Gepubliseer op: 2 Junie 2025
Emeritus professor Danie du Plessis, ʼn gesoute kommunikasiewetenskaplike, sal met die ingang 1 Junie 2025 die rol as dekaan van Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe aanneem. Hy neem dié leisels oor by prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by die instelling, wat as waarnemende dekaan op ʼn tussentydse basis gedien het.
Volgens prof. Du Plessis is dit ʼn groot voorreg om studente vir hul lewenstaak voor te berei, omdat hierdie vormingsproses die sleutel tot ontwikkeling én beskawing verteenwoordig. “Hoër onderwys het soveel méér ten doel as om bloot jong mense vir ʼn loopbaan voor te berei. Dit bied die geleentheid om studente lewensgereed te maak om as denkers en doeners die wêreld ʼn beter plek te maak en só die ganse samelewing ten goede te beïnvloed,” som prof. Du Plessis sy passie vir hoër onderwys op.
Oor sy nuwe beroepsuitdaging sê prof. Du Plessis dat Akademia se Afrikaanse en Christelike grondslag vir hom soos ʼn ware tuiskoms voel. Hiermee saam beleef hy die instelling as ʼn energieke en positiewe gemeenskap waar lede (personeel, studente en alumni) entoesiasties die toekoms tegemoet stap. “In ʼn wêreld wat soms voel asof alles agteruitgaan, verteenwoordig die instelling ʼn baken waar daar nuut gedink én gebou word. Ek is opgewonde om deel te wees van hierdie gemeenskap wat doelgerig daarna werk om die spreekwoordelike troebel waters van vorming te suiwer deur intellektuele, geestelike en etiese vernuwing,” meen prof. Du Plessis.
Die dinamiese aard van die geesteswetenskaplikeveld
Volgens prof. Du Plessis het die redusering van die geesteswetenskappe tot bloot nuttige vaardighede die positiewe rol wat dié denkrigting in die samelewing speel verwater. Met dié realiteit in gedagte is hy toegewyd daartoe om saam met die fakulteit dié tydsgees, wat onder meer ook gekenmerk word deur sekularisasie, kommersialisering en ʼn gebrek aan “gees” (om met sorg en sorgsaam te leef) te konfronteer.
Hierdie paradigmaskuif sal ʼn terugkeer na klassieke ideale en vorming tot gevolg hê, en sal gefasiliteer word deur studente te lei om kritiese en deugsame denkers te word wat met insig hul rol in die beroepslewe vol te staan terwyl hulle ook die samelewing kan help rig.
Oor die droom wat hy vir die Fakulteit Geesteswetenskappe koester, verduidelik prof. Du Plessis dat die voortsetting van opleiding van wêreldgehalte belangrik is om te verseker dat studente met kundigheid en insig toegerus word. Hierdie toerusting sal nie net ʼn roepingsbewustheid tot gevolg hê nie, maar ook waardegedrewe gemeenskapsimpak.
ʼn Betrokke akademikus in murg en been
Prof. Du Plessis het aan die einde van 2024 van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se Departement Kommunikasiewetenskap geëmeriteer waar hy as departementshoof diens gedoen het. Hy het in 1988 by dié instelling aangesluit. As dosent by Unisa het prof. Du Plessis in die volgende subdissiplines gedoseer en ook as afdelingshoof gedien: skakelwese, organisatoriese kommunikasie, reklame, bemarkingskommunikasie, navorsingsmetodologie, oorredingskommunikasie, kommunikasieteorie, mediastudies, etiek en mediabeleid. Hy was ook ʼn veelvoudige ontvanger van Unisa se Uitnemendheid in onderrig-toekenning vir sy impak as dosent.
Oor die bestek van sy akademiese loopbaan het prof. Du Plessis as studieleier vir verskeie meesters- en doktorale studies opgetree terwyl hy ook as eksterne moderator op nasionale én internasionale vlak sy kundigheid toegepas het. Hy het voorts ook as eksterne eksaminator en moderator vir kommunikasieprogramme by die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Johannesburg (UJ), die Universiteit van die Vrystaat (UV), die destydse Technikon Pretoria en verskeie ander privaat hoëronderwysinstellings diens gedoen. Gedurende dié tyd onderneem hy verskeie navorsingsprojekte en sien ʼn groot aantal akademiese publikasies vanuit sy pen die lig.
Derhalwe vir sy diens as akademikus, was prof. Du Plessis voorts aktief betrokke in bestuursaangeleenthede. Laasgenoemde sluit rolle in wat wissel van fakulteitskomitees, projekbestuur, senaatsaangeleenthede en lidmaatskap van die paneel van evalueerders van die Raad op Hoër Onderwys (RHO) ) se kwaliteitskomitee (HOKSR). As ʼn geakkrediteerde openbare betrekkinge praktisyn (APR) by die Openbare Betrekkinge Instituut van Suider-Afrika (PRISA) het prof. Du Plessis opgetree as kommunikasiekonsultant vir die privaat- en openbare sektor en is hy ʼn dienende lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).
As ʼn passievolle kommunikasiespesialis bestuur hy reeds vanaf 2011 ʼn dinamiese projek om ʼn uitgebreide woordelys vir die kommunikasiewetenskapsveld in Afrikaans en Engels saam te stel. Ongeveer 200 van die meer as 1 200 konsepte is reeds in vier ander Suid-Afrikaanse tale ingesluit. As ʼn lid van die HOKSR se paneel van programgehalte-evalueerders het prof. Du Plessis ʼn aktiewe aandeel gehad in die evaluering van honderde akademiese programme in die hoëronderwyssektor – plaaslik en internasionaal.
“Die geesteswetenskappe is belangrik omdat dit die menslike vermoë voed om te droom, te skep en die werklikheid te vorm. Die “gees” in geesteswetenskappe verwys juis na die verbeelding, na kreatiwiteit en etiese sorg – die beginpunt van beskawing, kuns en kultuur. Dit bied ʼn fondament vir ʼn samelewing wat nie nét op ekonomiese noodsaak of oorvloed fokus nie, maar eerder op betekenis en menslikheid. Sonder die geesteswetenskappe verloor ons die vermoë om te sorg, sorgsaam te lewe en hoop te koester,” sluit prof. Du Plessis af.
“Akademia is ingenome met die aanwins van prof. Du Plessis as dekaan,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling. “Met die rykdom van kennis en ervaring wat prof. Du Plessis met hom saambring, tesame met die soliede akademiese grondslag wat reeds in dié fakulteit gelê is, gaan die vorming van toekomstige geesteswetenskaplikes van krag tot krag. Ons sien nou reeds uit na die impak wat hierdie alumni gaan bewerkstellig,” sê Visser.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.