Search
Close this search box.

Dink, doen en lééf soos ʼn entrepreneur

Gepubliseer op: 16 Oktober 2024

Geskryf deur Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia

Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand! Hierdie bekende woorde van die digter C. Louis Leipoldt vul my altyd met ʼn sin van verwondering. Ons bevind onsself midde in ʼn nuwe seisoen, en die groei wat oral te bespeur is herinner ons daaraan dat groei sonder twyfel ʼn Godgegewe geskenk is. Gedurende hierdie tyd word ons ook gevul met ʼn diepe opgewondenheid oor wat voorlê, en ons dink met danksegging terug oor wat in die voorafgaande seisoen afgespeel het.

Gegewe die tema van groei, het die kalklig die afgelope tyd hier by Akademia baie op entrepreneurskap geval. Die instelling ondersteun verskeie entrepreneuriese inisiatiewe soos Besigheidsbytjies, wat op juniorpreneurs gerig is, ons eie BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie, AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar en die Maak My ʼn Miljoenêr-televisiereeks. As jy mooi daaroor nadink, dan versinnebeeld entrepreneurskap óók die konsep van groei op ʼn mooi en uiters praktiese manier.

ʼn Entrepreneur is immers iemand wat nuwe geleenthede identifiseer en benut deur kreatiwiteit en innovasie aan die dag te lê. In hierdie ontwikkelingsproses word berekende risiko’s geneem, hulpbronne effektief bestuur en raakvat antwoorde, in die vorm van dienste of produkte, geskep wat nie net behoeftes aanspreek nie, maar ook alledaagse uitdagings die hoof bied.

Elkeen van hierdie inisiatiewe waarby die instelling betrokke is, is ʼn viering van passie en dapperheid, en die deelnemers motiveer en inspireer keer op keer. Entrepreneurs, van watter ouderdomsgroep ook al, lewer ʼn getuienis van hartstog, deursettingsvermoë, en doelgerigtheid. Hulle daag nie net op nie, hulle maak ʼn impak as werkskeppers en rentmeesters – en dit boonop in Afrikaans!

Ons is wel nie almal bedrewe en voltydse entrepreneurs nie, maar ons kan beslis elkeen die vaardighede wat met entrepreneurskap gepaard gaan in ons daaglikse lewe toe pas. Hierdie vaardighede sluit onder meer in:

  • Neem berekende risiko’s

Dit verg waagmoed om iets nuuts aan te pak, en méér nog om die regte dinge te doen as dit maklik is om eerder die maklike of populêre uitweg te kies.

  • Bestuur jou hulpbronne soos ʼn rentmeester

Neem verantwoordelikheid vir die hulpbronne wat aan jou toevertrou word. Wend dit op só ʼn manier aan dat dit ook vir jou nageslagte betekenisvol kan wees. Vra jouself ook voortdurend af of jy verhoudinge, as ʼn belangrike hulpmiddel, uitbou of eerder leeg tap en slegs vir eie gewin aanwend?

  • Bou onverpoosd aan waarde

Waarde word toegevoeg deur individue wat tot ander mense se lewens en hul gemeenskappe bydra. Gee jy terug en leef jy in aktiewe verbondenheid tot jou gemeenskap en professionele netwerke? Vra jouself daagliks af of jy waarde tot die mense om jou se lewens toevoeg.

  • Onderskei jouself en wees onmisbaar

Wend ʼn daadwerklike poging aan om jou fisiese en emosionele groei te prioritiseer, lê volharding aan die dag en streef daarna om werklik die beste weergawe van jouself te wees. Die Here het jou uniek geskape, en die gemeenskap kan beslis by dié uniekheid baat.

  • Ploeg terug

Die gesegde lui nie verniet dat jy moet blom waar jy geplant is nie. Steek ʼn hand van hulp uit en moenie net daarna uitsien om te ontvang nie. Jou diensbaarheid is jou gemeenskap se grootste hulpmiddel.

Soos die jaar na sy einde snel, wil ek jou aanmoedig om soos ʼn entrepreneur aan te hou ywer. Moenie wag vir volgende jaar, ʼn beter werk of ʼn groter bankbalans nie. Doen wat jy kan dáár waar jy jouself bevind, wees die verskil wat jy in die wêreld wil sien, en leef daagliks in diepe afhanklikheid van jou Skepper.

Mareli Swanepoel, bestuurder van institusionele projekte en ondernemings by Akademia – wat Die Winkel en die koffiewinkel Sowel As insluit – meen elkeen van ons kan ʼn blaadjie uit die boek van ʼn entrepreneur neem en só meer doelbewus lééf.