Leef én beleef Fontie-wees voluit – ʼn Terugblik op die studente-ervaring van gister

Gepubliseer op:  3 Oktober 2025

Eenmaal ʼn Fontie, altyd ʼn Fontie! Óf jy nou ʼn huidige Akademia-student óf ʼn alumnus is, hierdie bekende gesegde ontketen eweneens ʼn gevoel van geborgenheid. En meer nog: enigiemand binne hierdie verbondenheidsmilieu sal jou dit toedeel dat die instelling se bruisende studentelewe enig in sy soort is.

Lindy du Preez, lid van Akademia se alumni-komitee en voormalige voorsitter van die studenteraad (SR) vir die 2020/2021-termyn, is dit eens dat studentwees inderdaad die beste tyd van ʼn student se lewe uitmaak. Gedagtig aan die instelling se jaartema, Afrikaans en tuis, meen Du Preez dat studenteleierskap binne hierdie konteks die studentweeservaring selfs verder verdiep en ʼn bykomende vormingsgeleentheid verteenwoordig.

Vyf jaar ná haar ampstermyn as voorsitter kyk sy terug op haar leierskapsreis, en deel sy waardevolle advies met huidige Fonties en studenteleiers.

Klein in getalle, groot in passie en toewyding

Du Preez vertel dat alhoewel haar leierskapspan klein was, hulle toegewyd en passievol was oor die instelling se studentelewe en die toekomstige impak wat dit sou hê. Ten spyte daarvan dat dié leierskapsgroep hulself te midde van ʼn wêreldwye pandemie moes bewys, het hulle volgens Du Preez daarin geslaag om lewenslange vriendskappe te smee en die handjievol studente saam te bind.

Gedurende dié ampstermyn het Akademia sy voltydse kampusmodel aangekondig en in 2021 suksesvol bekendgestel. Du Preez en haar medestudenteleiers, wat almal op daardie tydstip via die nauurse afstandsmodel hul studie aangepak het, moes hard werk om ʼn betrokke studentegemeenskap te help vestig. Laasgenoemde was egter nie ʼn onbegonne taak nie, omdat Fonties toe reeds met entoesiasme deelgeneem het en as’t ware pioniers die georganiseerde studentelewe help vestig het. “Dit vul my met ongelooflike trots en dankbaarheid as ek na vandag se Fontie-ervaring kyk en weet dat ons destyds reeds gehelp het om hierdie gesonde grondslag te lê,” sê Du Preez.

Sy vertel dat die koronaviruspandemie haar en haar span gedwing het om kreatief met hul beplande studenteaktiwiteite om te gaan. Terugskouend is sy egter bly dat hulle ondanks die streng nasionale gebeurlikheidsregulasies tog ʼn gevoel van gemeenskap kon vestig. “Dit wys jou net weer, wanneer daar met passie en entoesiasme aan ʼn gedeelde droom gebou word, is die uitkoms altyd positief,” meen Du Preez.

Hoogtepunte te kies en te keur

“As ek terugkyk oor daardie ampsjaar dan bokspring my hart behoorlik,” sê Du Preez en voeg by dat sy en haar medestudenteleiers vele hoogtepunte op hul kerfstok het.

Een van die grootste hoogtepunte was die toevoeging van Fonties vanuit beide die instelling se onderrigleermodelle tot die studentelewe-ervaring. Voor 2021 was slegs die nauurse afstandsmodel beskikbaar, en het die voltydse kampusmodel vir ʼn nuwe en selfs meer dinamiese wisselwerking gesorg.

Du Preez was self aan die begin van die termyn by die destydse Bellville-sentrum ingeskakel. Sy onthou hoe Fonties ʼn jaarlikse afsluitingsbraai saam geniet het en hoe dié tradisie ʼn hoogtepunt op die destydse kalender was. Vriendskappe wat op hierdie manier gesmee is, is vandag nog sterk gevestig. Sy het later gedurende haar studiereis na Centurion verhuis en kon eerstehands ervaar hoe inisiatiewe soos die Akademia-stapklub ontwikkel het.

Sy vertel dat dié klub aanvanklik ʼn virtuele stapinisiatief was, wat vandag só ontwikkel het dat deelnemende Fonties saam staptoere dwarsoor die land aanpak. Dieselfde geld vir die instelling se aksienetbal, wat vandag nie net baie gewild is nie, maar ook hoogs kompeterend meeding. In die lig hiervan nooi sy ander alumni uit om hulself van die verskillende klubs en inisiatiewe te vergewis en om steeds op hierdie wyse by hul alma mater betrokke te wees.

Gevorm tot diensbaarheid en impak

“Vorming is soms ʼn uitdagende proses, maar die waarde wat dit vir jou inhou mag nooit onderskat word nie,” verduidelik Du Preez. Sy onthou dat hulle destyds behoorlik aan die spreekwoordelike diepkant ingegooi is, maar in die proses ongelooflik gegroei het – nie net as leiers nie, maar ook as goedgevormde lede van die gemeenskap. “Ons het geleer hoe om as ʼn span saam te werk, hoe om strategies te beplan en ook hoe om doelwitte tot uitvoering te bring. Terselfdertyd is ons ook toegerus met belangrike sagte vaardighede en kennis om toekomsgerigte verskilmakers te wees,” sê Du Preez.

Sy voeg by dat haar Fontie-ervaring haar lewe onmeetlik verryk het. “Ek was vroeër geneig om in my dop te kruip, maar danksy my Akademia-ervaring het ek myself beter leer ken en ontdek dat betekenisvolle verhoudings werklik die siel voed,” meen Du Preez.

Leef en beleef

As dit kom by huidige en selfs toekomstige Fonties is dit vir Du Preez belangrik om deelname aan die georganiseerde studentelewe aan te moedig.

“Wanneer jy jou tyd en energie gee, sal jy soveel meer ontvang. Jou hele wese word gevul met aspekte wat ewigheidswaarde vir jouself en jou gemeenskap ontsluit. En die beste van alles is dat die studentelewe jou die platform bied vanwaar jy nuwe dinge kan ontdek, jou passies kan uitleef en jouself waarlik kan leer ken,” verduidelik Du Preez.

Du Preez meen verder dat deur die studentelewe-ervaring te leef en te beleef Fonties doelbewus aan hul ondersteuningsnetwerk bou. Sy herinner Fonties daaraan dat ons as mense mekaar nodig het om nie net ons lewens voller te maak nie, maar ook om drome uit te bou en die ware, die goeie en die skone saam te kan vier. Hierdie ondersteuningsnetwerke rig nie net jou lewe nie, maar sal jou dra in tye van nood en saam met jou feesvier in tye van sukses en groei,” sê Du Preez.

Van een leierskapsgroep na ʼn ander

Du Preez deel graag haar drie belangrikste leierskapslesse wat sy as SR-voorsitter geleer het, met huidige Fonties.

  • Jy het nie ʼn titel nodig om ʼn leier te wees nie.
  • Wees teenwoordig en neem met oorgawe deel. Minder is soms meer, en ʼn oorvolprogram spreek nie noodwendig tot toegevoegde waarde nie.
  • Fokus op uitkomste, maar moenie verhoudinge laat skipbreuk ly nie.

En as dit kom by die nuwe SR-voorsitter, Marzé Becker, dan laat Du Preez haar met die volgende stukkie raad: “Onthou, benewens al die take wat voltooi moet word, dat jy ʼn span bekwame en toegewyde Fonties lei. Maak tyd om egte vriendskappe te bou, haal diep asem, en geniet die oomblikke waarvoor julle so hard werk. Verhoudings is net so belangrik soos die resultate wat julle bereik”.

Lindy du Preez, lid van Akademia se alumni-komitee en voormalige voorsitter van die studenteraad (SR) vir die 2020/2021-termyn, is dit eens dat studentwees inderdaad die beste tyd van ʼn student se lewe is.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.