Afrikaanse joernalistiek. Hierdie beroepsveld is nie dood nie, en lewe op ʼn duisend en een plekke passievol voort. En om hierdie polsslag gesond te hou, benodig ons opgeleide, toegewyde jong joernaliste,” sluit Froneman af.
Die belangrike rol van die Akademia Uitgewery binne die Afrikaanse universiteitswese
Volgens Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurstudies aan Akademia, wat ook as die publikasiekoördineerder van die boek opgetree het, is dit vir die uitgewery belangrik om aktief betrokke te wees met die ontwikkeling van akademiese publikasies en vakwoordeskat in Afrikaans.
“Hierdie publikasie maak dit vir die instelling moontlik om in ons moedertaal tot op die hoogste vlak te dink en te werk. Akademia is immers ʼn hoëronderwysinstelling wat ten nouste verbind is tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en hierdie publikasies verteenwoordig een van die dinamiese maniere waarop ons weer terugploeg tot dié gemeenskappe,” sê Brits.
Sy vertel voorts dat hierdie projek aanvanklik sy oorsprong gehad het in ʼn geskiedkundige oorsig van die Afrikaanse media, maar dat dit gou duidelik geword het dat die inhoud nie tot een enkele publikasie beperk sou kon word nie. “Dit klink dalk na ʼn oordrywing, maar hierdie projek is eintlik die lewenstaak van iemand wat ʼn koerantman in hart en siel is. In ʼn sekere sin is dit dan ook die produk van iemand wat sy lewe aan die joernalistiek gewy het,” sê Brits.
Die publikasie, waarvan die eerste drukoplaag 150 kopieë groot is, kan teen R310 op Die Winkel aangeskaf word. Kyk gerus hier na foto’s van hierdie geleentheid.



Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.