Nuwe dekaan vir Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Gepubliseer op: 2 Junie 2025

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde verwelkom op 1 Junie 2025 prof. Johnnie Hay as nuwe dekaan. Hy volg in die voetspore van prof. Gawie du Toit wat as die instelling se nuwe Wes-Kaapse kampushoof aangestel is.

Prof. Hay meen onderwys is in wese ʼn edel beroep en verteenwoordig die hartklop waarvandaan ander dissiplines, beroepe en waardes voortspruit. In die lig hiervan beywer hy homself tesame met passievolle en toegewyde onderwyslui van dwarsoor die land vir uitstekende onderrig.

Van kliniese sielkundige tot psigososiale onderwyskenner

Professor Hay, ʼn boorling van die Oos-Kaap en jarelange Vrystater en Noordwester, bevind homself sedert 1997 in die akademie en is ʼn bewese kenner op die gebied van psigososiale onderwys. Hy het sy loopbaan as ʼn kliniese sielkundige begin, maar gou tot die roepingsbesef gekom dat hy na die onderwysveld hunker. Ná ʼn paar jaar as praktiserende sielkundige in Bethlehem het hy homself as ʼn opvoedkundige sielkundige bekwaam en óók sy doktorsgraad in dié spesialisarea voltooi met ʼn studie oor die funksionering van psigososiale hulpdienste.

As opvoedkundige sielkundige was prof. Hay vir ongeveer sewe jaar werksaam in multidissiplinêre spanne verbonde aan kinderleidingklinieke in Bethlehem en Welkom waarna hy homself tot die akademie gewend het. In die aanloop tot sy aanstelling by Akademia was prof. Hay die direkteur van die Skool vir Psigososiale Onderwys by die Noordwes-Universiteit (NWU). Hier het hy ʼn span van 66 personeellede oor vyf dissiplines, naamlik opvoedkundige sielkunde, vroeëkinderontwikkeling, lewensoriëntering, leerderondersteuning en bewegingsonderwys, gelei. Oor die bestek van sy akademiese loopbaan was hy ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die voormalige Vista-universiteit.

ʼn Nuwe beroepsuitdaging

Volgens prof. Hay verteenwoordig sy aanstelling by Akademia ʼn besonderse loopbaanhoogtepunt, en is hy opgewonde daaroor om voort te bou op die grondslag wat reeds vir die fakulteit daargestel is. “Ek volg die instelling se uitbreiding en gemeenskapsimpak al vir ʼn geruime tyd, en staan telkens in verwondering oor die dinamiese groei en gepaardgaande gehalte,” sê prof. Hay. Hy voeg by dat dit vir hom lekker is om nou óók deel van dié span te wees en só die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te kan dien.

Hierdie diensbaarheid kry volgens prof. Hay gestalte in die vorming van vakkundiges wat teorie en praktyk naatloos kan integreer. Hiermee saam kombineer diesulke onderwysers (en Akademia-alumni) op innoverende en veerkragtige maniere hul ervaring, kennis en onderrigpraktyke om effektiewe leer te bewerkstellig. Laasgenoemde rus dan ook leerders toe om hul plek in die wêreld te begryp.

Oor sy nuwe hoedanigheid as dekaan meen prof. Hay dat hy dié nuwe rol met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid benader. In die lig hiervan is hy veral verbind daartoe om ʼn gunstige werksomgewing vir sy kollegas te skep waarin hul selfs met méér passie en toegewydheid hulself met die vorming van studente kan besig. ʼn Derde strewe wat nouliks hiermee verband hou, is die uitbouing van die fakulteit as ʼn baken van hoop en kundigheid wat die opleiding van Suid-Afrikaanse onderwysers betref.

“Ek koester die droom dat Akademia se Fakulteit Opvoedkunde waarlik ʼn voorkeurstudiekeuse én gepaardgaande akademiese tuiste vir die gemeenskap sal wees. Binne hierdie milieu sal nie net voornemende onderwysstudente kan floreer nie, maar reeds gevestigde lede van die onderwysomgewing óók toekomsgedrewe hoop kan skep,” sluit prof. Hay af.

Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, meen dat Akademia bevoorreg is om prof. Hay, met sy magdom van kennis en ervaring, as dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde te verwelkom. “Die Fakulteit Opvoedkunde is daartoe verbind om wêreldklas onderwysers vir hul groot roepingstaak te vorm, en die aanstelling van prof. Hay sal dié verbondenheid verdere stukrag gee,” sê Visser.

Prof. Johnnie Hay sal met die ingang 1 Junie 2025 die posisie van dekaan: Fakulteit Opvoedkunde by Akademia inneem.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.